Monday, 30 September 2013

Klippetuin (vervolg)

Maandag, 30 September 2013.
 
Nouja, soos belowe en beplan, kon ek toe vandag aangaan met my "klippetuin". Ek kon eers elf uur begin en het aangehou tot ek klaar was. Ek en my getroue ou Jacob. (nie die een van  "Ampie" nie... )
 
Nietemin, ons het heelwat verrig. Terwyl ek gou Donkerhoek se kant toe gery het om my kleinmense weer terug te gaan besorg aan hulle Mamma, het Jacob al die wit klippe op die werf uitgesoek en in die kruiwa gelaai. Hy het ook  buite die klein hekkie al die kleiner klippe uitgehaal en sommer terselfdertyd mooi skoongemaak daar. Nou lyk ons ingang sommer weer vrolik en vaartbelyn.
 
Onder die appelkoosboom begin dit al beter en beter lyk. Ons sit 'n pot met woestynrosies vol  lieflike geel blommetjies aan die sonkant van die boom neer. Die hope bruin klippe word sommer langs die plat, geles neergelê met rye wit strepe tussen-in vir interessantheid.

 
Die vier "stepping stones" was eers by die voorhekkie. 
 
 
 
Ek sleep 'n kleipot met kruie daarin nader en maak dit staan langs die gebreekte stukke potskerwe.....en kry sommer 'n rilling al langs my ruggraat af van pure lekkerte oor die heerlike aardsheid daarvan!
 

 
Toe wag daar 'n verrassing vir my tuinman. Ons beweeg weg van die appelkoosboom en gee al ons aandag aan 'n oorgroeide vetplanthoekie wat in die jaar toet laas aandag gekry het. Die lieflike gladde spoelklippe wat ek toe gekoop het, lê almal begrawe onder die grond. Jacob haal van die plante uit en maak die grond los met sy vurk. Janee, nes ek gedink het! Daar kom hope mooi klippe uit, glad en rond. Hul winterslaap is vir ewig verby.



Al hierdie plante gaan nou-nou weer netjies terugkeer aarde toe en ek glo hulle gaan voortaan sielsgelukkig wees.
 
 
 
 Kyk hoe mooi skoon is dit nou, sommer splintenuut.
 

Nêrens kon ek egter nog van daardie gepunte, hoekige klippe kry om die blok onder die boom vol te maak nie, maar dit was nie regtig so 'n groot probleem nie. Die plat klip met die ronde een wat soos 'n pot en sy deksel bymekaar pas, was ideaal om in die oop spasie neer te sit, knus langs die gladde swartes wat lyk asof hulle lê en hande vashou. In my gedagtes het ek al klaar gesien hoe kom Geelvink en sy vrou daar water drink.
 
 
Daar was oorgenoeg mooi bruines om oral langs die kleipot in te pak.
 
 
En so het die eindresultaat gelyk! Ons agtertuin kan nou maar kwalifiseer as voortuin of wat dink jy?
 
 
En die vetplanthoekie het ook sommer gaaf gelyk met sy nuwe baadjie aan.
 
 
My broodboom floreer langs die laventel en tussen die woestynrosies.
 
 
 
Tuinmaak is wonderlik. Elke dag wat ek kon tuinmaak in my lewe, was vir my 'n mooi dag, 'n geseënde dag, 'n dag waarin ek skatryk gevoel het. Vandag was so 'n dag. En ek sê dankie.


Op die stomp lê ses wit skulpe, tevrede. Hulle is deel van die tuin nes die klippe, die potskerwe, die dennebolle, die stompe. En as ek by hulle verbyloop, kyk ek na hulle met sagte oë. Hulle maak my hart bly en my tuin warm en vriendelik. 'n Hawe, 'n tuiste, 'n huistoekomplek so lank as ek lewe.

Saturday, 28 September 2013

Niemand gaan klippe kou nie!


27 September 2013.  Wat ‘n heerlikheid op aarde is dit tog nie om, noudat dit weer warmer is, in die tuin te kan vroetel nie! Gister was so ‘n dag. Ek het gewag  vir my kinders wat van Engeland en die lughawe af sou kom. Vanselfsprekend kon ek  van pure opgewondenheid nie vir een oomblik stilsit nie. Ek moes net iets konstruktiefs vind om myself mee besig te hou.

