Troos is ‘n vyfletterwoord -
vyf vingers aan een hand
een hand wat joune
vashou,
één warm hand wat oor
jou skouer kom vlerk
‘n toemaarkombers teen koue en pyn,
fluister vrede en
vreugde
teen elke donker deurkosyn
Daar is troos in die warm boontjiesop
wat jy vir ons maak as die koue deur die sleutelgat klouter
en teen my bene kom
opklim…
Troos lê jou oë vol
as jy my help onthou
aan al die dinge wat
ek
so vreeslik vergeet
Troos is ‘n vyfletterwoord,
‘n koesterwoord
Troos is jy
Elizabeth Kendall ©