Friday 12 October 2012

Reënverse en vreugdes

 

 
Vars
 
Daar's druppels op die drumpel
en duiwe op die dak
'n mossie tjirp-tjirp vir sy maat
in die Sondagstilte van ons straat
gesiggies lag ligblou in die tuin
tussen blare groen en geel en bruin...
'n nuwe dag, so vars en skoon
laat dankies in my hart kom woon
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
So betyds
 
Slierte reën, ja strome van seën
het op die aarde neergeval
en elke dorre kraak
en droë sloot
verander in 'n
modderdam, 'n poel,
'n nat-nat klei
wat mens tussen
jou vingers kon vat en brei
en so die grond se geur kon inasem,
die groen hoor groei
en sien hoedat 'n
droë boom weer bloei
en in jou maat se oë weer lees:
die vreugde van 'n vrolik'
najaarsfees
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
 
Nat.
 
Dit reën sopnat waternat sousnat reën
reën dit in die straat
en oor die groen, groen bome
die rose, die magrietjies, die wilde knoffel,
reëndruppels spat en klets en praat
teen die ruite
buite,
oor die dorp, die winkels, huise, karre
mense skarrel vinnig onderdak
‘n ousie met ‘n plastieksak
buk om weg te kom van die nat
wat oral spat
en ek

sit vredig en versies skryf met jubels
in my lyf

Elizabeth Kendall ©
 
Reën
 
‘n Nuwe dag klouter nat en vars
deur oop vensters  
groen, groen en blink
lê die tuin en lekkerkry ...
stroopsoet mossies
kwetter in die karee 
en iewers ver
hoor ek ‘n hadida
sy juigkreet skree
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
Eerste lentereën
 
Vanoggend donskombers die wolke bo-oor  my 
nat blare lê die voorstoep vol 
‘n tortel trippel vinnig oor die huis se dak 
om na sy koe-koerdoekmaat te hol 
liggroen blaartjies het oornag 
oral aan die akkerboom verskyn 
ek ruik die goeie grond se klam 
die druppels op ‘n klimop-blaar 
boslelie trek haar rooi rok aan 
en staan en glimlag daar 
onder die koelte van die ou karee 
waar sonbesies later vandag 
hul versies vrolikbly sal skree
 
 Elizabeth Kendall ©
 
 


Ma-wees
Nes  ‘n  welkom  reënbui op droë grond
is suikersoet die goeie nuus
uit ‘n kind se mond,
verkwik haar siel, haar binnemens
gee blyweesklank aan elke wens
want smôrens vroeg, voor hanekraai
het sy hul een vir een geabba,
 by haar God en Here af gaan laai…
Hom gesmeek, gevra, gebid
hul skrede op die regte pad te sit,
hul hand te vat en hul te lei
tot daar waar vrede vatplek kry
en as sy dan die antwoord duidelik hoor
sing al die eng’le saam ‘n jubelkoor
want in haar klein gebed
was slegs een enkel woord heelbo:
dis die woordjie “Glo”
Elizabeth Kendall ©

 
 
 
 
 

 
 
 

 
 


2 comments:

  1. Reën bly darem maar een van die wonderlikste dinge op aarde Liz! Kyk net hoe pragtig en skoon is jou tuin net nie! En ek's mal oor daai dammetjie van jou war die voëltjies so gereeld baljaar. Pragtige verse by hierdie mooi foto's!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Maree, ja dis 'n belewenis om die tuin so te ervaar, dit gee mens sommer woema!!Dankie vir die inloer.

      Delete