Dis warm. En
stil. Ek lê op die dubbelbed in die rondawel en kyk na die houtbalke, voel die
koelte van die grasdak. My gedagtes vat sommer pad.
Ou Swarthond
lê in die sand langs die rondawel. Hy het vir homself ‘n holte daar gegrawe ,
lekker knus en minder warm as op sy kombers. Hy pas my op. Werk ek voor in die
kamer waar die rekenaar is, rig hy hom in langs die groen klimopblare wat die
hele voorste muur van ons ou huis toerank. Hy lek sy pote skoon, lê met sy kop
op die sement. Tevrede.
Wat hou die
toekoms in? Ons weet nie. Om vandag te geniet is die belangrikste. Om gister se
herinneringe te koester, is ‘n toedraaigeskenk uit God se Hand. En op hierdie
hoekerf waar die akkerboom voor in die straat op aandag staan en honderde
herinneringe in sy dik stam opgaar, hier waar die moerbeie swart en soet in
trosse hang wanneer Oktobermaand aan die voordeur klop, hier waar die ana- en
kareebome hul sagte skadu’s oor ons skouers gooi……in hierdie toegerankte huis
lê hope herinneringe.
Hier was ek
‘n kind. Hier was ek ‘n jongmeisie. Hier
het ek ‘n vrou geword. My ouers se spore lê hier, my oorlede broer, my sussie. Tussen hierdie mure het ek al emmers vol trane gestort, gelag , gesels, gehoop, gedroom, gebid. Gelééf in oortreffende trap ja...
Ek was die
middelkind. Saam met my Ouboet albaster en giffie gespeel en Cor Dirks se Uile boeke
gelees of die Skatkis Deel 1 verslind. Hy kon só lag as ek bang geword het
wanneer hy “Die Mensvreter” daaruit voorlees met die nodige stembuigings en
nuanses. Saam met Kleinsus pop gespeel, sywurms versorg, Saartjie Baumann en
die Maasdorpreeks gelees, Stories van Rivierplaas. Saam met maats springmielies geëet bo-op die
pompkamer se dak, tou gespring, vye gepluk, geskiedenis lê en leer op die
grasperk. Soggens wanneer Fanus Rautenbach se Penniefluitjie Kwêla speel op my
fiets geklim en skooltoe gery…….waar lê daardie jare nou?
(So om en by een-en-twintig jaar oud....)
Dié huis het
al dikwels metamorfoses ondergaan. Na my egskeiding meer as twee dekades
gelede, laat verf ek die dak pikswart,
die mure spierwit. Heelwat later kom daar genadiglik weer kleur in my lewe en
verander die huis se voorkoms elke paar jaar.
Binne verander ons ook baie: haal die matte uit, skuur die plankvloere
glad en blink. Ons restoureer ou meubels, hang helderkleurige prente oral teen
die mure, foto’s van kinders en
kleinkinders. Ons huis lewe. Die bome word al groter en meer skaduryk, daglelies
en rose blom en bloei, die litroos trek ‘n bloedrooi somersrok aan…. geheel die
tuin word ‘n kuierplek, ‘n rustige hawe, ‘n groen stilhouplek en lafenis vir
elke dag. Elke jaar kook ek appelkooskonfyt, maak perskeblatjang, deel vrugte
uit aan vriende.
Die voëls
kom kuier by die fontein wat Chris en die kinders een jaar vir my gegee het op
my verjaarsdag. ‘n Koel stroom water spoel voortdurend uit ‘n groot pot tot
binne-in ‘n klipdammetjie. Heerlik is dit om daar te sit en droom, die vrede in
te drink, te luister na die duiwe se gekoer-koer of die mossies se tjierie-tjierie
tjirpgeluide. En soms, as jy gelukkig is, die kakelaars bo in die boomtoppe te
hoor roep.
Partymaal
wens ek Pa of Ma kon net gou kom inloer en kyk hoe lyk dit nou. Sou Ma tog nie
die tuin geniet het nie! En ek hoor al Pa se stem: “Sussa, julle het dit so
mooi gemaak. My ou doggie is agtermekaar. “ As hy vir my só gesê het in my
jonkweesjare toe Die Lewe nog so vreesaanjaend gelyk het, het ek sommer weer sakke vol moed
gehad vir wat ookal voorlê. ‘n Mens vergeet nooit jou ouers nie. Nooit.
My kinders
is nou almal grootmense. Ek het hulle een vir een in hierdie huis grootgebid en
van hier af uitgestuur na die wye wêreld om hul eie paadjies te loop. Hoe baie
maal het ons nie weer heerlike saamkuiers belewe onder die moerbeiboom langs
die braaivleisplek of gesellig aan die eetkamertafel nie. Op sulke tye sorg
Chris vir heerlike potjiekos of skaapribbetjie of ander wonderdisse wat hy kan
optower. Wat ‘n voorreg is dit nie vir my om ‘n man te hê wat lief is vir kosmaak
nie!
Toe ons nuwe
bure gister intrek, maak hy vir hulle spaghetti bolognaise en ek maak ‘n bak
gesonde slaai. Ons doen dit uit pure blydskap, want die huurhuis het leeg
gestaan vir ‘n maand. Dis so lekker om ons soort mense daar te kan hê, ganse van
dieselfde dam. ‘n Seëning van Bo.
Ons droom om
in die Bosveld te gaan aftree is nog lank nie begrawe nie.Ons huis is steeds in
die mark. Tog besef ons dat alles op die
regte tyd gebeur, dat jou lewe nie in eie hande is nie, dat die Here jou koers
en pad bepaal. Ek het gister heerlik binnepret gehad na kerk toe ou Tannie Ann
my bemoedig met die woorde: “Los alles vir die Here. As jy Hom iets vra, dan
gee Hy dit vir jou. Hy hoor, Hy is nie doof nie!” Daarom is dit lekker om nog tuin te maak, VLU
beplannings te doen vir volgende jaar, gesellighede en funksies by te woon in
die dorp of by die kerk en elke dag se menswees te geniet.
Wie weet,
volgende jaar hierdie tyd bewandel ons dalk grasgroen Bosveldpaadjies, neem foto’s van
rooikophoutkappers in mopaniebome, sit saans by ‘n hardekoolvuurtjie en sien soggens
die son goudgeel en vlammend agter die bome uitloer om sag en warm op ons te
skyn. Sonskyn in genadestrale. Maak nie saak waar jy jou op aarde bevind nie. Dis
altyd daar.