Monday 19 November 2012

Tyd.


 

Dis warm. En stil. Ek lê op die dubbelbed in die rondawel en kyk na die houtbalke, voel die koelte van die grasdak. My gedagtes vat sommer pad.
 
Ou Swarthond lê in die sand langs die rondawel. Hy het vir homself ‘n holte daar gegrawe , lekker knus en minder warm as op sy kombers. Hy pas my op. Werk ek voor in die kamer waar die rekenaar is, rig hy hom in langs die groen klimopblare wat die hele voorste muur van ons ou huis toerank. Hy lek sy pote skoon, lê met sy kop op die sement. Tevrede.
 
Wat hou die toekoms in? Ons weet nie. Om vandag te geniet is die belangrikste. Om gister se herinneringe te koester, is ‘n toedraaigeskenk uit God se Hand. En op hierdie hoekerf waar die akkerboom voor in die straat op aandag staan en honderde herinneringe in sy dik stam opgaar, hier waar die moerbeie swart en soet in trosse hang wanneer Oktobermaand aan die voordeur klop, hier waar die ana- en kareebome hul sagte skadu’s oor ons skouers gooi……in hierdie toegerankte huis lê hope herinneringe.  
 
Hier was ek ‘n kind. Hier was ek  ‘n jongmeisie. Hier het ek ‘n vrou geword. My ouers se spore lê hier, my oorlede broer, my sussie. Tussen hierdie mure het ek al emmers vol trane gestort, gelag , gesels, gehoop, gedroom, gebid. Gelééf in oortreffende trap ja...
Ek was die middelkind. Saam met my Ouboet albaster en giffie gespeel en Cor Dirks se Uile boeke gelees of die Skatkis Deel 1 verslind. Hy kon só lag as ek bang geword het wanneer hy “Die Mensvreter” daaruit voorlees met die nodige stembuigings en nuanses. Saam met Kleinsus pop gespeel, sywurms versorg, Saartjie Baumann en die Maasdorpreeks gelees, Stories van Rivierplaas.  Saam met maats springmielies geëet bo-op die pompkamer se dak, tou gespring, vye gepluk, geskiedenis lê en leer op die grasperk. Soggens wanneer Fanus Rautenbach se Penniefluitjie Kwêla speel op my fiets geklim en skooltoe gery…….waar lê daardie jare nou?
(So om en by een-en-twintig jaar oud....)  

Dié huis het al dikwels metamorfoses ondergaan. Na my egskeiding meer as twee dekades gelede,  laat verf ek die dak pikswart, die mure spierwit. Heelwat later kom daar genadiglik weer kleur in my lewe en verander die huis se voorkoms elke paar jaar.  Binne verander ons ook baie: haal die matte uit, skuur die plankvloere glad en blink. Ons restoureer ou meubels, hang helderkleurige prente oral teen die mure,  foto’s van kinders en kleinkinders. Ons huis lewe. Die bome word al groter en meer skaduryk, daglelies en rose blom en bloei, die litroos trek ‘n bloedrooi somersrok aan…. geheel die tuin word ‘n kuierplek, ‘n rustige hawe, ‘n groen stilhouplek en lafenis vir elke dag. Elke jaar kook ek appelkooskonfyt, maak perskeblatjang, deel vrugte uit aan vriende.


Die voëls kom kuier by die fontein wat Chris en die kinders een jaar vir my gegee het op my verjaarsdag. ‘n Koel stroom water spoel voortdurend uit ‘n groot pot tot binne-in ‘n klipdammetjie. Heerlik is dit om daar te sit en droom, die vrede in te drink, te luister na die duiwe se gekoer-koer of die mossies se tjierie-tjierie tjirpgeluide. En soms, as jy gelukkig is, die kakelaars bo in die boomtoppe te hoor roep.

