Monday 19 November 2012

Tyd.


 

Dis warm. En stil. Ek lê op die dubbelbed in die rondawel en kyk na die houtbalke, voel die koelte van die grasdak. My gedagtes vat sommer pad.
 
Ou Swarthond lê in die sand langs die rondawel. Hy het vir homself ‘n holte daar gegrawe , lekker knus en minder warm as op sy kombers. Hy pas my op. Werk ek voor in die kamer waar die rekenaar is, rig hy hom in langs die groen klimopblare wat die hele voorste muur van ons ou huis toerank. Hy lek sy pote skoon, lê met sy kop op die sement. Tevrede.
 
Wat hou die toekoms in? Ons weet nie. Om vandag te geniet is die belangrikste. Om gister se herinneringe te koester, is ‘n toedraaigeskenk uit God se Hand. En op hierdie hoekerf waar die akkerboom voor in die straat op aandag staan en honderde herinneringe in sy dik stam opgaar, hier waar die moerbeie swart en soet in trosse hang wanneer Oktobermaand aan die voordeur klop, hier waar die ana- en kareebome hul sagte skadu’s oor ons skouers gooi……in hierdie toegerankte huis lê hope herinneringe.  
 
Hier was ek ‘n kind. Hier was ek  ‘n jongmeisie. Hier het ek ‘n vrou geword. My ouers se spore lê hier, my oorlede broer, my sussie. Tussen hierdie mure het ek al emmers vol trane gestort, gelag , gesels, gehoop, gedroom, gebid. Gelééf in oortreffende trap ja...
Ek was die middelkind. Saam met my Ouboet albaster en giffie gespeel en Cor Dirks se Uile boeke gelees of die Skatkis Deel 1 verslind. Hy kon só lag as ek bang geword het wanneer hy “Die Mensvreter” daaruit voorlees met die nodige stembuigings en nuanses. Saam met Kleinsus pop gespeel, sywurms versorg, Saartjie Baumann en die Maasdorpreeks gelees, Stories van Rivierplaas.  Saam met maats springmielies geëet bo-op die pompkamer se dak, tou gespring, vye gepluk, geskiedenis lê en leer op die grasperk. Soggens wanneer Fanus Rautenbach se Penniefluitjie Kwêla speel op my fiets geklim en skooltoe gery…….waar lê daardie jare nou?
(So om en by een-en-twintig jaar oud....)  

Dié huis het al dikwels metamorfoses ondergaan. Na my egskeiding meer as twee dekades gelede,  laat verf ek die dak pikswart, die mure spierwit. Heelwat later kom daar genadiglik weer kleur in my lewe en verander die huis se voorkoms elke paar jaar.  Binne verander ons ook baie: haal die matte uit, skuur die plankvloere glad en blink. Ons restoureer ou meubels, hang helderkleurige prente oral teen die mure,  foto’s van kinders en kleinkinders. Ons huis lewe. Die bome word al groter en meer skaduryk, daglelies en rose blom en bloei, die litroos trek ‘n bloedrooi somersrok aan…. geheel die tuin word ‘n kuierplek, ‘n rustige hawe, ‘n groen stilhouplek en lafenis vir elke dag. Elke jaar kook ek appelkooskonfyt, maak perskeblatjang, deel vrugte uit aan vriende.


Die voëls kom kuier by die fontein wat Chris en die kinders een jaar vir my gegee het op my verjaarsdag. ‘n Koel stroom water spoel voortdurend uit ‘n groot pot tot binne-in ‘n klipdammetjie. Heerlik is dit om daar te sit en droom, die vrede in te drink, te luister na die duiwe se gekoer-koer of die mossies se tjierie-tjierie tjirpgeluide. En soms, as jy gelukkig is, die kakelaars bo in die boomtoppe te hoor roep.

 
Partymaal wens ek Pa of Ma kon net gou kom inloer en kyk hoe lyk dit nou. Sou Ma tog nie die tuin geniet het nie! En ek hoor al Pa se stem: “Sussa, julle het dit so mooi gemaak. My ou doggie is agtermekaar. “ As hy vir my só gesê het in my jonkweesjare toe Die Lewe nog so vreesaanjaend  gelyk het, het ek sommer weer sakke vol moed gehad vir wat ookal voorlê. ‘n Mens vergeet nooit jou ouers nie. Nooit.

 

My kinders is nou almal grootmense. Ek het hulle een vir een in hierdie huis grootgebid en van hier af uitgestuur na die wye wêreld om hul eie paadjies te loop. Hoe baie maal het ons nie weer heerlike saamkuiers belewe onder die moerbeiboom langs die braaivleisplek of gesellig aan die eetkamertafel nie. Op sulke tye sorg Chris vir heerlike potjiekos of skaapribbetjie of ander wonderdisse wat hy kan optower. Wat ‘n voorreg is dit nie vir my om ‘n man te hê wat lief is vir kosmaak nie!


 Toe ons nuwe bure gister intrek, maak hy vir hulle spaghetti bolognaise en ek maak ‘n bak gesonde slaai. Ons doen dit uit pure blydskap, want die huurhuis het leeg gestaan vir ‘n maand. Dis so lekker om ons soort mense daar te kan hê, ganse van dieselfde dam. ‘n Seëning van Bo.


Ons droom om in die Bosveld te gaan aftree is nog lank nie begrawe nie.Ons huis is steeds in die mark.  Tog besef ons dat alles op die regte tyd gebeur, dat jou lewe nie in eie hande is nie, dat die Here jou koers en pad bepaal. Ek het gister heerlik binnepret gehad na kerk toe ou Tannie Ann my bemoedig met die woorde: “Los alles vir die Here. As jy Hom iets vra, dan gee Hy dit vir jou. Hy hoor, Hy is nie doof nie!”  Daarom is dit lekker om nog tuin te maak, VLU beplannings te doen vir volgende jaar, gesellighede en funksies by te woon in die dorp of by die kerk en elke dag se menswees te geniet.


Wie weet, volgende jaar hierdie tyd bewandel ons dalk grasgroen  Bosveldpaadjies, neem foto’s van rooikophoutkappers in mopaniebome, sit saans by ‘n hardekoolvuurtjie en sien soggens die son goudgeel en vlammend agter die bome uitloer om sag en warm op ons te skyn. Sonskyn in genadestrale. Maak nie saak waar jy jou op aarde bevind nie. Dis altyd daar.

 

 

 

 

2 comments:

  1. Wie weet inderdaad wat die toekoms inhou Liz? Al wat ons kan doen is om in HIERDIE oomblik te leef en NOU te geniet, more sal vir homself sorg. En herinneringe is vir ewig - waar ons ook al gaan, daar is dit saam met ons. Ek is seker die bure het daai Spaghetti bolognaise en slaai verskriklik geniet!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie dat jy kom saamkuier en peins het oor die wonderlike ding wat LEWE genoem word Maree!

      Delete