Saturday, 13 April 2013

Kompetisie-deelname

In die VLU en wel ook in Van Riebeecktak is daar baie geleenthede om 'n mens se kreatiwiteit te ontwikkel. Daar is Kongres-artikels, Konferensie-artikels en ook Tak-artikels wat ingehandig kan word as deel van kompetisie-deelname. 

Vir Kongres-artikels word vier tafelmatjies vanjaar ingeskryf. Dit moet gehekel wees. Nouja, ek het nou maar eers léér hekel! Ek geniet dit baie. Die hekelnaald gly seepglad deur die wol en vinnig-vinnig is daar iets moois om na te kyk. Ek sal oefen en hoop om dit goed te kan bemeester sodat ek volgende jaar ook iets kan inskryf... hou maar duimvas.

Onder Konferensie-artikels kan tolletjiebrei met krale asook 'n foto van 'n vrou ingeskryf word. Onnodig om te noem, ek het natuurlik die foto gekies. Toe Rebecca Maandag met haar vrolike pienk kopdoek kom help vensters was, neem ek 'n hele paar en laat haar besluit op watter een lyk sy die beste. Sy geniet dit baie! Die voorskrifte is dat dit 'n swart montering moet hê. Ek sou meer van bruin hou in hierdie geval, maar nouja.... ons wil ook nou nie gedikwalifiseer word nie, né.


Onder Tak-artikels in die Ope Afdeling is die deur wawyd oopgegooi en kan 'n mens enige artikel wat jy wil maak of onlangs gemaak het, inskryf. Met groot blydskap merk ek op dat die olieverfskildery wat ek 'n rukkie terug met my geliefde paletmes voltooi het, droog is. Dis ook nie te groot om saam te dra nie en is op geblokte doek gedoen. Kom loer na Contentment op "Paintings I love" as jy dit mooi groot wil sien.
Ek voel lekker opgewonde oor dié inskrywing. Dis mos maar waar die passie lê.

 
Daar is natuurlik ook Naaldwerk  (inkopiesak), Breiwerk (Peutertrui), Gebak (Quiche), Lekkers (Nougat) en Blomme (pienk) om in te skryf......maar ek ken myself, my beperkinge, my voorkeure en my liefdes en daarom kies ek onder Handvlyt 'n versierde bord. Ek koop sommer by Checkers 'n spierwit bord en by Wuco Verf 'n paar potjies geskikte verf. Totaal: R50, bord ingesluit. En toe verf ek herfsblare, hoe dan nou anders?
Die mooiheid van hierdie seisoen moet mos net iewers vasgeverf word. Ek skakel die oond aan op 180 grade Celcius. Die bord bak 'n halfuur lank. Nou sal die verf nie afkom nie. Dit was 'n interessante uitdaging, want dit was 'n eerste probeerslag.
 
 
My heel laaste en vierde inskrywing is 'n geskrewe stuk oor die VLU. Dìt geniet ek net so baie!
 
VLU

Vroue Landbou Unie.  So bekend.  So bemind deur baie.  Vir lank reeds deel van my woordeskat en my lewe.  Amper so geliefd en bekend soos oggendkoffie en beskuit.  Nooit verloor dit die besondere smaak nie.

My mooi  Ma se entoesiasme oor die VLU is steeds vasgeplak in die vergeelde blaaie van haar plakboeke wat nà haar dood hier op my rakke kom lêplek kry het.  Ek blaai dikwels daardeur om die nostalgie te koester en te bewaar.

Nà my lang loopbaan in die onderwys het ek op ‘n dag as afgetredene saam met ‘n vriendin ons plaaslike VLU-tak besoek.  Eerste indrukke is blywend en dit was nie lank nie, toe is ek ook deel van Van Riebeeck-tak  se vriendelike  en vlytige  vrouens.  Ons dra nie kappies en lang rokke nie.  Ons gesels nie net oor koekies bak en klere maak nie.  Ons is nie (almal) grys van haar en vol skete nie. Ons beweeg (nog) nie met moeite oor Moederaarde nie.  

Ons is bly oor elke nuwe dag. Ons is vol lewe en energie. Ons woon kursusse, konferensies en kongresse by.   Ons brei en hekel  vrolike, bont blokke.  ‘n Reënboogkombers vir later.   Ons bak en brou pannekoek en jaffels.  Die geur van kaneel  klou aan ons vas.  Ons kuier en klets, ons lag en gesels.  Ons deel ‘n duisend talente.  Ons leer bymekaar en van mekaar.

Iemand kan fyn filodeeg maak, ‘n ander een kan dit opeet.  Iemand anders kan ‘n trui in ‘n japtrap brei. Party hou van skryf.  ‘n Hele paar neem mooi  foto’s,  iemand anders lees voor, nog iemand luister.

Ons leer mekààr ook ken.  Elkeen is uniek.  Elkeen is geseënd. Ons deel ons vreugdes, ons hartseer, ons lewens.  Ons bemagtig vroue wêreldwyd en ook mekaar in die jaar 2013.
Ek sien baie uit na Dinsdag (16 April) se vergadering en wonder ook wat al die ander lede gaan saambring. Die heel lekkerste van alles is, is dat 'n mens niks moet doen nie, maar dit doen omdat jy graag wil.
 

Tuesday, 9 April 2013

Die goeie grond

Om in die tuin te werk is en bly 'n fees. Om skoon te maak, te hark, te spit, die goeie grond tussen jou vingers te voel....dis genade.  "O om boer te wees wat werk met sy hande in die son.." het W.E. G. Louw eens op 'n tyd gedig. Ek sou ook sommer digterlik kon raak oor die reuk van grond, die diep, bevredigende gevoel wat "werk in die son" by 'n mens bring.