 
Partymaal wens ek Pa of Ma kon net gou kom inloer en kyk hoe lyk dit nou. Sou Ma tog nie die tuin geniet het nie! En ek hoor al Pa se stem: “Sussa, julle het dit so mooi gemaak. My ou doggie is agtermekaar. “ As hy vir my só gesê het in my jonkweesjare toe Die Lewe nog so vreesaanjaend  gelyk het, het ek sommer weer sakke vol moed gehad vir wat ookal voorlê. ‘n Mens vergeet nooit jou ouers nie. Nooit.

 

My kinders is nou almal grootmense. Ek het hulle een vir een in hierdie huis grootgebid en van hier af uitgestuur na die wye wêreld om hul eie paadjies te loop. Hoe baie maal het ons nie weer heerlike saamkuiers belewe onder die moerbeiboom langs die braaivleisplek of gesellig aan die eetkamertafel nie. Op sulke tye sorg Chris vir heerlike potjiekos of skaapribbetjie of ander wonderdisse wat hy kan optower. Wat ‘n voorreg is dit nie vir my om ‘n man te hê wat lief is vir kosmaak nie!


 Toe ons nuwe bure gister intrek, maak hy vir hulle spaghetti bolognaise en ek maak ‘n bak gesonde slaai. Ons doen dit uit pure blydskap, want die huurhuis het leeg gestaan vir ‘n maand. Dis so lekker om ons soort mense daar te kan hê, ganse van dieselfde dam. ‘n Seëning van Bo.


Ons droom om in die Bosveld te gaan aftree is nog lank nie begrawe nie.Ons huis is steeds in die mark.  Tog besef ons dat alles op die regte tyd gebeur, dat jou lewe nie in eie hande is nie, dat die Here jou koers en pad bepaal. Ek het gister heerlik binnepret gehad na kerk toe ou Tannie Ann my bemoedig met die woorde: “Los alles vir die Here. As jy Hom iets vra, dan gee Hy dit vir jou. Hy hoor, Hy is nie doof nie!”  Daarom is dit lekker om nog tuin te maak, VLU beplannings te doen vir volgende jaar, gesellighede en funksies by te woon in die dorp of by die kerk en elke dag se menswees te geniet.


Wie weet, volgende jaar hierdie tyd bewandel ons dalk grasgroen  Bosveldpaadjies, neem foto’s van rooikophoutkappers in mopaniebome, sit saans by ‘n hardekoolvuurtjie en sien soggens die son goudgeel en vlammend agter die bome uitloer om sag en warm op ons te skyn. Sonskyn in genadestrale. Maak nie saak waar jy jou op aarde bevind nie. Dis altyd daar.

 

 

 

 

Thursday 1 November 2012

Net één dag in die Bosveld

Een dag in die natuur, één heerlike dag waarin 'n mens jou kan verlustig in die lieflikhede om jou: die kameeldoringbome, die kierieklappers, die kanniedood....of met oorgawe kan luister na Piet-my-vrou se amper-eentonige lied vroegoggend as die son tussen die bosveldbome deur beur.

 
'n Dankiebly kom lê sag in jou hartkamers....nie net oor jy kan sien en alles om jou geniet nie, maar ook omdat jy 'n klein bietjie begin verstaan dat 'n mens se geluk grootliks afhang van hoe jy na die dinge om jou kyk.

 
Vroegoggend is vir my die heerlikste tyd van die dag....dan lê die wêreld onder 'n sag-kombers en stilte praat fluisterstem oor damme water en tussen groen bome deur.
 
 
Sulke tye is kosbaar. Sulke tye is noodsaaklik. Sulke tye is geskenke uit God se hand.
 
 
"Moenie julle kwel oor julle lewe ... Kyk na die voëls van die hemel ... Let op die lelies van die veld ..." (Matt 6:25-34).
 
 
Na die milde reën van die afgelope weke is die veld 'n aanskoulike prentjie.
Ligrooi blommetjies van die akasiabome is oral te siene.
 
 
Perspienk rank die bougainvilleas oor heinings en tussen boomtakke deur.
 
 
'n Soetdoring spieel homself in 'n plas water...
 
 
Alles is vir my mooi... ook die spierwit, skerp dorings van dieselfde soetdoringboom...
 
