Saturday, 25 August 2012

Na baie jare.


Ek droom. En ek pak in en ek gee weg. Ek maak minder. Dis tyd. Alles nog net in my gedagtes. En in my gedagtes begin ek ook koebaai sê.  Koebaai aan die kransduiwe, die tortels, die lagduifies. Ja, al die voëls wat daagliks hier by Krugerstraat se hoekerf kom inloer het, hul dors kom les het en dalk ook iets lekkers gekry het om te eet.

Ek sê koebaai vir my koue huis, my vier mure teen die suidewind.  Geërf van my liewe Pa. Houtvloere wat praat, stories vertel van baie kuiers, selfs skinder as tienerkinders laatnag sou  insluip. Toe kon ek met ‘n geruste hart aan die slaap raak, wetende almal is nou veilig tuis.

Sewe, amper agt  jaar lank het ek alleen hier geswoeg en gesweet en my vier kinders grootgemaak.  Die herinneringe wat hulle van hul Ma-se-huis het,  is vir altyd mooi.  Ek glo so.  Ek het my bes gedoen. Die Here het my elke dag krag gegee.  As ek moedeloos en bekommerd was, het Hy iemand gestuur om my te bemoedig. As ek alleen gevoel het, het ek Sy stem in die ritsel van die akkerboom se blare gehoor of  Sy sorg gesien in my tuin. Pienk bloeisels aan die perskeboom na ‘n koue winter, appelkose wat in geelryp trosse hang, net reg vir pluk en konfyt kook.

Hierdie huis was my vesting. Hier het ek weer vrede kom kry,  dit vasgehou en gekoester. Ek was dankbaar.  Die tuin het my besig gehou. Ek ken elke klip. Die paadjies wat ons met plaveistene gepak het, die fontein wat my verjaarsdagpresent was een jaar toe ek nog skoolgehou het, die struike, die plante wat elke winter doodryp. Kom die lente, dan ontwaak alles weer van vooraf.  Nes my eie lewe.

Ek ken die wonder van verskillende seisoene hier in Bronkhorstspruit.  Koue, koue winters en houtstompe in die antrasietstofie.  Lentes wat oopbars en bloei en bot. Herfsblare wat die hele erf vol lê.  Ou Jacob wat elke jaar aangesê word om die blare tog maar doodstil te laat lê, want dis “my blommetjies se kombers.”  Warm somers en bekers vol heerlike boorgatwater. Nêrens proe water mos soos by jou eie plek nie.

Toe Chris my man word, maak ons alles wat stukkend is, heel. My hart ook. En syne. Ons laat lê plaveisel buite.  Ons haal die matte binne uit en skuur die houtvloere blink.  Die ou vensters word vervang met houtraamvensters. Ons verf en maak mooi.  Ons woon storieboek-gelukkig in ons ou huis. Vir vyftien jaar nou al.

Maar nou droom ons. Want ons mag. Ons droom van Bosveldsomers, van kanniedood en maroela, van hardekool en bougainvillas wat persblou blom. Ons droom van ‘n splinternuwe plek, ‘n plek waar ons nuwe voetspore gaan trap. Daar waar houtkappers  en mikstertbyvangers en troupante die bome bewoon. Waar louwarm dae soos heuning vloei. Waar vars lug verniet is. En ons weet en glo ons drome gaan waar word.

 

Thursday, 23 August 2012

In woord en beeld

 
Dis my liefde vir ons taal wat maak dat daar soms verse "gebore" word. Dikwels ook lekker om dit te kombineer met iets wat ek geteken, geskilder of gekiek het. Ek plak 'n paar van my gunstelinge hier vas, hoop julle geniet dit!
 
 
 
 
Neem my saam op die sandpad,
daar waar tyd aan 'n doringboom hang
hou my hand styf vas in joune
en sê dat jy ook so bietjie verlang.
 
 
 
 

Monday, 13 August 2012

Glo net


Geloof kan berge verskuif
Geloof kan jou oplig en jou abba
Geloof is ‘n vashouplek -
 ‘n stukrag en ‘n anker
Geloof reënboog ‘n vaal dag
Geloof is krag
Geloof is  moed



Geloof het net ses letters

Geloof is goed
Geloof kom lê ‘n hand op joune
 Geloof fluister vuurwerke in jou binneste
Geloof  groei
 en  prewelbid

wanneer kleingeloof jou hele mens vol sit


Elizabeth Kendall ©

Sunday, 12 August 2012

Sondagstilte.


Ek dwaal op die digblaaie rond. Ek lees die seer van mense raak. En ook die bly. Die lewenslus, die vreugdes, die warm menswees. En in die kombuis maak hy vir ons kerrie. Die aartappels lê warmsag en prut. Die geur daarvan maak ons huis ‘n lekker plek. Oor die radio speel die heelmooiste musiek. Die tortels koer vredeverse.
En die koue winterwind het gaan lê.