Showing posts with label Here. Show all posts
Showing posts with label Here. Show all posts

Friday, 16 October 2015

Hoe sê mens dankie

Gaan jy en Laura nie meer Aardklop toe nie?” vra sy gesels-gesels toe ek haar in die dorp raakloop. “Nee, ons was so lanklaas daar,” antwoord ek doodgewoon.

So in die terugry huis toe onthou ek die Aardklop-toe-gaan-dae. Die opgewondenheid. Die heerlike vertonings, die baie mense, die vrolike sang, die tamatiesous en kitskos by die baie stalletjies, Potch se bome, die koshuiskamer wat ons gedeel het, die plekke waar ons tee gedrink en gekuier het. Dit was wonderlik.

“Nee, ons gaan nie meer Aardklop toe nie, ek gaan Pick en Pay toe en poskantoor toe en vandag gaan ek en Chrisjan Klipeiland Slaghuis toe,” praat ek met myself in die kar. Tye verander. Dinge verander. Lewensomstandighede verander. Ook in Laura se lewe. In elkeen van ons se lewe verander dinge. Net die onthou bly.

Gistermiddag kry ek ‘n e-pos van my liewe nig van Alberton. Ek het so min familie oor. Ek koester dié wat ek nog het. Sal ek vir haar van my rubrieke stuur waar ek vertel het van Chris se stryd teen kanker. Sy vra so mooi. Sy wil dit met hul predikantsvrou deel. Ek gee nie om om te deel nie. Dis mos ‘n voorreg. En as iemand my woorde wil lees, is dit ‘n soliede stuk genade: ‘n Sagte sonstraal uit die hemel wat my dag verlig. Ek stuur vir haar ‘n paar daarvan. So in die uitsoek na dié geskrifsels, val my oog op die woorde. Woorde wat vertel van seer en swaar. Woorde wat praat oor geloof en uithou en moed en hoop. Veral hoop.

En skielik besef ek weer van vooraf: ons God van hemel en aarde het ‘n wonderwerk in my en Chris se lewe laat gebeur. Laas jaar dié tyd was die opdraendes steil en die pad klipperig en vol diep dongas. Nou loop ons al amper gelykpad. Al dra hy steeds ‘n slingerverband om sy linkerarm. Al kry hy so warm daarmee dié tyd van die jaar. Hy doen sy oefeninge. Vinger-en armstrekke, skouer-en handbewegings, oop en toe, oop en toe, swaai soos ‘n pendulum. Ontspan. Ontspan. Elke week fisio toe. Eina. Moedhou. Vasbyt. Toe hy ‘n jongman was, het hy berge uitgeklim, om rugbyvelde gehardloop, uit helikopters gespring. Nou hou hy een gesonde hand bo-oor ‘n hand met twee “dooie” vingers, twee treë vorentoe en strek. Twee treë agtertoe. Ontspan. My liefste Chrisjan.

Nooit gee hy moed op nie. Nooit hoor ek hom kla nie. Dikwels lag ons saam oor simpel goed. Gereeld verlustig ons ons in die eenvoudige en mooi om ons: die eerste rose nà die winter, ‘n perfekte pienk kaktusblom, die honde se eiesoortige maniere, die duiwe se aanhoudende sang in die boomtoppe.

Dwarsdeur agtien chemosessies, dertig bestralings, nog tien voorkomende breinbestralings, ‘n operasie om sy slukderm te rek, ‘n skouer en elmboog-operasie om vasgeklemde senuwees los te maak. Dwarsdeur alles klou ons vas aan twee lewensbelangrike dinge: geloof en hoop. Ons bid. Ons glo. Ons wéét ons is nooit alleen nie. God dra ons. Dag nà dag nà dag. Hy abba ons, Hy troos ons, Hy help ons. Hy het ons lief. Ons kry dit reg. Een dag op ‘n slag.

Ons gaan nie meer Aardklop toe nie. Ons gaan ook nie Bosveld of Timbaktoe of Kaap toe nie.  Nie op die oomblik nie. Maar vandag gaan ons slaghuis toe en ons gaan maalvleis en skaaptjoppies en wors en wat nog koop en ons gaan huistoe kom met groot dankbaarheid in ons harte, want Chris kry weer makliker gesluk, sy kuif lê weer mooi, sy glimlag maak my hart so bly. Die herstelpad is ‘n lang pad. ‘n Saamlooppad. Hoe sê mens dankie? Ek weet nie.  Ons sê dit net. “Dankie Here!”