 
 
of die droë peule en sade wat bokant my kop aan die takke wieg en waai...
 
 
Ek hoor my oorlede Pa se stem in die Bosveldvrede om my. Ek sien die saam blywees in my man se oë.
 
 





My "Dankie!" klink klein en onbelangrik, maar ek wéét Hy hoor dit.
 

 
 
 
 
 
 
 
 
 

Friday 12 October 2012

Reënverse en vreugdes

 

 
Vars
 
Daar's druppels op die drumpel
en duiwe op die dak
'n mossie tjirp-tjirp vir sy maat
in die Sondagstilte van ons straat
gesiggies lag ligblou in die tuin
tussen blare groen en geel en bruin...
'n nuwe dag, so vars en skoon
laat dankies in my hart kom woon
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
So betyds
 
Slierte reën, ja strome van seën
het op die aarde neergeval
en elke dorre kraak
en droë sloot
verander in 'n
modderdam, 'n poel,
'n nat-nat klei
wat mens tussen
jou vingers kon vat en brei
en so die grond se geur kon inasem,
die groen hoor groei
en sien hoedat 'n
droë boom weer bloei
en in jou maat se oë weer lees:
die vreugde van 'n vrolik'
najaarsfees
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
 
Nat.
 
Dit reën sopnat waternat sousnat reën
reën dit in die straat
en oor die groen, groen bome
die rose, die magrietjies, die wilde knoffel,
reëndruppels spat en klets en praat
teen die ruite
buite,
oor die dorp, die winkels, huise, karre
mense skarrel vinnig onderdak
‘n ousie met ‘n plastieksak
buk om weg te kom van die nat
wat oral spat
en ek

sit vredig en versies skryf met jubels
in my lyf

Elizabeth Kendall ©
 
Reën
 
‘n Nuwe dag klouter nat en vars
deur oop vensters  
groen, groen en blink
lê die tuin en lekkerkry ...
stroopsoet mossies
kwetter in die karee 
en iewers ver
hoor ek ‘n hadida
sy juigkreet skree
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
Eerste lentereën
 
Vanoggend donskombers die wolke bo-oor  my 
nat blare lê die voorstoep vol 
‘n tortel trippel vinnig oor die huis se dak 
om na sy koe-koerdoekmaat te hol 
liggroen blaartjies het oornag 
oral aan die akkerboom verskyn 
ek ruik die goeie grond se klam 
die druppels op ‘n klimop-blaar 
boslelie trek haar rooi rok aan 
en staan en glimlag daar 
onder die koelte van die ou karee 
waar sonbesies later vandag 
hul versies vrolikbly sal skree
 
 Elizabeth Kendall ©
 
 


Ma-wees
Nes  ‘n  welkom  reënbui op droë grond
is suikersoet die goeie nuus
uit ‘n kind se mond,
verkwik haar siel, haar binnemens
gee blyweesklank aan elke wens
want smôrens vroeg, voor hanekraai
het sy hul een vir een geabba,
 by haar God en Here af gaan laai…
Hom gesmeek, gevra, gebid
hul skrede op die regte pad te sit,
hul hand te vat en hul te lei
tot daar waar vrede vatplek kry
en as sy dan die antwoord duidelik hoor
sing al die eng’le saam ‘n jubelkoor
want in haar klein gebed
was slegs een enkel woord heelbo:
dis die woordjie “Glo”
Elizabeth Kendall ©

 
 
 
 
 

 
 
 

 
 


Saturday 6 October 2012

Ek en ou goed


Ek weet nie hoekom nie, maar ek hou van ou goed.  Sou jy hier kom kuier, sal jy dit baie gou agterkom, want om elke hoek en draai het ek “tafereëltjies” gebou met die ou goed wat aan my en Chrisman behoort. Dis sy woord vir my talle “uitstallings.” 