Soos julle almal weet, ‘n tuin het voortdurend aandag nodig . Daar is maar altyd iets wat verander, geskuif, uitgehaal, omgespit, skoon geskoffel, natgemaak of sommer net geniet kan word.  Altyd.

Ek het onlangs die mondogras wat “swaar trek” (soos my Ousie sou sê) onder die appelkoosboom, laat uithaal. Om elke dag na dié dapper, onsuksesvolle groeipoging en agteruitgang te kyk, was net nie meer ‘n plesier nie. Ek en ou Jacob het dit toe op ‘n ander meer geskikte en sonniger plek geplant en was heel in ons skik daarmee.

My liewe klein worshond, Brakenjan, kon sy oë nie glo toe hy die yslike stuk aarde sien waar hy nou na hartelus kan grou en grawe nie....en niemand raas eers nie. Sy jagtersinstink het totaal oorgeneem en binne ‘n dag of twee het dit erger as ‘n omgeploegde land gelyk. Ek het besef ek sal ‘n plan moet maak, maar wat? Niks wil eintlik daar groei nie.
‘n Goue oomblik het aangebreek toe ek onthou hoe baie klippe in hierdie erf van ons lê. Klippe wat ek gekoop, gekry of wat vir my aangery is. Klippe wat  saam met my getrek het uit ander provinsies, iewers ingesmokkel omdat dit spesiale betekenis vir my het. Klippe wat my hart en tuin vol lê.  Baie van hierdie skatte lê egter tans weggesteek onder geilgroeiende vetplante of struike. ‘n Tuin staan mos nie stil nie.
 

Tussen stekerige dorings en vetplante grawe ons ‘n hele klomp van hierdie hoekige, gepunte klippe uit en pak dit onder die appelkoosboom. En net daar neem my verbeelding oor. Ek maak al die gladde, gestreepte Letsitele-klippe (by Chris se broer present gekry toe hulle Pretoria toe verhuis het)  bymekaar en pak hulle soos bruin broodjies langs die puntklippe.
 
Toe gaan haal ek my tweelingklippe. Lange jare gelede het Wilhelm en Liesl, skaars baksteenhoogte, elkeen vir hul Ma ‘n yslike klip aangedra waar ons iewers by die see vakansie gehou het omdat hulle toe al geweet het. Ek het hierdie twee taamlik groot, witterige klippe seker noual bykans agt-en-twintig jaar lank in my tuin(e). Waar ek gaan, gaan hulle ook. My lewenslange metgeselle, nes Rut se skoondogter.
 
Die uitpak van die verskillende kleure en vorms klippe is ‘n yslike lekkerte. Speel-speel word dit al mooier.  Jacob raak net so begeesterd soos sy “Oumies” en kom met ‘n kruiwavrag geelbruin en donkerder, plat klippe van buite af aan. Ek trek twee strepe vir hom en beduie hy moet dit tussen die strepe inpak, so goed en mooi as wat hy kan.
 
Hy doen sy bes, maar is kort-kort  buite sy “spergebied”....geduld help gelukkig en ek wys hom weer.  Toe hy dit snap, geniet hy dit amper meer as ek. En ek moet sê, ek is heel beïndruk met sy inisiatief en vindingrykheid. Ons loop ‘n draai deur die tuin en tel al die wit klippe op, pak dit in lyne en vorms. Ag dis lekker.
 
Iewers op ‘n dag het een van my kleipotte gebreek en ek het die gebreekte stukke sommer oral rondgestrooi, die patrone daarop was mooi vir my en buitendien het dit as goeie grondbedekkers gedien. Ons pak hulle soos  legkaartstukke langs mekaar. Kyk net!
 
Kort-kort was ek hande, hou die hekkie dop. Wanneer kom die kinders tog nou? Teen half twaalf is ek lyfseer van al die gebuk en gebuig. Ek loer na Jacob. Hy lyk ook nie meer so energiek soos toe ons begin het nie. Toe roep ek halt.
 
