Showing posts with label mededeelsaamheid. Show all posts
Showing posts with label mededeelsaamheid. Show all posts

Monday 22 February 2016

Die pasellas in die lewe !

Op facebook behoort ek aan die heerlikste en interessantste gedigtegroep nl. Versvreugde en Woordgenot. Ronell Marais is die "skeepskaptein" en met haar liefde vir Afrikaans, aansteeklike humor, spontane en liefdevolle geaardheid en lus vir die lewe, maak sy dit vir almal wat deel is van dié blad 'n tierelier-plesier sonder einde! 
So was dit ook vir my 'n heerlike verrassing om gister te sien hoe sy in die blad se argiewe gaan rondgrawe het en op dié onderhoud afgekom het wat drie jaar gelede gepubliseer is. Ek deel dit graag met almal wat wil saamlees. Daar het so baie gebeur die afgelope drie jaar in ons lewe, maar feit bly staan: elke dag bly en is steeds 'n geskenk uit God se hand. 


VEERTIEN VRAE MET ELIZABETH KENDALL (Versvreugde en Woordgenot) – Des. 2012.

1. Liefste Elizabeth, vertel ons eerstens van jou wortelwêreld en jou geliefdes.
Eers net dankie sê vir die wonderlike eer om te kan deel op “Nella se blad”, ‘n allerlekkerste lees-en verdwaal-in-woordeplek! Baie dankie Ronell, ek voel geëerd.


Ja, wortelwêreld is dit beslis! Bronkhorstspruit. Hier aangekom uit Johannesburg toe ek vier jaar oud was, op ‘n plaas gebly tot ek elf was en toe in die dorp in hierdie huis waar ek nog steeds woon. Bus gery skooltoe en my vergaap aan die Matriekseuns se welige beenhare! Ek was ‘n skaam kind gewees. Gelukkig het ek later besef dis BAIE lekker om te kan praat.
Ons wou onlangs verhuis na Die Oog Aftree-oord in Naboomspruit, was totaal in vervoering oor die plek en toe kry ons dit nie reg nie. Nou is ons tevrede en baie rustig. ‘n Mens verplant nie so maklik ‘n ou boom nie!
My geliefdes, my naby-mense is vanselfsprekend Chris. My man en maat en kosmaker! Een van my eerste vrae aan hom toe ons sestien jaar gelede ontmoet het, was: “Kan jy kosmaak?” Toe hy “Ja!” sê, het sy aandele natuurlik hemelhoog gestyg…. hy is ‘n omgeemens, ‘n steunpilaar. Ek lief hom ernstig. Hy het my heelgemaak toe ek versukkeld en maer en bitter broos was. Ek dink nie ek kan genoeg dankie sê dat die Here hom vir my gegee het nie. Toe my Pa nog gelewe het, het hy altyd gesê hy bid dat ek ‘n goeie man kry. En dit het gebeur. Chris is “uitgebid.”
En natuurlik al my kinders en ons kinders: myne en syne, (ons was toe al te “oud” vir “ons s’n!” ) Ek het vier en hy het twee. ‘n Hele huisvol! Saam het ons nege kleinkinders, elkeen uniek en wonderlik….mos!

2. Waar is jou hart se punt?
My hart se punt(e) lê ons hele mooi land vol: die Weskus, die Bosveld, die bergwêreld van Magoebaskloof en sommer ook net hier onder my Ma se akkerboom.

3. Wat is die dinge wat jou seën?
Die natuur en al die wondelikhede wat daagliks voor my oë kom staan: ‘n duif by die waterbak, klein dingetjies, erkenning wanneer mens dit die minste verwag. Liefde.

4. Hoe bederf Elizabeth haarself?
Ek “verdwyn” van die aardbol af, luister na mooi musiek, skilder….veral met die paletmes. Kan dit vir uuuuure doen, salig!

5. Hoe skep jy asem?
Drink chai-en-rooibostee met ‘n  teelepel heuning daarin onder die karee en kyk na die voëls in die tuin, kamera in die hand! Of ons klim in ons Polo en ry net…..bosse toe, berge toe. Selfone en rekenaars af!

6. Jy is so ‘n kreatiewe gees. Vertel ons van al jou kreatiewe ysters in die vuur… (ek weet jy kan skryf, skilder, tuinmaak, foto’s neem en dies meer…)
Ek moet besig wees. Anders word ek oud! Glimlag. Ek en Maree Clarkson (sy het ‘n tyd gelede na een van my kunsuitstallings hier in die tuin gekom en woon in Tarlton) het ‘n groep op die internet (RedBubble) gestig genaamd AFRIKAANS. Hier speel ons lekker: ontvang foto’s, kuns en soms ook skryfwerk van ons lede, hou uitdagings en ek doen eenmaal per maand ‘n “Sondagsiesta”. Dan “steel” ek al die talentvolle digters wat ek al in my lewe in lewende lywe of op die internet ontmoet het, se lieflike gedigte en stal dit uit vir die hele wye wêreld om te lees en te geniet! En dit gaan maar alles net oor my groot liefde vir ons taal.
Hier is die skakel as julle wil gaan loer!
Ek skryf soms ook op my blogs: Kreatiewe Joernaal, Speel-speel, Lizzie loves painting! en hier kan jy my skoolhoustories kom lees, alles WARE verhale: Stories uit my skooltas

