Showing posts with label geluk. Show all posts
Showing posts with label geluk. Show all posts

Monday, 19 November 2012

Tyd.


 

Dis warm. En stil. Ek lê op die dubbelbed in die rondawel en kyk na die houtbalke, voel die koelte van die grasdak. My gedagtes vat sommer pad.
 
Ou Swarthond lê in die sand langs die rondawel. Hy het vir homself ‘n holte daar gegrawe , lekker knus en minder warm as op sy kombers. Hy pas my op. Werk ek voor in die kamer waar die rekenaar is, rig hy hom in langs die groen klimopblare wat die hele voorste muur van ons ou huis toerank. Hy lek sy pote skoon, lê met sy kop op die sement. Tevrede.
 
Wat hou die toekoms in? Ons weet nie. Om vandag te geniet is die belangrikste. Om gister se herinneringe te koester, is ‘n toedraaigeskenk uit God se Hand. En op hierdie hoekerf waar die akkerboom voor in die straat op aandag staan en honderde herinneringe in sy dik stam opgaar, hier waar die moerbeie swart en soet in trosse hang wanneer Oktobermaand aan die voordeur klop, hier waar die ana- en kareebome hul sagte skadu’s oor ons skouers gooi……in hierdie toegerankte huis lê hope herinneringe.  
 
Hier was ek ‘n kind. Hier was ek  ‘n jongmeisie. Hier het ek ‘n vrou geword. My ouers se spore lê hier, my oorlede broer, my sussie. Tussen hierdie mure het ek al emmers vol trane gestort, gelag , gesels, gehoop, gedroom, gebid. Gelééf in oortreffende trap ja...
Ek was die middelkind. Saam met my Ouboet albaster en giffie gespeel en Cor Dirks se Uile boeke gelees of die Skatkis Deel 1 verslind. Hy kon só lag as ek bang geword het wanneer hy “Die Mensvreter” daaruit voorlees met die nodige stembuigings en nuanses. Saam met Kleinsus pop gespeel, sywurms versorg, Saartjie Baumann en die Maasdorpreeks gelees, Stories van Rivierplaas.  Saam met maats springmielies geëet bo-op die pompkamer se dak, tou gespring, vye gepluk, geskiedenis lê en leer op die grasperk. Soggens wanneer Fanus Rautenbach se Penniefluitjie Kwêla speel op my fiets geklim en skooltoe gery…….waar lê daardie jare nou?
(So om en by een-en-twintig jaar oud....)  

Dié huis het al dikwels metamorfoses ondergaan. Na my egskeiding meer as twee dekades gelede,  laat verf ek die dak pikswart, die mure spierwit. Heelwat later kom daar genadiglik weer kleur in my lewe en verander die huis se voorkoms elke paar jaar.  Binne verander ons ook baie: haal die matte uit, skuur die plankvloere glad en blink. Ons restoureer ou meubels, hang helderkleurige prente oral teen die mure,  foto’s van kinders en kleinkinders. Ons huis lewe. Die bome word al groter en meer skaduryk, daglelies en rose blom en bloei, die litroos trek ‘n bloedrooi somersrok aan…. geheel die tuin word ‘n kuierplek, ‘n rustige hawe, ‘n groen stilhouplek en lafenis vir elke dag. Elke jaar kook ek appelkooskonfyt, maak perskeblatjang, deel vrugte uit aan vriende.


Die voëls kom kuier by die fontein wat Chris en die kinders een jaar vir my gegee het op my verjaarsdag. ‘n Koel stroom water spoel voortdurend uit ‘n groot pot tot binne-in ‘n klipdammetjie. Heerlik is dit om daar te sit en droom, die vrede in te drink, te luister na die duiwe se gekoer-koer of die mossies se tjierie-tjierie tjirpgeluide. En soms, as jy gelukkig is, die kakelaars bo in die boomtoppe te hoor roep.

 
Partymaal wens ek Pa of Ma kon net gou kom inloer en kyk hoe lyk dit nou. Sou Ma tog nie die tuin geniet het nie! En ek hoor al Pa se stem: “Sussa, julle het dit so mooi gemaak. My ou doggie is agtermekaar. “ As hy vir my só gesê het in my jonkweesjare toe Die Lewe nog so vreesaanjaend  gelyk het, het ek sommer weer sakke vol moed gehad vir wat ookal voorlê. ‘n Mens vergeet nooit jou ouers nie. Nooit.

 

My kinders is nou almal grootmense. Ek het hulle een vir een in hierdie huis grootgebid en van hier af uitgestuur na die wye wêreld om hul eie paadjies te loop. Hoe baie maal het ons nie weer heerlike saamkuiers belewe onder die moerbeiboom langs die braaivleisplek of gesellig aan die eetkamertafel nie. Op sulke tye sorg Chris vir heerlike potjiekos of skaapribbetjie of ander wonderdisse wat hy kan optower. Wat ‘n voorreg is dit nie vir my om ‘n man te hê wat lief is vir kosmaak nie!