Vanoggend toe ek buite staan en tuin natspuit, het ek so onder die indruk gekom van die verganklikheid van alle dinge. Laas jaar was die azalea wat ek uitgeplant het so mooi en kyk nou…die blare is vaalbruin en opgekrul. Ek gooi bietjie beenmeel by sy voete en gee dit ordentlik water. Miskien kom dit weer reg, miskien nie. Nes mense…..soms.

Ons huis is in die mark, maar nog nie verkoop nie. Iewers vorentoe wil ons begin minder maak, begin koebaai sê. Maar nog nie vandag nie. Ook nie môre nie. Om die eerlike waarheid te sê, ons weet nie wanneer nie. Ons wag maar geduldig vir antwoorde. Ons weet dit sal kom en ons glo dit sal op die regte tyd wees.

Iets wat mens nou-al in gedagte begin hou, is dat daar verseker van baie dinge ontslae geraak sal moet word. Wat maak mens tog met alles? Ek begin wonder wat gaan ek weggee en uitdeel en aan wie. Dis nie te sê dat die kinders alles wil hê wat ons nie meer wil hê nie. Hulle het hul eie smake, giere en geite. Dis nie noodwendig dieselfde as Ma of Pa s’n nie.

Hier is ‘n paar van my kosbare besittings. Elkeen van hulle vertel sy eie storie.

 
 
 
Hierdie twee skilderye is jare gelede deur my oom  gedoen, Pa se jonger broer, Oom Koos. Hy kon baie dinge met sy hande doen en ek onthou Pa het altyd vertel “Boetie” het op Potch. gaan leer, terwyl Pa, toe hy in St. 6 was, uit die skool gehaal is en vir sy Oom op die Bosveldplaas gaan help boer het. ‘n Kind van dertien. Dit het Pa net sterker gemaak, want in die “latere jare” (soos hy gesê het), is Pa ook baie geseën en het ‘n goeie lewe gehad.
 
 
Hier is ‘n foto van hom in dieselfde raam soos dit op my oorlede Ma se spieëlkas gestaan het. Toe was hy die burgemeester van die dorp.  Verby was die swaar jare van op die Spoorweë werk, vir die Jood boer, ‘n kafferwinkeltjie hê, met beeste en varke spekuleer. Hier was hy ‘n gesiene man en het respek  afgedwing waar hy ookal gegaan het. Hy was my Pa.  En aan sy sy, my mooie Ma.  Ek kon my altyd verkyk aan haar…haar mooi neus, haar blou oë, haar mooi versorgde hare. Toe sy ‘n kind was, het sy haar kunstalent ontdek terwyl sy hul eenvoudige huis se vloere met mis gesmeer het. Net daar het sy besef dit lyk baie mooier as sy met haar vingers patrone daarop maak. Sy en my Pa so saam sal vir altyd in my hart gekoester en bewaar word.
 
Hier is ‘n foto van my en my Ma. ‘n Blonde krulkopkind wat in ‘n huis vol liefde grootgeword het….wat ‘n wonderlike voorreg.
 
 
Ek het ‘n ouer broer gehad. Sy naam was Douw. Douw Gerbrand Grobler. Toe ek tien was, het ek gedink ek wil eendag my seuntjie “Gerbrand” noem. Dit het nie so gebeur nie, maar dit maak nie saak nie. Ek het ook 'n kleinsus gehad. Ek het haar nou nog. Haar naam is Marinda. Sy het haarself "Lilla" genoem en ek moes haar in haar stootwaentjie aan die slaap stoot toe sy een jaar oud en ek in St. 1 was.

Hier was ek in St. 2 en Douwa (soos almal hom genoem het) in St. 6. Daardie jaar het die Hoër- en die Laerskool saam volkspele gedoen, ek kan nie onthou hoekom nie. Ek onthou net hy was taamlik verontwaardig omdat hy my hand moes vashou vir die foto. En my Ma het gedink haar kinders lyk pragtig.  Soos Ma’s mos maar dink.

