Showing posts with label VLU. Show all posts
Showing posts with label VLU. Show all posts

Saturday 13 April 2013

Kompetisie-deelname

In die VLU en wel ook in Van Riebeecktak is daar baie geleenthede om 'n mens se kreatiwiteit te ontwikkel. Daar is Kongres-artikels, Konferensie-artikels en ook Tak-artikels wat ingehandig kan word as deel van kompetisie-deelname. 

Vir Kongres-artikels word vier tafelmatjies vanjaar ingeskryf. Dit moet gehekel wees. Nouja, ek het nou maar eers léér hekel! Ek geniet dit baie. Die hekelnaald gly seepglad deur die wol en vinnig-vinnig is daar iets moois om na te kyk. Ek sal oefen en hoop om dit goed te kan bemeester sodat ek volgende jaar ook iets kan inskryf... hou maar duimvas.

Onder Konferensie-artikels kan tolletjiebrei met krale asook 'n foto van 'n vrou ingeskryf word. Onnodig om te noem, ek het natuurlik die foto gekies. Toe Rebecca Maandag met haar vrolike pienk kopdoek kom help vensters was, neem ek 'n hele paar en laat haar besluit op watter een lyk sy die beste. Sy geniet dit baie! Die voorskrifte is dat dit 'n swart montering moet hê. Ek sou meer van bruin hou in hierdie geval, maar nouja.... ons wil ook nou nie gedikwalifiseer word nie, né.


Onder Tak-artikels in die Ope Afdeling is die deur wawyd oopgegooi en kan 'n mens enige artikel wat jy wil maak of onlangs gemaak het, inskryf. Met groot blydskap merk ek op dat die olieverfskildery wat ek 'n rukkie terug met my geliefde paletmes voltooi het, droog is. Dis ook nie te groot om saam te dra nie en is op geblokte doek gedoen. Kom loer na Contentment op "Paintings I love" as jy dit mooi groot wil sien.
Ek voel lekker opgewonde oor dié inskrywing. Dis mos maar waar die passie lê.

 
Daar is natuurlik ook Naaldwerk  (inkopiesak), Breiwerk (Peutertrui), Gebak (Quiche), Lekkers (Nougat) en Blomme (pienk) om in te skryf......maar ek ken myself, my beperkinge, my voorkeure en my liefdes en daarom kies ek onder Handvlyt 'n versierde bord. Ek koop sommer by Checkers 'n spierwit bord en by Wuco Verf 'n paar potjies geskikte verf. Totaal: R50, bord ingesluit. En toe verf ek herfsblare, hoe dan nou anders?
Die mooiheid van hierdie seisoen moet mos net iewers vasgeverf word. Ek skakel die oond aan op 180 grade Celcius. Die bord bak 'n halfuur lank. Nou sal die verf nie afkom nie. Dit was 'n interessante uitdaging, want dit was 'n eerste probeerslag.
 
 
My heel laaste en vierde inskrywing is 'n geskrewe stuk oor die VLU. Dìt geniet ek net so baie!
 
VLU

Vroue Landbou Unie.  So bekend.  So bemind deur baie.  Vir lank reeds deel van my woordeskat en my lewe.  Amper so geliefd en bekend soos oggendkoffie en beskuit.  Nooit verloor dit die besondere smaak nie.

My mooi  Ma se entoesiasme oor die VLU is steeds vasgeplak in die vergeelde blaaie van haar plakboeke wat nà haar dood hier op my rakke kom lêplek kry het.  Ek blaai dikwels daardeur om die nostalgie te koester en te bewaar.

Nà my lang loopbaan in die onderwys het ek op ‘n dag as afgetredene saam met ‘n vriendin ons plaaslike VLU-tak besoek.  Eerste indrukke is blywend en dit was nie lank nie, toe is ek ook deel van Van Riebeeck-tak  se vriendelike  en vlytige  vrouens.  Ons dra nie kappies en lang rokke nie.  Ons gesels nie net oor koekies bak en klere maak nie.  Ons is nie (almal) grys van haar en vol skete nie. Ons beweeg (nog) nie met moeite oor Moederaarde nie.  

Ons is bly oor elke nuwe dag. Ons is vol lewe en energie. Ons woon kursusse, konferensies en kongresse by.   Ons brei en hekel  vrolike, bont blokke.  ‘n Reënboogkombers vir later.   Ons bak en brou pannekoek en jaffels.  Die geur van kaneel  klou aan ons vas.  Ons kuier en klets, ons lag en gesels.  Ons deel ‘n duisend talente.  Ons leer bymekaar en van mekaar.