Wednesday, 13 August 2014

Dis die lewe.

11 Augustus 2014.
My Pa het altyd gesê die lewe is nie 'n piekniek nie. Dis asof ons marionette in ‘n poppespel geword het. Trek dié toutjie, dan maak ek so. Trek daai toutjie, dan maak ek sus. Meganies. Op elke stukkie nuwe ervaring reageer ons sonder om té veel te dink. Dink is skielik nie meer so lekker nie. Slaap is lekker. Wegraak. Onbewus wees. Onbewus van jou worsteling, jou stryd, myne.
Besig wees is ‘n antwoord. Maar wat van jou? Jy kan nie nou besig wees nie. Jy is net. En daar buite wag die wêreld vir niemand nie. Die son kom op. Die son gaan onder. Dis nuustyd, ontbyttyd, middagete, aandete. Kos proe na niks.
Ek hou jou hand in myne. Ek bid vir jou vir ‘n rustige nag. Ek bid dat God jou moet genees. As Hy wil. Jou klere word al groter. Jy word al kleiner. Die siekte hang oor jou soos ‘n onweerswolk. Dis in jou bene, jou arms, jou hele lyf. Die dokter sê dis net op jou long. Jou regterlong. Kanker. ‘n Skrikmaakwoord van altyd af.  ‘n Bangmaaksiekte.
Mense bel of stuur boodskappe. Baie vra vrae. Ons antwoord uit die dokter se mond. Ons sê die woorde op soos ‘n resitasie. Onkologie. Chemoterapie. Bestraling. Siklus. Bloed trek. Biopsie. Party mense stuur Bybelversies op whattsapp of facebook. Die min familie wat oor is, vou ons toe in hul omgee. Ou vriende van lankal word weer splinternuut. Kennisse stel belang, bemoedig. Vreemdes bid. Alles troos. Elke klein gebaar van omgee en liefde word vasgegryp en gedeel. Dankbaar.
As ‘n nuwe dag begin, vul Hy ons harte met nuwe hoop. In die tuin begin die eerste tekens van ‘n nuwe seisoen. Lente. Uitbundig lag ligpers gesiggies in die pot. Ek spuit die vaal gras nat, maak die voëls se waterbakke vol. ‘n Snik ruk deur my lyf, kloof my hart. My liefste Chris.
12 Augustus 2014. Vandag word Liesl geopereer. My Bokkiekind. Ses minute jonger as haar tweelingboetie. Ses minute kan soms so ‘n groot verskil maak. Tumor in die spinale koord. Vandag se bult is steil, maar die Here help ons tree vir tree. Ek weet dit net. 
Toe jy vanoggend opstaan, lyk jy beter. Nie gesond nie, net beter. Beter as gister. Ek maak vir jou roereier met stukkies skaapvleis in. Jy eet alles op. Ons hou hande vas as ons bid. Ons bidwoorde vlieg  partymaal sommer so sonder koers die dag in. Gedagtes met vlerke. Hoop hou nooit op nie.
Die whatsappgroep wat John en Liesl begin het om almal op hoogte te hou van haar vordering,  is bedrywig. Kort-kort pieng my foon. Toe sy uiteindelik uit die teater is, is ek dankbaar en verlig. Toe John ‘n foto stuur van haar, jubel my hart. Prys die Here, die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Vanmiddag maak ek kos. Een koppie rys, twee en ‘n halwe koppie water, ‘n knippie sout, ‘n bietjie botter. Vier stukkies steak in die pan, groente in ‘n ander kastrol. Ek maak die groente te gou gaar. Die rys prut nog. Totaal uit oefening met die kosmakery, maar ek sal leer. Hoeveel jaar is dit nie nou al dat jy my bederf het en ek nooit aan kosmaak gedink het nie? Amper twee dekades. Dis net ‘n kwessie van goeie tydsberekening, sê jy geduldig.
(Hy eet weer alles op, sê my kos proe lekker. My gentleman.)
Laatmiddag sit ons rustig en rooibostee drink onder die appelkoosboom. Die honde speel naby ons, knibbel  en lek aan mekaar. Ou Hagar gooi sy swart Labradorpoot oor Brakkies se worshondlyfie. Liefdevol, beskermend.