Showing posts with label voëls. Show all posts
Showing posts with label voëls. Show all posts

Saturday 1 August 2015

'n Jaar van genade

'n Hele jaar is verby. Driehonderd-vyf-en-sestig en 'n kwart dag. 'n Jaar sedert ons die skrik-nuus gekry het: Chris het longkanker. In ons kleingeloof het ons krag gekry. Elke dag. Elke uur. Elke minuut. Die Here het ons vasgehou, ons gelei, ons gedra. Dwarsdeur elke drif en diepte, elke slaggat en sloot. Hy het Sy liefde en sorg oor ons uitgegiet en ons versterk.
En hier is ons nou met harte wat oorloop van dankbaarheid. Laasweek het Chrisjan sy eerste ordentlike haarsny gehad. Toe die Pakistani die knipper bokant en agter sy ore instoot, val daar hope hare op die vloer. Niks snaaks nie, maar vir ons 'n wonderwerk. Verby is die kaalkopdae. My man het weer hare! Hare wat blink in die son, hare wat gekam kan word. Skuinspaadjie, soos hy wil.

O ja, hy is nog swakkerig. En o ja, ek is nog steeds die vetter ene van ons twee. Ek moes mos eet om sterk te bly. Al was daar dae wat ek nie honger was nie. Hy kon nie, nie altyd nie. Daar was dae wat hy niks kon inkry nie. Maar nou kan hy. Hy eet die gesonde groentesop, die saggekookte hoendervleis, die broodjie-met-gouda op, hy eet alles wat ek vir hom aandra. Wonderlik is dit as hy sê:"Dit was heerlik!" En die kos bly binne. 'n Voordeel het uit al die nadele tevoorskyn gekom: ek het weer leer (lekker) kosmaak. Regtig.

Daar was weke in wit hospitaalbeddens, drips en kateters en swart susters, dokters wat verduidelik en mense wat bemoedig, dertig en nog baie meer dae van heen-en-weer ry Pretoria toe en terug. Nou is dit alles verby. Juig aarde juig!

Soggens as die winterson dooierus op die plaveisel langs ons huis vat, stap Chris buite rond, hy gaan saam Pick & Pay toe, hy koop self ons vleis by Kwaliteit Slaghuis, hy trek sy eie geld by die kitsbank al gaan dit sukkel-sukkel. Sy hande is nog dood, sy hak pyn, soms skiet einapyne deur sy bene. "Dit moet nog van die chemogif wees!" Ek smeer room aan en vryf sy dun bene. En ons bid sommer so heeldag tussendeur. Geduldig wees is 'n goeie ding.

Buite ons slaapkamervenster hang 'n voerplankie vir die voëls. Elke dag kom kleur janfrederik ons dag in. Die ou groot kransduiwe laat die plankie kantel, dan val die meelwurms op die grond, waar jantjie dit oppik. Goudgeel vinke en bontrugwewers, vaalgrys muisvoëls, 'n bottergatjie, klein glasogies en mooi bloedrooi houtkappers is almal deel van ons geveerde vriende. As Chris daar in die lekker warm bed lê, het hy 'n skouspel om na te kyk. Gratis en goed.  'n Presentjie reguit uit die hemel.

Môre verjaar my liefman. Die kinders kom kuier. 'n Naweek vol blydskap en dankbaarheid. 'n Lewe om te vier! Dankie Here. Dankie, dankie.


Monday 3 March 2014

Foto's van my voëltjievriende

As mens lief is vir iets, moet jy dit doen. Moenie uitstel nie. Doen dit net! Deel dan dìt wat jy geniet  met die hele wye wêreld. Ons leef nie meer in die tyd van handsentrales of kapstokke wat in die gang hang nie. Ons leef nie meer in die tyd van briewe skryf en stadige pos nie. Ons leef nie meer in die tyd van bokskameras en foto's wat ten duurste ontwikkel en twee weke voor gewag moet word nie.

Kom ons geniet die internet en alles wat dit bied, digitale kameras, selfoonfoto's, e-posse....kom ons maak gebruik van al hierdie dinge wat net een muisklik ver van ons af is.


Ek is totaal verlief op foto's neem. Van lankal af. Ek weet ek gaan nooit moeg word daarvoor nie, dis beter as melkkos op 'n koue wintersaand, dis lekkerder as stap-langs-die see, dis heerliker as huistoe kom nà 'n lang vakansie. Foto's neem is wonderlik. Geniet saam met my die foto's van geveerdes wat ek in ons tuin en op verskillende plekke in ons lieflike land geneem het.

'n Tiptol. Klein met 'n donker koppie en kuifie, geel onderstertdekvere. Word ook soms "bottergat" genoem.


'n Swartkeelgeelvink. Baie klein, lief om naby die water nes te maak.