Gister was so 'n dag: die héérlike weer wat ons die afgelope dae geniet het, het natuurlik grootliks bygedra. Nie wind nie, nie te warm nie, nie koud nie...sommer net reg!! En al speel die jare en die lyf nie meer so honderd persent saam nie, die gees is so, so gewillig! Ek het dit ook aan my ou getroue tuinjong se optrede agtergekom. Hy het mondogras geplant op 'n plek waar niks wou groei nie. En daar waar die tuin "woes en leeg" was, het dit na 'n ruk sommer lieflik gelyk! Iewers tussen-in merk hy so terloops op: "Au, my bene, hy's seer!" Ek weet hy kla nie verniet nie. Tog maak hy dit klaar. So mooi.



In die agterplaas haal ons onkruid uit, ek skuif die pot waarin 'n "ponytail" nou al vir jare groei, onder die perskeboom in, plant 'n paar vetplante. En weet dit gaan een van die dae mooi vol wees. Dankbare en maklike plante om te onderhou en die bekoring wat hulle inhou, is onbeperk! Ek verkyk my aan die res van die tuin waar daar so baie van hierdie vetplante welig groei.

 
 


 
By die fontein verlustig ek my in die songeel magrietjies. Ek wil hierdie seisoen vashou met albei hande, dit teen my hart druk, die lug daagliks diep inasem. As die yskoue winter aan die deur kom klop, wil ek terughuppel na hierdie heerlike louwarm sonskyndae.  
 
Dae waarin koper sonstrale op die silwereik se blare kom lê, dae waarin kleure soos geel, oranje en rooi die hoofrol speel tussen die takke van die baie bome hier in ons erf.
 
Op 'n stomp onder die karob staan die blikeend is haar blarerok en wag. Swartoog Susantjies rank welig om die bliklyfie en maak my hart bly.
 
Die natuur se kunswerk....'n ou stomp vol strepe en patrone.
 
Teen skemer klim die son agter die bure se heiningmuur in en gooi sy sagte strale oor die tuin. Die voëls se "voerkoppie" hang donker afge-ets teen die lug. Die lewe is mooi. En my hart is vol dankbaarheid vir nog 'n heerlike herfsdag.
 
 
 
 

 
 

Tuesday, 2 April 2013

'n Ou storie met 'n nuwe baadjie


 
Soos ryp appelkose.
Vandag was ‘n anderster Saterdag. Ek het iets gedoen wat ek nie gewoonlik op ‘n Saterdag doen nie. Ek doen dit nie eers gewoonlik op ‘n Maandag of ‘n Dinsdag of ‘n Woensdag nie. Ek doen dit nie eintlik nie. Ek het konfyt gekook.

Goudgeel appelkose hang ons boom vol in ons agtertuin. Ek en Bellatjie pluk soggens vóór skool ‘n handvol en eet dit sommer so in die loop kar toe as ons skooltoe moet ry. Héérlik, héérlik.

In my agterkop het ek beplan om vanjaar konfyt te kook, ons boom dra sulke heerlike vet, gesonde appelkose. Dis elke keer ‘n uitnodiging: “Toe, probeer net, dit kan nie te moeilik wees nie!” fluister ‘n stemmetjie deur die groen blare as ek verbyloop en een in my mond gooi. Ek dink aan my Ma se konfytbottels wat in rye op ons spensrak gestaan het toe ek nog kind-in-die-huis was.

Mara kom kuier by my, ons drink tee en gesels. Die appelkoosboom roep ons buitentoe. Ek vat ‘n mandjie en begin pluk, dra ‘n stoel uit en pluk dié wat hoër hang ook af. Ek pluk en pluk. Mara hou die mandjie vas. Toe dit vol is, gaan gooi sy dit uit in ‘n skottel. Ek pluk nog ‘n mandjie vol. Wie sou nou kon dink daar is so baie! En raai, dit kos nìks.

Ons gaan kook konfyt by Mara se huis. Ons luister musiek. Ons gesels. Die appelkose lê goudgeel in die kastrol en prutgeselse praat. Ek gee dit ‘n roer met die houtlepel. Skielik ruik ek my Ma se kombuis, ek hoor haar lag. Ek sien haar langs my staan. Ek knyp my oë styf toe en asem die salige onthou-geur van kokende appelkose in… in… in. Ek word weer iemand wat ‘n Ma het. Ek word weer heerlik jonk.

Ek en Mara en haar kind drink koffie, ons eet tuisgebakte hawermoutkoekies, die plaas se stiltes vou om ons op die voorstoep. Die huishondjies sit en wag vir iemand om hulle te bederf met krummeltjies koek.
Ons skep die konfyt in bottels, draai die deksels styf vas. Mara se man kom tuis:
”Hmmm, lieflike tekstuur, pragtige kleur!” terg hy. Hy smeer ‘n broodjie met goudgeel botter, plak vars konfyt daarop vas. Ons monde water en ons eet saam. Njammies!

Op pad huistoe ry ek by die begraafplaas verby. Daar staan die denneboom wat ek geplant het ses jaar gelede, yslik groot al, ek sien dit so in die verbyry. Daar is my Pa en Ma se graf.

Op die spensrak tuis staan agt bottels konfyt: goudbruin appelkose van ons eie boom. En in my hart leef my Ma en my Pa saam met elke snytjie brood waarvoor ek môre en oormôre gaan dankie-bid.

Elizabeth Kendall ©