Sunday, 28 July 2013

Inspirasie en genot!

Daar is altyd 'n eerste keer. Eerste kere is gewoonlik heerlik. So was dit ook met my eerste ervaring van 'n "winterskool" by Weesgerus, aangebied deur VLU Noord.  Die Bosveld is sommer vanself 'n groot trekpleister, dit weet ons almal. Om dan nog deel van 'n gesellige groep vroue te wees wat talente en glimlagte uitdeel soos soetkoek, is 'n yslike en heerlike voorreg. Ons is net twee lede van VLU Van Riebeecktak, Bronkhorstspruit.
 
Met ons aankoms en tydens registrasie ontvang ons elkeen 'n pragtige, handgemaakte 
sak met allerlei interessanthede daarin.




Wat is nou lekkerder as skryf met 'n regte pen in 'n regte boek?
Nadat ons tasse uitgepak is en ons kon nesskrop in die gerieflike chalets, het ons 'n ligte middagete geniet en heerlik begin kuier met bekendes en onbekendes.


'n Agttal vrolike VLU-lede van Wapadrant, Pretoria. (ons bure.)
 
Bosman Grobler, seun van Anphia Grobler, die vise-president van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, het 'n interessante praatjie aangebied oor voeding vir die kieskeurige eter. Ek het weer eens besef hoe goed dit is vir liggaam en siel om daagliks groente en vrugte in te kry. "Eet 'n reënboog" is 'n goeie uitgangspunt in ons keuse vir 'n kleurryke en gesonde bord kos elke dag.
 
Later die dag word ons in spanne gedeel: Somer, lente, herfs en winter. Ek is in die Winterspan. (miskien bietjie oud, maar nog nie lank nie koud!) Ons is ongeveer twintig in 'n span.

 
Die uitdaging is om 'n hoed te maak uit dit wat voor ons op die tafels lê. Pret was dit voorwaar!!
 
 
 
 
Yolande Steenkamp en ek word toe gekies om aan die modeparade deel te neem met ons handvervaardigde en selfgemaakte skeppings. Uit elke span was daar 'n hele klomp hoed-modelle, maar Yolande s'n was die wenhoed! 'n Mens ken nie die einde van jou kreatiwiteit as daar so vinnig gedink en beplan moet word nie.....dit was pure plesier.
 
 
Die aand geniet ons 'n konsert en ook lieflike voorlesings van Lizette Snyman, baie bekende en beminde digter van die blad  SOLOVLUG  op facebook.
 
 
 Kom geniet haar mooi woorde saam met my:
 
Soutpansberg se winter
 
vandag het ek kom wegkruip
in Louis Trichardt se berg
in deinserige wintermis
en hadidas wat terg
 
ek drink 'n sauvignon blanc
2000-druifjaar franschoek
by 'n ronde tafeltjie vir een
met my wyn en pen en boek
 
ek neem afskeid van die somer
begrawe dit vandag net hier
want dit is weer winter
in makhado se natuur
 
en as ek eendag weer hier kom
met my pen en verseboek
sal ek hier in die berg
vir 'n nuwe vers kom soek
 
Lizette Snyman ©
 
Die aand was wonderskoon. Vol van genadegawes en gedeelde vreugdes. Sielskos. Salig.
 
Toe Woensdag aanbreek, gaan stap ek en Yolande vroegoggend. Die lug is kraakvas.
 
 

 
Groenvaalboom en bruinvaal gras. Nêrens is 'n mens so naby aan jou God as juis hier in die bos nie. Ons asem diep teue vars lug in en luister na die stiltes.
 
Na die opening in die grootsaal, begin ons met uitdagende en opwindende aktiwiteite. Winter se eerste sessie is 'n pretsessie: ons word geblinddoek, moet oor hindernisse klim, lag vreeslik baie, doen selfs kuns met aartappeldruk en geniet die hele storie terdeë!
 

Daarna leer ons hoe om sushie te maak. Dis toe nie eers moeilik nie. Die taai, wit rys klou aan my vingers vas, maar die eindresultaat proe soos 'n droom!
 
 

 
Tussendeur was daar genoeg tyd om die natuur te geniet en waardeer.