7. Watter kleure tref mens aan op jou palet van vreugde?
Groen, groener, groenste! Soos bome. Jy sal mos verstaan.

8. Jy is so geliefd…waaraan sou jy dit toeskryf?
Ai Nella. Genade. Net genade. Dis nie moeilik om vir julle lief te wees nie!

9. Wat is volgens jou die diepste put van ellende?
Om niks te kan hê om na uit te sien nie….om sonder hoop te moet lewe.

10. Hoe maak Elizabeth haar wêreld ‘n beter plek?
Ek leer baie by Chris. Hy deel graag. Ek probeer ook….omgee vir ou mense, vir alleen-mense. Regtig belang stel, nie net bolangs nie. En ja, as ek dalk miskien wil-wil onvergenoegd voel, dan dink ek maar aan al die seëninge wat daagliks verniet voor my deur kom lê: gesondheid, ‘n sin vir humor (‘n dag sonder ‘n lag is ‘n verlore dag!) en nog vele meer.

11. Wat beteken Desembermaand vir jou? Is jy ‘n feestydmens?
Desember het sy eie woorde: afskakel, rus, oordink…. saamwees, kuier. Dis ‘n groot present om saam met kinders te wees op Kersdag (veral) en ja, hierdie jaar gaan ons by seunskind en my Engelse skoondogter kuier en dit so geniet. Vir hulle ‘n eerste Kersfees in S.A. nà baie jare in Engeland. Spesiaal.

12. Hoe lyk ‘n tipiese dag in die lewe van Elizabeth?
Taamlik rustig op dié stadium: of in die tuin aan’t vroetel of hier voor tussen die verfpotte en as die muse my per geluk beetkry: tussen die woorde. En o ja, in die nuwe jaar ook weer baie betrokke by ons plaaslike VLU. En dis nie net vir ou tannies wat hekel en koekies bak nie. Dis regtig lekker en ons doen heerlike en inspirerende dinge.

13. Wat verkies jy – see of bos, rooi of blou, vanilla of aarbeigeur, tee of koffie, prosa of poësie, introverte of ekstroverte, potjie of braai, blond of brunet, soet of sout, stap of huppel?
Sjoe! See EN Bos. Rooi….pure lewe! Blou: wanneer ek “sag” voel…. Tee, so 2x per dag! Koffie: soggens voor die dag begin, ruik hemels! Introverte: ‘n uitdaging om hulle aan die praat te kry. Ekstroverte: mal oor hulle! Potjie: beesstert , njammmmmm! Braai: niks soos ‘n lekker braai en kuiers-vir-ewig nie! Soet of sout: liewers sout….was lank genoeg “soet”! Stap en huppel! Die lewe is ‘n lied.

14. Wat is die mooiste woorde wat jy in jou hart koester?
Daar is so baie…. Toe my oorlede Pa vir my gesê het: “Sussa, jy moet jou sleutels onthou my kind!” (hy het my o.a. verantwoordelikheid geleer)
Toe Chris vir my heel aan die begin van ons verhouding sê: “I could have drown dead!” ……gaan nie verduidelik nie….
Toe my kind op fb sê: “My Ma, ek is so bly oor jou!”
Toe my kleinkind sê: “ Oumaaaaa, wanneer verf ons?”

15. Wat was die hoogtepunt in jou lewe?
Die dag toe ek besef het God het my gebede verhoor.

16. Hoe bly jy so jonk? (Nie dat jy oud is nie…)
Oe, dankie…..ek’s aankomste jaar 65! (soos die oumense sou seg!)
Ek gee oor. Ek probeer nie meer “self” alles regkry nie. Die Here sal my help en krag gee, elke dag. Vir ons almal. Glo dit net.

17. Gee ons ‘n boodskap van hoop, liefde en vreugde om in ons harte te bêre…
Hoop: Moenie ophou droom nie. Nooit. ( Ek het al klaar ‘n droompie reg vir 2013…..)
Liefde: Wees jouself. Almal verskil. Wees wie jy is. Maak jou oë oop, daar is baie mense om jou wat net één woord nodig het. Gee dit vir hulle. Dit kom tienvoudig terug na jou toe…op ‘n vaal dag as jy dit nodig het. Wag net.
Vreugde: Lag! Lag baie. Word weer ‘n kind. Kyk met nuwe oë na ou dinge.