Iemand kan fyn filodeeg maak, ‘n ander een kan dit opeet.  Iemand anders kan ‘n trui in ‘n japtrap brei. Party hou van skryf.  ‘n Hele paar neem mooi  foto’s,  iemand anders lees voor, nog iemand luister.

Ons leer mekààr ook ken.  Elkeen is uniek.  Elkeen is geseënd. Ons deel ons vreugdes, ons hartseer, ons lewens.  Ons bemagtig vroue wêreldwyd en ook mekaar in die jaar 2013.
Ek sien baie uit na Dinsdag (16 April) se vergadering en wonder ook wat al die ander lede gaan saambring. Die heel lekkerste van alles is, is dat 'n mens niks moet doen nie, maar dit doen omdat jy graag wil.
 

Wednesday 23 May 2012

Van garage na voorportaal


Die volgende handvlyt artikel wat ons by ons plaaslike VLU-tak kan ingee, is 'n versierde potplanthouer. Met my vulpen maak ek 'n regmerkie langs dié artikel in my Jaarprogram. En in my gedagtes woel die idees: waarmee sal ek dit versier, waar gaan ek 'n pot kry....ek WIL dit doen! In die garage val my oog op 'n boepenspot waarvan die verf al afgeskilfer het. Dit staan net daar.

Verwaarloos.  Verwese.  Verlate.   Alleen.

Ek gryp die pot met 'n lied in my hart, was dit mooi skoon in die wasbak op die agterstoep. Nou gaan die pret begin. Ek grawe in die kas in my werkkamer tussen allerlei bêre-goed: mosïeksteentjies, stukkies lint, skoenveters...julle weet mos. Die knopeblik! Aangesien ek nie juis enige naaldwerk doen, buiten om my man se hemde of broeke se af knope nou en dan aan te werk nie, kan ek nou heerlik uitsoek tussen 'n groot verskeidenheid knope.

Ek plak die steentjies en knope met koue lym op die rand van die pot vas. Toe maak ek teëlsement aan en smeer dit sommer met my kaal hande oral oor die pot, nes 'n mens 'n baba se boudjies vol room smeer. Nou moet dit eers staan en droog word. Intussen doen ek ander dinge. Mens moet mos geduld hê in die lewe... die volgende dag verf ek dit oker, die kleur van klei uit die aarde. Weer droog word...verf weer met roesbruin. Ryk en lekker.

Later verf ek swart by, speel te heerlik en maak patrone. Met 'n kalligrafiepen druk ek goue kolletjies al om die rand van die patroon. Nou lyk dit sommer spiekeries! Ek maak die mosaïeksteentjies mooi skoon met 'n klam lap. Die pot is droog. Ek bekyk dit van 'n afstand af: nêrens in die hele wêreld is daar nog so 'n pot nie. My pot kry 'n ereplek op die kiaathoutafel met die bal-en-kloupote wat ek lankal terug by Tannie Lydia gekoop het. Dit staan in die voorportaal en wag om elke volgende besoeker met 'n warm glimlag te verwelkom. 'n Potplanthouer wat status gekry het.

Elizabeth Kendall ©

Wednesday 9 May 2012

Die eerste keer...


Gister was dit Naaldekokerdag: dié dag in die maand waarop lede van ons plaaslike VLU-tak bymekaarkom om dinge te doen wat vir ons lekker is! Ons doen dinge met ons hande en ons verstande...en kuier lekker saam in iemand se tuin of op iemand se groot stoep naby 'n oeroue akkerboom waarin honderde dorpsduiwe woon en spesiaal net vir ons sit en sing.

Ons het elkeen 'n kruis versier. Dit was vir my 'n heel eerste keer. Hierbo kan julle my wit-en-blou skepping aanskou! Ek het dit geniet om die paisley-agtige patrone daarop te verf...al bewe my hande ook so! 

Dit was so interessant om al die verskillende kruise te beleef: 'n houtkruis met growwe doringdraad om dit gedraai, 'n mosaïekkruis met netjiese steentjies in rye gepak, 'n kruis met noedels in krulle en draaie daarop vasgeplak....elkeen volgens eie smaak en fatsoen.

Die saamwees op 'n stil en rustige herfsoggend, die uitruil van gedagtes en belewenisse, mekaar aanmoedig en mekaar se geselskap geniet was alles deel van dié lekkerte. Hoe heerlik om op dié stadium van my lewe tyd daarvoor te kan hê!

En iewers tussen al die lekker deur het dié ou bekende woorde: "Ons moet in onsself sterf en die kruis opneem d.w.s wanneer die versoeking kom, moet ek my eie wil neerlê en swaarkry vir ‘n oomblik (my kruis opneem) en doen wat Jesus sou doen. Dus, ander belangriker ag as myself "... wéér kom vasskop in my gedagtes.. as ons dit maar net elke dag kan regkry.