 
'n Kuifkopvisvanger

 
Rustig wei die rooibok

 
Die natuur se verfkwas
 
 
Waters waar rus is...


Winter is ook mooi
 
 
'n Gevlekte lyster
 

Hierdie mooi ou dingetjie was amper te vinnig om 'n foto te kon neem...
 
 
Kraanvoëlblom (Strelitzia reginae)
 
Ons volgende sessie was : WEES KREATIEF

Met gom en koeldrankbottelproppe maak ons almal speldekussings en pildosies.

'n Groot konsentrasie vir my, maar tog ook lekker!

 


 


 
Henrietta Schoeman, President van SAVLU, kliphard besig om 'n speldekussing te vervaardig.  
 
Corné en Ina geniet ook die gevroetel en geplak!
 
 
Hierna wys Retha Prinsloo ons hoe maklik 'n mens 'n tafel mooi kan laat lyk. Die heelmooiste (vir my) was natuurlik die tafelversiering van appels en woestynrosies.
 
 
Na dié praatjie was almal sommer begeesterd om weer alles in jou huis met nuwe oë te gaan aanskou en van vooraf te ontdek en te eksperimenteer. Inspirerend was dit beslis.
 
Toe dit aand word, begin ons "opdress", want die tema is Indies. Dis 'n aantrekkery van 'n ander wêreld in chalet B13! Ons help mekaar met die sari's en lengtes lap...al laggende! En ons neem foto's. Kyk net!
 
Rina Potgieter, President van Mpumalanga en Christell Nel, Streeksvoorsitter van Carpe Diem (Witbank), ons twee kamermaats......of is dit dalk Shakira Valencia en Fatima Osman ? !
Onnodig om te sê, ons het dit baie geniet om hierdie twee "vreemde" en baie aangename vrouens te leer ken en het heerlik saam gekuier en idees uitgeruil.
 
 
 Die uwe, rooi kolletjie op die voorkop en al!
 
Yolande, so mooi in groen getooi!
 
 
 
 
 
 
Chalet B13 se inwoners.
 



Kleurvol!! 


Judy Steynberg, President van VLU Noordwes,  Henrietta Schoeman, SAVLU President, Rina Potgieter, President VLU Mpumalanga en Tharina Rossel, President van VLU Noord.
 
Die tafels is keurig gedek, die kos is uit die boonste rakke, die geselskap is heerlik! Ons luister na lieflike panfluitmusiek.  Ons kuier saam tot laat. Gesellig, geseënd.
 
 
 Die laaste dag breek aan...
 
 
 Van vandag af sal ons paadjies weer skei.
 
Ons luister na 'n interessante praatjie oor voëls en die natuur deur Kobus Pienaar, dan na 'n praatjie oor korrekte vormdrag en daarna kom Kansa aan die beurt.
 
Yolande Steenkamp ondersteun Kansa  en ons geniet nog 'n laaste vertoning deur briljante Elana Greyling en Toktokkie.
 


 
Te gou is dit tyd vir die afsluiting en terugkeer huistoe. Die heerlike herinneringe is en bly egter vir altyd deel van ons menswees. Ons voel verryk en entoesiasties, lus vir die lewe en die uitdagings wat op ons pad mag kom. Toe Tharina Rossel, wat alles gereël het, bid, voel ek onverwags 'n nattigheid in my oë. Alle eer aan ons Skepper wat ons harte so bly gemaak het tydens 'n louwarm Bosveldwinter.
 
 
 

Monday, 22 July 2013

'n Gewone Sondag

Dis 'n rustige Sondag. Die strate is stil. Die dorpsduiwe koer hul vredeverse. Ek staan en sing saam met die res van die gemeente. Ons kerk was al meer as honderd jaar oud. Ek was skaars vier toe ek die eerste maal hiernatoe gekom het. Intussen het daar baie water in die see geloop. Predikante en gemeentelede het gekom en gegaan. Die lewe het sy draaie geloop. Tog voel ek nêrens anders so tuis as hier in die bekende omgewing tussen die bekende mense van my tuisdorp nie.
 
