So baie maal moes ek dié
vraag die afgelope ses maande beantwoord. So baie maal het ek probeer om ‘n
positiewe antwoord te gee. Ek glo daaraan om nie toe te laat dat omstandighede
of beproewings of wat ookal ‘n mens moet onderkry nie. Dat as mens positief
dink en bid en glo, dit wel beter sal word. Lees ons dit dan nie telkens weer
in ons Bybels ook raak nie: “Ek sal jou nooit verlaat nie. Ek help jou. Ek
versterk jou. Ek gee jou krag.”
Dis nou ses maande sedert daardie dag waarop ons die skrikmaaknuus gehoor het: longkanker. Daar was dae
waarop ons net asseblief en dankie kon sê. In die oggende: “Wees asseblief by
ons” en saans: “Dankie dat U by ons was.” Net een dag. Elke dag. Een dag was
genoeg. “My juk is sag en My las is lig.” Môre was weer ‘n nuwe dag. En so het
ses maande verbygegaan. Ses maande is ‘n halwe jaar.
En hoe gaan
dit nou met Chris? Chris lees weer, Chris kyk nuus, Chris loop in die tuin rond,
hy sien die rooi blomme van die miniatuur “bottlebrush” raak, hy hoor die voëls
fluit. (sy gehoor is aangetas, harde geluide maak sy ore seer) Sy hande voel
soms “dood”, snags pyn sy bene en/of sy hakskene. Hy is so maer. So broos. Hy
word gou moeg. Maar Chris eet. Sy kos bly binne. Die metaalsmaak in sy mond is
nog nie heeltemal weg nie. Hy drink steeds saam met elke maaltyd glase water en
kry die kos so sluk-sluk in. Maar hy bly maer. Malvapoeding en vla is bo-aan sy
lys van lekkernye. Salig sag gly dit
keellangs. Strelend soet en heerlik. Ek sou dit vir hom wil gee vir ontbyt,
middag-en aandete. Net omdat ek die lekkers in sy lewe meer wil maak.
Sy hare het
net mooi begin groei, toe moes hy tien
opeenvolgende en voorkomende breinbestralings kry. Van vooraf kaalkop. Weer oor
begin. Maar Chris hou moed, sy gees is sterk. Ek is so trots op hom. Hy kla
nie. Saans lees ons Bybel, soek ankers en boeie om aan vas te klou….en kry dit.
Telkens. Hoe ons daarsonder sou asemhaal, weet ek nie. As ek tranerig raak,
praat ons daaroor. As hy stil raak, hou ons uit. Hoop verdwyn net nooit. Dis
elke môre nuut.
Ons harte is
vol dankbaarheid oor ons naby-mense se omgee en liefde. Oor vreemdes en
bekendes se belangstelling, oor bemoediging uit baie oorde. Ons het geleer hoe
belangrik dit is om bly te word oor klein stukkies genade. Ons het geleer hoe
kosbaar elke dag is. Ons het geleer om mekaar meer te waardeer. Oor ‘n maand
sal ek hopelik met ‘n wye glimlag in my hart en op my mond, kan antwoord: “Dit
gaan baie goed met Chris, baie dankie!”
Ek het dikwels gedigte geskryf oor wat met ons aan't gebeure was en is. Skryf is baie maal terapie.
Draaipunt
dehidreer
urineer
diarree
hospitalisasie
rolstoel
opname
kateter
bloed trek
x-strale
broos, bleek, swak
geloof, hoop, sterk
saal 8
drup
doek
versorg
vrede
huistoe
wolke
krag -
God stuur ons eerste
somerreën
Elizabeth Kendall ©
25 Oktober 2014
Ai Liz, moenie dat die hartseer te swaar raak nie, jy weet mos ons is hier om julle te ondersteun. Ons bid saam met julle en een van die dae gaan hierdie alles net 'n vae herinnering wees. Sterkte en moed hou. xxx
ReplyDeleteDankie Maree. Ons sal moed hou. Waardeer jou. x
DeleteKom sit ek stil hier voor jou woorde. Dra julle op in ons gebede Sussa. Wens ons kon saam 'n koffietjie gaan drink en krukke-seeninge een vir een tel.Sterkte en dankie vir die deel van julle seerpad. XXX
ReplyDeleteLiewe Ri, baie, baie dankie. Daar is krag in gebede. Ja, sou dit nie heerlik wees om iewers te kon saamkuier nie. Dink ook aan jou in liefde. xx
Delete