Monday 11 June 2012

Miskien het hulle tóg gehoor....

Vroegoggend lees ek hierdie mooi woorde:

“If we love our children
we must love the earth with tender care
and pass it on, diverse and beautiful,
so that on a warm spring day
10 000 years hence
they can feel peace in a sea of grass,
can watch a bee visit a flower,
can hear a sandpiper call in the sky,
and can find joy in being alive.”
- Hugh Ilitis

by my vriendin, Maree Clarkson se kunswerk: White-eye / Witogie op RedBubble.

Die afgelope week en naweek was ysbitterbibberkoud hier in Bronkies. By tye en met onderbrekings was die krag ook taamlik lank af. Ek het my opnuut verwonder aan klein dingetjies wat so baie vreugde bring ten spyte van....

Buite in die tuin het die talle voëltjies wat by die waterbak kom kuier het, vrolik voortgelewe. Die koue het hulle nie in die minste gepla nie. Ek het in die voorkamer by die venster gestaan en hulle dopgehou. Dit was telkens 'n heerlike uitdaging om 'n mooi foto te probeer neem, want die geveerdes is springlewendig. Wip-wip hier en pik-pik daar. En net as ek dink ek gaan die knoppie druk, vlieg hulle woerts-warts weg!


Die klein geelgroen glasogies is die lewendigste! Ek wens ek kon enetjie in my hande vashou "with tender care" soos die versie hierbo sê. Lieflike stukkies sonskyn op 'n koue wintersdag, dis wat hulle is.


Meneer Muisvoël met sy lang grys stert sit slaggereed om aan die woestynrosies te begin kou. Ek kan my verkyk aan die manier hoe dié voëltjies sit: plat op hul "boudjies"....het jy dit al gesien? En met die wit-en-swart snawel lyk hulle kompleet nes ou wyse manne uit die Ooste.


In die uitgeholde stomp het ek 'n paar broodkrummels gestrooi. Mossie-se-kind was tog te bly daaroor en het heerlik gemul. Lekkerder as verjaarsdagkoek was dit vir hom op dié koue môre! Hy het die lewe geniet en my ook sommer bly gemaak.


Tot my groot vreugde het 'n taamlik skaars besoeker nl. die Rooikopvink skielik van êrens vandaan sy opwagting by die waterbak gemaak. Nes 'n miniatuur hoendertjie sit hy en geniet die water, kyk op en vlieg weg. Met sy rooi keps op en serp om sy nek, maak hy enige koue dag vol vuurwarm vreugde!


Toe die skugter kuifkophoutkapper voor my oë verskyn, loop my beker oor! Ek hoor hulle mos net altyd. Om hulle te sien, is 'n present van Bo! Ek verkyk my aan sy swart borslap, sy dik snawel...gelukkig sit hy 'n taamlike rukkie stil en kan ek hom mooi in fokus kry.
"Wéét jy hoe bly jy my maak, kuifkoppie?" fluister ek van agter die venster waar niemand my kan hoor nie.

Of miskien het die houtkappertjie, die muisvoël, die rooikopvink, die mossies en die geelgroen glasogies tóg wel gehoor...

Elizabeth Kendall ©






4 comments:

  1. Hulle hoor, en hulle wéét waar die liefde is Elizabeth! En hulle praat, versprei die storie, "Kom na Elizabeth se tuin, die HEERLIKSTE versnaperings word daar bedien!" Daai muisvoëltjie
    sal die heerlikste sandbadjies vat as jy vir hom 'n plekkie in die tuin maak (hulle bad mos GLADNIE in water nie!) en piesangs is hul geliefkoosde lekkerny. Heerlik om hier te kom kuier en jou vreugde te deel!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie bly jy het ook hier kom kuier Maree! Baie dankie vir al die wenke....een van die dae het ek 'n paradys vir 'n tuin!

      Delete
  2. Jou foto's is pragtig en ek het so lekker hier gekuier tussen al jou mooi gedagtes

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Tina, dis 'n heerlike verrassing om jou hier te kry. Waardeer dit baie.

      Delete