 
 
Hoe mooi is die wysie van Skrifberyming 45 tog nie. So bekend, so bemind. Ek wens ons kon sommer al die versies sing. Troosryk is die woorde, vol heerlike beloftes.

Skrifberyming 45
 
  Hy het my die stad getoon,
groot en van die hemel dalend,
en, deur God se ligglans skoon,
soos 'n kleurgesteente stralend,
helder soos 'n kristallyn
wat in al sy klaarheid skyn.
 
  Rondom rys, gedug in krag,
twaalftal poorte in die mure.
Elkeen voor sy poort op wag,
staan die eng'le, glansfigure.
Bo hul blink, in vlammespel,
twaalf stamname uit Israel. 
 
  Lokkend staan die poorte oop,
oop na al die wêreldoorde,
dat die nasies toe kan loop:
van die suide en van die noorde
en vandaar waar son en maan
nie meer op- en ondergaan. 
 
  Uit die diepte omhoog geskraag,
rys die muur as skut en wering;
en daaronder, laag naas laag,
lê ie ewige fondering.
Van die Lam se apostelskaar
straal daaruit die name klaar.
 
  In die stad se mate was
daar geen kleinheid en geen engte.
Van die klimmende terras
het die hoogte aan breedte en lengte
in sy maat geheel gelyk,
tot die hemelblou gereik.
 
  En die muur was swaar van bou
wat die grote stad omring het;
glanse soos van môredou
was die glans wat dit deurdring het.
En die stad se boustof was
goud, deurskynend net soos glas.
 
  Fondamente uit edelsteen
was dit wat die stad omlyn het.
Pêrelpoorte daaromheen,
wat met sagte lig geskyn het.
Goudbane al die strate was,
maar deursigtig, blink soos glas. 
 
  Maar 'n tempel, skoon van bou
(aan wat was nog steeds gedagtig!)
het my oog nie daar aanskou;
want die Here God almagtig
is sy tempel, en die Lam
is die helder altaarvlam. 
 
  En geen lig van son en maan,
wat hul wentel langs die transe,
sal daar op- en ondergaan:
God self skyn daar met sy glanse,
en die Lam is self die lig
waar 'n eewge nag voor swig.
 
  Nasies, vry van die gerig,
kom uit nuwe wêreldlande
om te wandel in die lig.
Konings bring hul offerande
uit 'n volle wêreldskat:
eer en glorie, in die stad. 
 
  Vir 'n nag van skrik en vrees
word die poorte nie gesluit nie,
want daar sal geen nag meer wees
en geen klaag- of skrikgeluid nie.
Heerlikheid en eer alleen
trek dan deur die poorte heen.

  Daar sal in die heiligdom
niemand wat die kwaad bedrywe,
ooit of immer binnekom.
Hul van wie die naam geskrywe
in die Lewensboek sal staan,
hulle sal daar binnegaan.


Die baie bekende woorde van Psalm 18 klink vanoggend sommer nuut.  'n Gevoel van groot dankbaarheid kom lê in my binneste. Ek luister na die lieflike orrelklanke wat daar bo van die gallery af kom en die hele kerkgebou warm maak. Elke woord kry betekenis terwyl ek so sing.
 
Psalm 18.
 
Ek het U hartlik lief, o Heer!
                           U is my sterkte en teëweer.                            
  Die Heer’s my rots, my vesting sterk,
my redder wat my heil bewerk,
my rots wanneer die stormwind huil,
my skild, die weerkrag van my heil,
my vesting op die bergkrans steil,
by wie ek vas en veilig skuil.
 
 
Ek sou graag wou hê dat Psalm 18 eendag op my begrafnis uit volle bors gesing moet word en almal moet weet hoe goed en groot die liefde van die Here is. 
 
