Vanoggend sit daar 'n hadida by die fontein. Die magrietjies is al besig om te groet. Vir baie mense is 'n hadida net 'n skreeubek, maar vir my is hulle mooi. Die bloedrooi lipstifstreep op daardie yslike snawel is so uniek.
Hier is baie duiwe in ons tuin. Kransduiwe mors, maar ons gee nie om om skoon te maak nie. Kyk hoe mooi blink sy oog in die rooi-en-witraam brilletjie!
Die vaatjie-kaktus in die groot pot aan die voorkant van die huis groei lustig! Ek wonder hoe groot gaan dit word en of dit my eendag gaan verras met 'n eksotiese blom.
'n Week gelede het die Pride of India nog pragtig pienk geblom, maar nou is sy tyd ook alweer verby.
En hier is ons twee hondekinders: Hagar en Brakkies, my getroue bondgenote. Tog altyd so stertswaaibly as ek buitetoe kom. Kyk net hoe glimlag hulle.
Op 'n dag skryf ek 'n vers:
Nà die reën
Die dag vlerk oop in groen akkerblare
in ligpers agapanthe onder die karee
dit rol oor die huis se dounat dak
mossietjirp deur die tuin
verby laventelbos en roosmaryn
waar dit ‘n ligblou lêplek soek
en later wegkruipertjie speel
met ‘n goudgeel
middagson
Elizabeth Kendall ©
My wens vir jou wat hier lees, is: Geniet jou tuin, geniet jou Saterdag, geniet die lewe!
Jou tuin is vir my net so mooi soos dit vir jou is Liz, aller-pragtig! En ek is net so lief vir die Kransduiwe, of hulle nou raas en mors of nie! En ek's maal oor die pragtige Hadeda's, lief dit om deur hulle wakker gemaak te word, reg vir die dag en die tuin. Ek dink herfs is al stadig op pad, so ons moet nou nog ons tuine geniet terwyl ons kan. Heerlike Saterdag (en lewe!) vir jou ook!
ReplyDeleteEk dink ook so Maree, dit raak al later lig soggens. Baie dankie vir die inloer hier en mooi kommentaar, bly jy het geniet!
Delete