“Dis alles
nuwe ervarings vir ons,” sê jy later op jou geduldige manier.
Nà die groot
skrik van jou onverwagse "inmekaarsak" op ons huis se plankvloer vroegoggend,
stort ook my skanse ineen. Ek lê onbeskaamd en huil langs jou.
Gister het jy
die vyfde chemo gekry, die baie medikasie van die afgelope tyd was seker net te
sterk. Toe jy opstaan, kon jy nie loop nie. Jou hele wêreld het gekantel. Ek
het probeer help, daarin geslaag om jou met groot moeite terug op die bed te
kry. Nà ‘n ruk wou jy toilet toe gaan. Voor die deur verloor jy beheer. Ons
liggame hang aan mekaar soos weerlose riete in ‘n stormwind. Ek probeer keer en
jy beur en buig. Ek bid teen jou nek, fluisterende smeekbedes. Die aarde trek
jou af, af. Ek hou my hande bak agter jou kop sodat jy nie seer moet kry nie. Jy
lê plat en hulpeloos op die vloer aan my voete. Jou oë glaserig. Die skrik wil
my versmoor. Net toe stuur die Here twee engele na my huis toe. Die
voordeurklok lui. Daar staan Sally en haar groot, sterk man. Hulle kom in, hy
tel my Chrisjan op asof hy ‘n duifveer is, sit hom sag op die bed neer.
Die res van
die dag was baie rustig. Ek het jou soos goud opgepas. ‘n Bakkie hawermoutpap,
‘n glas Ensure, ‘n koppie tee, ‘n sny sagte melktert. Die brand in jou bors
maak dat jy nog gladnie growwe kos of selfs gewone kos geëet kan kry nie. Dis deels
ook toe te skryf aan die chemo, sê Carin wat dié klipperige paadjie ook al
geloop het. Hoe bemoedigend om met mense soos sy te kan praat, mense wat wéét
van vrese en worstelinge wat gepaard gaan met kanker.
Toe dit
skemeraand raak, hou ek my lyf Florence Nightingale, versorg jou naels, hande
en voete, jou tenger lyf. Wit Dove seep. Sag. Louwarm water in ‘n enamel
skottel, ‘n groen handdoek onder jou. Lyfroom en hakskeenroom. Aanrol onder jou
arms. Jou blou T-hemp, blou soos jou oë. Blou soos God se hemel.
Ek het buite
langs die fontein gaan sit, na die honde gekyk wat op die gras speel. Gebid. ‘n Hanna-in-die-tempel-bid. Trane en woorde gemeng. God se liefde en Sy vrede het my weer krag
gegee.