 
Waarheen gaan ek met hierdie foto’s? Ek skat ek hou dit maar by my vir altyd.
Van die ander kosbaarhede wat my na aan die hart lê is die ysterpappotjie waarin ek soms lekkers bêre as my kleinkinders kom kuier. Dit was vir my kinders ‘n wonderlike ding om jare terug dieselfde potjie se deksel op te lig in hul Ouma se huis en te loer wat daarbinne is. Nou doen ek dit ook.

 
Die ou melkkan, die swart pot waarin Chris steeds heerlike gesonde kosse maak, die outydse strykysters, die skaal en wit melkbeker bo-op die yskas. Alles vertel stories. Stories van waar dit vandaan kom en wie dit gebruik het.
 
 



Die ysterskoenlees wat teen die kombuisdeur staan. My kleinkinders weet nie wat dit is nie.  Houtkieries vir eendag as dit mag nodig raak, ‘n speelgoedlorrie, ‘n outydse skoolbank, ‘n primusstoof, ‘n silwer souspot en unieke suikerpot, ‘n rooi lantern en in die spens langs die groen blokkiesgordyn, ‘n ewe groen melkkannetjie en koekroller van hout.



Wat maak ek met al hierdie oënskynlik nuttelose aardse besittings die dag as ek moet trek en moet minder maak? Waarheen gaan ek daarmee?
 
 
 

Teen Chris se rook- en leeskamermuur hang sy seremoniële swaard. Elkeen van ons kleinseuns wat kom kuier, dink homself binne-in die hemel in as hy net vir vyf minute lank “Oupa se swaard” mag vashou. Dit dateer uit sy polisiedae toe hy ‘n jong offisier was. Toe offisiere ook nog offisiere was.


In die gang hang ‘n klerehaak met die nommer 10 daarop.  Lank gelede toe ek nog skoolgehou het en een vakansie op die ingewing van die oomblik vir my eersteling, wat toe in Duitsland au-pair het, gaan kuier het, het ek dié haak by ‘n Hollandse penvriend present gekry. Ek sê mos vir jou: elke ding in hierdie huis het sy eie storie. Hierdie haak praat Hollands.

Nic Veldsman van die eertydse hardewarewinkel op die dorp, se houtkas waarop: “Gebruik alleen Shell Motorolies” in vet, swart letters staan, is my talle houtlepels se tuiste. Die melkkan daarnaas vertel van jare terug in Amanzimtoti toe ons Dexterkoeie gehad het en daar elke oggend voor skool gemelk is.






‘n Antieke kassie waarin my Oumagrootjie se briewe gebêre word asook Pa en Ma se Kerskaartjies aan mekaar toe hulle jonk en verlief was….Chris het dié kassie vir ‘n appel en ‘n ei gekoop op ‘n kerkbasaar….pryk teen die eetkamermuur. My kinders se skoene: leerskoentjies van Jack & Jill…. ‘n kamera, die oergrootjie van vandag se digitales. En in die voorste kamer: ‘n Coca-Colakassie waarin Ouma storieboeke van vergange jare bêre vir snipsnaters wat leesgierig is.


Waar gaan ek heen met hierdie goed? Wie op aarde sal waarde daaraan heg, behalwe net ek?
En so met die fotonemery van “ou goed” hier in ons huis, roep Chris ewe uit die kombuis vir my: “Moenie my voëltjies vergeet nie!”  Ons sal nie “sy voëltjies” ooit vergeet nie. Drie pragtige waterverf-skilderytjies wat hy iewers gekoop het. Ek het dit vir hom laat raam en dit hang teen sy muur en klaarblyklik ook in sy hart.



 
Ons sal die voëltjies maar moet saamvat. My man sal nie gelukkig wees daarsonder nie.  Ek ook nie.....

Toe ek vanoggend deur die huis stap en alles met ander oë bekyk, was ek weer opnuut bewus daarvan hoe verganklik alle dinge is.

Hier was ek en my “kêrel” nog bloedjonk.  Ons het mekaar nie toe geken nie, dit het eers later in ons lewens ‘n ook ‘n storie geword, ‘n baie gelukkige storie met ‘n gawe inleiding, ‘n boeiende verhaal en wie weet….’n gelukkige einde.