My gunstelingduif, 'n rooiborsduif. Klein, kaneelkleur aan die bokant, aan die onderkant gryserig pienk met diep rooibruin op die bors. Sagte, borrelende koer-geluide.

Vreedsaam. 'n Tortelduif. Geluid: "Koe-koerdoek!"

'n Seldsame en taamlik skaars kuiergas in ons tuin: rooikophoutkapper. Helder karmosyn, met 'n breë swart kraag rondom, rug is vaalgrys, skagvere het geel rande, pensie is vaalgeelblekerig. "Toeoeoe, kolletoeoeoe, kolletoeoeoe!" roep hy.


Geelvink op die perskeboomtak. Wydverspreid van die hoëveld tot ver in Namibië sal jy hom aantref.

Kransduif kom vat 'n slukkie...
Meduimgrootte, 'n baie algemene standvoël, wydverspreid. 

So sierlik swem die swaan. Swane is voëls van die familie Anatidae, wat ook die ganse en eende insluit. Hulle is die grootste van al die watervoëls. (Wikipedia)

Swael. Hou van boomveld, klipperige heuwels en berg grasveld. 

Skoorsteenveër. Groot, oorwegend wit, pluime op die rug, kaal nek en lang, krom snawel. 


'n Miksterbyvanger.  Klein, blinkswart gevurkte stert, redelik lank. Roep: harde gepiep en getweng.


Monday 12 August 2013

Toe word dit 'n stokperdjie

Power Shot SX40 HS. Ja, dis die naam van my geliefde kamera en lewenslange metgesel. Ek onthou so goed die dag toe ek my heel eerste kamera van spaargeld kon koop. Dit was 'n Kodak Brownie en ek het toe gedink ek is 'n koningin om so-iets wonderliks te kon besit.
 
Jare daarna het ek selfs geld verdien met foto's neem hier in my tuisdorp. Kinders, grootmense, honde en katte. Dit was lank voordat digitale kameras die aarde getref het. Ek het die films by die naaste apteek ingegee om te laat ontwikkel, dikwels in sepia vir meer effek. Toe was dit al 'n taamlike duur stokperdjie, maar tog was dit groot lekkerkry.





Die kinders op die foto's hierbo is lank reeds grootmense, maar ek dink hulle onthou ook nog ons lekker en verbeeldingryke spelery soos gister.  

Deesdae is dit 'n heerlike uitdaging om die voëls in ons tuin af te neem. Gelukkig kan 'n mens nou-se-dae 'n duisend foto's neem sonder om vir almal hoef te betaal. Hoe meer ek dit doen, hoe meer leer ek. Ek weet dinge wat ek voorheen gladnie geweet het nie.

Elke dag bring sy eie verrassings. By die agterdeur, aan die perske- en appelkoosboom se kaal stamme, hang ek dennebolle vol grondboontjiebotter en voëlsaad. Ek skil my lemoenskille lekker dik af sodat daar ook iets oor is vir die kraalogies en tiptolle.
 
 
Hoe heerlik!
Ek het hierdie interessante wenk by 'n vriendin geleer:
Remember the birds in winter
 
 
 
Tiptol / bottergatjie
 
 
'n Kakelaar, 'n knapie wat nie sommer stil sal sit en glimlag vir enige kamera nie!
 
 
Songeel sit hy en soek sy saad.
 

My mooiste mossiekind!
 

 
Kransduif klou, want hy weet wat lekker is....

Hoe bevoorreg is ek nie om tyd te kan hê om dié dinge te doen wat my so naby aan die hart lê en hoe lekker is dit nie om dit dan met die wêreld te kan deel nie!

Monday 21 May 2012

Swartoogtiptollies

'n Bottergatjie en sy maat
sit op ‘n tak en stories praat
hul ma sal nou-nou kossies bring
en fluit-fluit liedjies sing

So veilig en beskut sit dié twee daar
ek ek kan net nie ophou staar:
hoe lieflik tog is die natuur
in hierdie sagte skemeruur

Elizabeth Kendall ©


(Afrikaans: Swartoogtiptol
German: Graubülbül
French: Bulbul des jardins
Dutch: Grauwe buulbuul)

Thursday 10 May 2012

My siel se maat


Nes voëls in vrye vlug

wat swenk en swaai deur bloue lug,

of blare aan ‘n boom,

‘n somermiddag loom

en lou,

só hou ek vas

aan jou

en alles só bekend,

‘n klimop teen die muur

en by die agterdeur ‘n akkedis,

wat méér as net tevrede is,

goudgeel vinke in die ou karee

waar drie lysters vrolik “Goeiemôre” skree,

waar mossies by die waterbak

sit spat en speel,

’n warm sonstraal steel


vandag gaan ek net ek wees

en jy net jy,

lewensbly


Elizabeth Kendall ©