Saturday, 22 June 2013

Soms mag mens niks doen

Salige Saterdag. Heeldag. Die huis is koud. Buite skyn 'n winterson. Ek sien vreemde swartblou voëls wat my woestynrosies sit en kou. Hulle lyk na spreeus. Daar moet iets lekker in 'n woestynroos se blaar wees, want dis nie die eerste keer dat ek voëls betrap wat so heerlik sit en peusel nie. Die kwêvoëls dink ook dis hul spesiale lekkerny.
 
Ek het vandag tyd. Wat 'n heerlikheid is dit nie! Ek kyk op na die ysblou lug. Die boomtakke, kaal soos koue vingers, maak hul eie prentjies.



Hoe mooi lyk die wit takke van die "Pride of India" nie teen die oop, skoon en blou lug nie. 'n Groot vrede kom lê in my binneste en vanoggend se bekende stilwees-woorde uit Jesaja 41: 10 kry sommer weer nuwe betekenis.
 
 
Elke seisoen het sy eie bekoring. Winter in Bronkhorstspruit kan knypkoud raak. Tog weet ons die aarde moet ook ruskans kry.
 
 
Die feit dat my rose dié tyd van die jaar nog in volle blom langs die paadjie hek toe staan, is een heerlike bonus. Ek put soveel genot daaruit!
 
 
In die agtertuin jubel die "Just Joeys" in hul oranjerooi rokkies en maak my hart winterwarm en bly.
 

Op die draadtafel by die voordeur waar die son soggens louwarm kom lêplek soek, blom die kaktus steeds...'n lieflikheid om te aanskou in die winterkoue. Hoe dikwels beloon die natuur ons nie. Spatsels kleur tussen die dorheid en die vaaltes. Nes ons lewens. Ons moet net tyd maak om dit te waardeer en weer 'n slag raak te sien.

 

2 comments:

  1. Heerlik om 'n lekker ruskansie te geniet in die winter sonnetjie Liz. en jy's reg, ons moet net tyd maak om alles weer 'n slag raak te sien.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Maree vir jou inloer hier, waardeer dit baie!!

      Delete