Vir vier dae lank kan jy die roep van 'n kolgans by die watergat of 'n bosveldfisant op 'n miershoop joune maak. Jy kan kyk hoe die nonnetjie-eende skinder-skinder rivier toe waggel en wikkel, hul vere blinkbruin, skitterend in die son. As 'n troppie tarentale met hul blou nekke en rooi hoede kruiwawiel by jou verbyskarnier waar jy onder die huilboerboon se skadu in die kamp staan of teen laatmiddag na die naaste waterpan toe ry om te gaan kyk wie almal dors is, dan weet jy hoe diep jou liefde vir jou land lê. Dan gaan jou oë oop en jy kyk nuut en jy weet meteens hoe kosbaar 'n lewe is, 'n oomblik, 'n uur.
Langs die grondpad speel die meerkaaie en staan nuuskierig regop as jy tydsaam verbyry, hul voorpootjies vroom oormekaar gevou. 'n Renoster speel taxi vir 'n klomp rooibekvoëltjies en wei ongesteurd in die lang gras, sy bonkige bene en inmekaargevlegte boudspiere bebloed van 'n vroeëre bakleiery. Olifante pluk bondels blare van die naaste boom af en prop dit krulslurp in hul kieste, hul groot ore soos tentflappe waaiend langs hul koppe. Wanneer die bul wegstap, lyk hy soos 'n groot ou oom wie se pajamabroek agterlangs afsak, voue en plooie oor die bene.
Snags hoor ons die leeus brul naby die kamp, 'n oergeluid wat tot diep in jou menswees beroeringe bring. Die vuur by die braaivleisplek gesels knetterend saam, die geel vlamme lek-lek mekaar: gesellig, gemoedelik, genot. Jou geselse word woordelose verwondering
oor alles en almal om jou in die natuur, alles wat so sag op jou hart kom lê en jou sommer skielik 'n beter mens laat voel. Die smaak van rooiwyn op jou tong en in jou mond is beter as ooit tevore en jy wens die dag wil nooit opraak of klaarkry nie.
En ry jy soggens baie vroeg uit op 'n wildrit as die dag nog in sy donker kombers toegedraai lê, voel jy die opwinding van 'n kind teen jou ruggraat afgly, want dis hoog sit en ver kyk vir drie ure lank. En al is die luggie knyp-koud teen jou wange en traan jou oë teen die windjie in, brand 'n vuur van blydskap in jou binnekamers oor die heerlike vooruitsig. Wanneer die leeus dan skielik sommer net hier langs die voertuig verskyn en met geelblink oë na jou opkyk, weet jy nie dadelik watter knoppies jy eerste met bewende, gewillige hande moet druk op jou kamera nie.
Behalwe die diere wat elkeen sy eie bekoring het: 'n vlakvark met slagtande wat woeslik orent staan, 'n kringgat wat boude en blaaie wys, 'n kameelperd met groot, sagte oë, 'n koedoebul met horings triomfantelik trots, 'n eekhoring wat nuuskierig na ons hut se deur van 'n naby-boomtak af loer, 'n seekoei wat sy lyf suinig onderwater hou……..behalwe al hierdie wonderwerke, was daar ook die bome en die voëls. 'n Visarend, 'n vleiloerie en 'n valk…..'n lalapalm, 'n lekkerbreek, 'n knoppiesdoring en 'n haak-en-steek. Om net hul name te fluister, is al klaar genoeg…..
Ons sielsbatterye is gelaai, ons harte is lig want iewers tussen dagbreek en skemer, tussen lang gras of onder yslike ou koeltebome, het één seker wete ons wese gevul: God is almagtig, Sy handewerk vervul ons met ontsag. Ons harte bons van vreugde!