Ek wou dit gister al maak. Het klaar al die bestanddele gaan koop, maar toe ek tuiskom, onthou ek dat ek die spek vergeet het. Ag!
Hy sê toe, getrou aan sy sorgsaamheid en omgee, hy wil (en moet) dorp toe gaan. Elke keer as hy dit sê, is ek bly. Nie dat dit so opwindend is om dorp toe te gaan nie, enige-iemand kan dorp toe gaan, soveel maal as wat hy wil.
In sy geval is dit 'n egter 'n hengse prestasie. Hy bestuur self. Hy ry alleen. Hy lê nie meer hulpeloos en afhanklik op sy rug op ons bed nie. Hy word sterker by die dag. Prys die Here van hemel en aarde! Sing 'n jubellied!
Nietemin, ek maak toe dié mondwater en super-maklike gereg wat ek op Maree se blog raakgelees het, nà kerk. Hy sit onder die groenerwordende perskeboom en geniet die somerson op sy hande en arms, op sy gesig wat al meer en meer na Chris begin lyk. Nà 'n jaar en 'n maand lyk hy weer soos hy. Hoe wonderlik.