6 Aug. Gistermiddag het ons onder die kaal perskeboomtakke gesit.
Dun vingers wat in die lug rond gryp bokant ons koppe.  Ons het gepraat oor “wat as” en “waarheen” .
“Ons moet daaroor praat,” het jy ernstig gesê.  Ek het my trane weggevee en geluister, al wou
ek nie. 
Vanoggend lees ons saam Psalm 23: “Al gaan ek ook in ‘n dal
van doodskaduwee, ek sal geen onheil 
vrees nie, want U is met my.” Ons hou hande vas. Ons bid. Ons weet ons
is nie alleen nie. Dié wete is ‘n krag-inspuiting, ‘n anker, ‘n troos. 
Nà elke winter kom die somer. Mag ons sààm nog baie somers
beleef. 

 