 Toe ons nuwe bure gister intrek, maak hy vir hulle spaghetti bolognaise en ek maak ‘n bak gesonde slaai. Ons doen dit uit pure blydskap, want die huurhuis het leeg gestaan vir ‘n maand. Dis so lekker om ons soort mense daar te kan hê, ganse van dieselfde dam. ‘n Seëning van Bo.


Ons droom om in die Bosveld te gaan aftree is nog lank nie begrawe nie.Ons huis is steeds in die mark.  Tog besef ons dat alles op die regte tyd gebeur, dat jou lewe nie in eie hande is nie, dat die Here jou koers en pad bepaal. Ek het gister heerlik binnepret gehad na kerk toe ou Tannie Ann my bemoedig met die woorde: “Los alles vir die Here. As jy Hom iets vra, dan gee Hy dit vir jou. Hy hoor, Hy is nie doof nie!”  Daarom is dit lekker om nog tuin te maak, VLU beplannings te doen vir volgende jaar, gesellighede en funksies by te woon in die dorp of by die kerk en elke dag se menswees te geniet.


Wie weet, volgende jaar hierdie tyd bewandel ons dalk grasgroen  Bosveldpaadjies, neem foto’s van rooikophoutkappers in mopaniebome, sit saans by ‘n hardekoolvuurtjie en sien soggens die son goudgeel en vlammend agter die bome uitloer om sag en warm op ons te skyn. Sonskyn in genadestrale. Maak nie saak waar jy jou op aarde bevind nie. Dis altyd daar.

 

 

 

 

Monday, 11 June 2012

Miskien het hulle tóg gehoor....

Vroegoggend lees ek hierdie mooi woorde:

“If we love our children
we must love the earth with tender care
and pass it on, diverse and beautiful,
so that on a warm spring day
10 000 years hence
they can feel peace in a sea of grass,
can watch a bee visit a flower,
can hear a sandpiper call in the sky,
and can find joy in being alive.”
- Hugh Ilitis

by my vriendin, Maree Clarkson se kunswerk: White-eye / Witogie op RedBubble.

Die afgelope week en naweek was ysbitterbibberkoud hier in Bronkies. By tye en met onderbrekings was die krag ook taamlik lank af. Ek het my opnuut verwonder aan klein dingetjies wat so baie vreugde bring ten spyte van....

Buite in die tuin het die talle voëltjies wat by die waterbak kom kuier het, vrolik voortgelewe. Die koue het hulle nie in die minste gepla nie. Ek het in die voorkamer by die venster gestaan en hulle dopgehou. Dit was telkens 'n heerlike uitdaging om 'n mooi foto te probeer neem, want die geveerdes is springlewendig. Wip-wip hier en pik-pik daar. En net as ek dink ek gaan die knoppie druk, vlieg hulle woerts-warts weg!


Die klein geelgroen glasogies is die lewendigste! Ek wens ek kon enetjie in my hande vashou "with tender care" soos die versie hierbo sê. Lieflike stukkies sonskyn op 'n koue wintersdag, dis wat hulle is.


Meneer Muisvoël met sy lang grys stert sit slaggereed om aan die woestynrosies te begin kou. Ek kan my verkyk aan die manier hoe dié voëltjies sit: plat op hul "boudjies"....het jy dit al gesien? En met die wit-en-swart snawel lyk hulle kompleet nes ou wyse manne uit die Ooste.


In die uitgeholde stomp het ek 'n paar broodkrummels gestrooi. Mossie-se-kind was tog te bly daaroor en het heerlik gemul. Lekkerder as verjaarsdagkoek was dit vir hom op dié koue môre! Hy het die lewe geniet en my ook sommer bly gemaak.


Tot my groot vreugde het 'n taamlik skaars besoeker nl. die Rooikopvink skielik van êrens vandaan sy opwagting by die waterbak gemaak. Nes 'n miniatuur hoendertjie sit hy en geniet die water, kyk op en vlieg weg. Met sy rooi keps op en serp om sy nek, maak hy enige koue dag vol vuurwarm vreugde!


Toe die skugter kuifkophoutkapper voor my oë verskyn, loop my beker oor! Ek hoor hulle mos net altyd. Om hulle te sien, is 'n present van Bo! Ek verkyk my aan sy swart borslap, sy dik snawel...gelukkig sit hy 'n taamlike rukkie stil en kan ek hom mooi in fokus kry.
"Wéét jy hoe bly jy my maak, kuifkoppie?" fluister ek van agter die venster waar niemand my kan hoor nie.

Of miskien het die houtkappertjie, die muisvoël, die rooikopvink, die mossies en die geelgroen glasogies tóg wel gehoor...

Elizabeth Kendall ©






Friday, 25 May 2012

Ghantang van my


druppels op die dak
grys wolke saamgepak

(waarom sou ek wou
ballades skryf oor jou)

dis jou warm binnehart
my wegkruipplek
teen wêreldsmart
dis die omgee-liefhêmens
wat in jou wese woon

jy met jou blymaakwoorde
wat my dag bekroon

dis jou humor en jou lag
jou kwinkslae onverwags
jou manwees, maatwees,
menswees -

jy

(daarom sou ek wou
lirieke skryf oor jou)

Elizabeth Kendall ©