Maandag sal ons aangaan en ek gaan beslis nie klippe koop nie. As ons ons oë oopmaak en mooi kyk, gaan ons genoeg in hierdie tuin kry om al die vorms vol te pak. Boombas gaan ook nie werk nie, want “Meneertjie” gaan dit opkou. Brakkies is juis so lief vir die dennebolle wat oral rondlê. Gelukkig hoef ek nooit Pick & Pay se kougoed vir klein hondjies te koop nie...
 
Toe die kinders twaalfuur met wye glimlagte by die hekkie injubel, vergeet ek al my stywe spiere. En toe kuier ons eers! Daar moet nog heelwat klippe ingepak word voor ons kan sê ons is klaar, maar Rome is ook nou nie in een dag gebou nie. En sover lyk dit darem al na besigheid, of wat dink jy? Natuurlik is jy ook welkom om my nog meer idees te gee. Onthou net ons het honde wat wil kou.
(Word vervolg)

Thursday, 19 September 2013

Overvaal Kongres 2013 by Ou Meulstroom.


Dit is die vyf streke van Overvaal. (Nie "eregaste" nie!) In totaal vanjaar was daar op dag een amper-amper 180 VLU lede. ‘n Wye verskeidenheid van vroue wat almal entoesiasties en ywerig is om dit waarna die VLU streef, uit te leef nl. “om geleenthede tot verruiming aan vroue te bied en hulle toe te rus om ‘n positiewe bydrae tot die ontwikkeling van die gemeenskap en land te lewer.” SAVLU
 Van Riebeecktak is weer eens gekies om die rekwesitespan  te wees. Ek en my vriendin Mara vertrek Donderdag die 10e van Bronkhorstspruit af en ry die 40 km. na Ou Meulstroom, al geselsende. Nou het ons tog bietjie tyd om te kuier! Ons dek die hooftafel wat eintlik drie tafels langs mekaar is. Marie Bester wag ons in asook Kowie Snyman. Vele hande maak ligte werk!
 Ek bewonder die lieflike borduurwerk op die tafeldoek. Dit moes lank geneem het om so ‘n kunswerk te kon skep. Ons rol die dik plastiek bo-oor die kosbare tafeldoek uit. Dan pak ons die hope lêers en sakke op die stoele. Elke streek s’n apart, almal bymekaar. Dit neem ‘n hele tydjie om alles mooi georden te kry.
Die Overvaal vaandel pryk ook daar naby. Vir dié wat graag wil weet wat die simboliek  van alles is, verduidelik ek sommer gou:
Vrou: Voete plat op die aarde –nederigheid.
Pot: Sy beskik oor kennis en deel dit graag met ander. Saai: Vooruitgang. Hare: Ons behoefte om uit te reik na ons lede, ons mede-landsburgers en gemeenskap. Die hare wat waai simboliseer ook die wye veld wat deur ons studierigtings gedek word. Blom: Provinsie se nasionale blom, maar ook Eenvoud en skoonheid. Diamante: baie verskillende fassete in ons organisasie nl. gehardheid, glans, kosbaarheid, suiwerheid. Kleure: Rooi-warmte, Groen- rustigheid, Blou- kalmte, ruimte, Goue draad- saambindende faktor. Ook simbolies van rykdom uit ons provinsie, vooruitstrewendheid.
 
Leon van Nierop is ons Skrywer van die Jaar. Nà sy boeiende praatjie verkoop sy jongste boek Plesierengel soos soetkoek. Ons geniet elke woord wat uit sy mond kom. Hoe geseënd is die veteraan-skrywer nie. Inspirasie op sy beste. Op sy facebookblad skryf hy op 12 September: En vandag het ek met die VLU - dames gepraat naby Bronkhorstspruit. So 'n gulhartige, warm ontvangs het ek in g'n jare gehad nie. Die warmte en vriendskap het my eintlik omgeslaan. En al die Plesierengel-romans wat daar was het letterlik binne 10 minute uitverkoop. Was dit nie vir sulke lesers nie, was skrywers soos ek nie daar nie.”
Dit was ‘n voorreg om Leon van Nierop te kon ontmoet en na sy wonderlike stories te luister.
Heerlik was dit om Lapa se kleurvolle boekuitstalling te bekyk en die wêreld te vergeet terwyl daar na hartelus rondgesnuffel en geblaai is.
 Net die heelbeste werk word op Kongres uitgestal. Hier is ‘n paar voorbeelde van brei-, hekel- en naaldwerk wat deur vlytige vingers  gedoen is.