 

Sunday, 7 July 2013

'n Mens weet nooit

Miskien moet ek dit maar net skryf en uit my lyf uitkry. My hele lewe lank was sy my tannie. My mooi jong tannie. Die tannie wat nooit oud geword het nie. Die tannie met die goeie gene. My Pa se jongste en enigste sussie. In die Kaap. Ver. Vandat ek kan onthou, bly Tannie Freda en oom Jannie in die Kaap. Lank, lank gelede toe ek nog 'n skraal en bloedjong student was, gaan kuier ons vir hulle in hul huis in Bellville. Sy kom in die sitkamer ingestap met 'n skinkbord in haar hande: "Ouboet, wil julle bietjie tie hê?" vra sy in haar Bolandse aksent. My Pa, 'n bruingebrande boer van die goeie ou Transvaal, hoor nie mooi wat sy sê nie. Sy praat anders en vinnig. "Wat sê jy Freda?" vra hy.  Sy herhaal wat sy gesê het en almal lag. Ons kuier heerlik. Sy is 'n uitstekende kok en weet hoe om mense te onthaal. Oom Jannie sorg vir grappies en spitsvondighede in sy Bolandse aksent...
 
Op 'n keer kom kuier die Kapenaars vir my ouers en ek, wat toe al getroud was, woon in Levubu waar vrugte so volop is dat mens dit later nie eers meer waardeer nie. Ons maak vrugteslaai en ek skil vinnig 'n pynappel. Tannie Freda en Oom Jannie kuier saam met my ouers by ons. Sy bekyk my. "Jitte Elizabeth, jy sny die helfte van die pynappel weg! " sê sy geskok. Hoekom onthou ek dit....miskien het ek daardie dag geleer om alles wat mens verniet kry, te waardeer. Om nie te mors nie. Dis dalk hoekom ek dit soos gister onthou.

Twee jaar gelede ry ek en my Chris Kaap toe. Lank voor die tyd laat weet ons vir Tannie Freda ons kom by hulle langs. Sy vat-vat aan 80 jaar. Toe ons van Paternoster af bel, beduie sy die pad soos 'n jong vrou. Chris, wat maar nie snelweë en vreemde paaie gewoond is nie, ry seepglad op Tannie Freda se aanwysings en ons stop sonder sukkel voor haar deur in Welgemoed, waar sy en Oom Jannie al jare lank woon. "Almal wil hê ons moet in 'n aftree-oord gaan bly", sê sy later vrolik en opgewek. "Ons wil nie..." Ek kan my in elk geval nie voorstel hoe sy in 'n aftree-oord gaan inpas nie.

Sy nooi my oom Douw-hulle wat nie te ver bly nie. My mooi niggie kom ook. Die tafel kreun onder haar heerlike disse. Sy lyk sestig. Haar hare donker, haar vel so mooi. My oorlede Pa se kleinsus. Ouma het ons toentertyd vertel sy was so bly dat sy nà vier seuns uiteindelik 'n dogtertjie gehad het. Sy het glo kort-kort in die nag opgestaan nà klein Fredatjie se geboorte, kot toe gestap, haar doek oopgemaak en gekyk.....net om seker te maak. Vir Ouma was die wonderwerk amper te groot om te glo.

Vanoggend kyk ek oudergewoonte wat gaan op faceboek aan. Toe ek die bloedrooi blokkie op boodskappe druk, lees ek die nuus. My tannie is sedert gister in 'n koma. 'n Bloedklont in haar kop....skryf my niggie. Kritiek. Laas jaar was sy 80. Dis seker doodnormaal dat iemand van 81 so-iets kan oorkom. Tog.

Skielik verlang ek sommer na almal. Na my Pa, my Ma, my eie Ouboet. Skielik wens ek, ek was maar weer 'n langbeenstudent wat na bloedfamilie se heerlike Bolandse woorde sit en luister. Ek vou Oom Jannie toe in my gedagtes, in my gebede. Ek vou hulle almal toe, my twee ver-niggies wat deur hierdie swaar tyd moet gaan. Bloed is dikker as water. Omdraai is daar nie.

Ek onthou my Ma se heel laaste gedig wat sy geskryf het voor haar dood. En dit troos my. Hoe kort is die lewe, hoe min weet ons. Hoe kosbaar is elke goeie dag onder die son.
 
Ek bel my oom. "Ons was sestig jaar getroud", sê hy verlore. Sestig jaar. Herinneringe om vir ewig te koester.
 
Die Kaap is vandag so ver. So baie ver. En bloed bly dikker as water.

Oom Jannie en Tannie Freda.
(foto onlangs geneem)