Yolande Steenkamp van Van Riebeeck se wasgoedpennetjiesak, so mooi.
Die grys-en-rooi-swart kniekombers is deur Van Riebeecktak se visie-voorsitter, Sally Ferreira, gehekel. Daar was heelwat ander inskrywings ook van ons tak se talentvolle lede, almal pragtig! 
Ek kan dit maar net staan en bewonder. En weer en weer bewonder. Talente onbegrens.
Jy is nie sonder talente gebore nie! Begin om weer te droom, begin om weer te doen wat vir jou lekker is en wat jy geniet. Jou gawes sal vir jou plek maak op die regte tyd. Doen alles wat jy doen asof jy dit vir die Here doen; jy sal verbaas wees om te sien waar en wanneer God besluit om jou talente te gebruik tot eer van Sy Naam. Daar is geen einde aan wat jy vir God kan doen as jy begin om te woeker met jou gawes nie!  Manna Tydskrif Blog


 
Daar was baie om te sien: lieflike juwele soos o.a. varswater pêrels, armbande en wat nog alles. “Gij sult niet begeren!”
Voor in die saal pryk die mooiste proteas. ‘n Kuns om dit so te kan rangskik....
 
Elza de Bruyn is die presidente van Overvaal. Dis die eerste keer dat sy as presidente optree. Kalm en vriendelik. Om na haar te luister en te ervaar hoe sy elke situasie met waardigheid en selfvertroue hanteer, is werklik ‘n inspirasie.
 Een van ons sprekers was Eunice van der Merwe. Sy beklemtoon weer dat elkeen ten volle toegerus is om ‘n bemagtigde vrou te wees.
“Your pain becomes your power.”
“Your mess becomes your message.”
LIEFDE is die HELE wêreld se GROOTSTE WAPEN
 
Ina Booyse word as nuwe vise-president verkies. Ons is almal saam met haar bly!
 
Gedurende die afgelope jaar het Overvaal negentien lede aan die dood verloor. Daar word kerse aangesteek. Ons gedagtes gaan uit na hulle wat deur hierdie verlies geraak is.
V.l.n.r. : Jolanda Smit (Sekretaresse), Petra Maritz (skakelbeampte), Meisie Kotze, Yolande Steenkamp en Elizabeth Kendall (Voorsitter) ,  die vyf lede van Van Riebeeck (Bronkhorstspruit) wat die kongres kon bywoon. Wat ‘n voorreg!
 

Tussen-in was daar genoeg tyd om die natuurskoon by Ou Meulstroom te bewonder of soms net stil te raak.
Ons “eie” Dawie de Jager se sang en musiek het natuurlik weer baie hartsnare geraak en ons besonder trots laat voel.
Hier kuier lede van verskillende takke heerlik saam.

Tafels is keurig gedek en daar was oorgenoeg heerlike kos!
 Toe dit aand word, hou ons konsert en lag baie. So lekker om so te kan ontspan en deel te voel van al die pret!


Daar was ‘n heerlike voorlesing deur Leonie Potgieter van Wapadrant.
Verskillende modes is op skreeusnaakse wyses uitgebeeld, daar was heelwat sangitems en verder net pure plesier!

 Corné Gaspar van Roodepoort, Witwatersrand ontvang ‘n trofee vir uitstekende werk, ‘n spesiale prys!  Ons het haar by die Winterskool ontmoet en was dit nou lekker om haar weer te sien. So word heerlike vriendskapsbande onderling tussen VLU-lede gesmee.
Bo teen die balk by ons chalet kom kondig ‘n swaeltjie die begin van ‘n nuwe somerseisoen aan. Lieflik!
 
Toe ons huiswaarts keer, is ons batterye opnuut gelaai en ons harte vol dankbaarheid. Dis lekker om ‘n VLU-vrou te wees!