Showing posts with label deelname. Show all posts
Showing posts with label deelname. Show all posts

Saturday 13 April 2013

Kompetisie-deelname

In die VLU en wel ook in Van Riebeecktak is daar baie geleenthede om 'n mens se kreatiwiteit te ontwikkel. Daar is Kongres-artikels, Konferensie-artikels en ook Tak-artikels wat ingehandig kan word as deel van kompetisie-deelname. 

Vir Kongres-artikels word vier tafelmatjies vanjaar ingeskryf. Dit moet gehekel wees. Nouja, ek het nou maar eers léér hekel! Ek geniet dit baie. Die hekelnaald gly seepglad deur die wol en vinnig-vinnig is daar iets moois om na te kyk. Ek sal oefen en hoop om dit goed te kan bemeester sodat ek volgende jaar ook iets kan inskryf... hou maar duimvas.

Onder Konferensie-artikels kan tolletjiebrei met krale asook 'n foto van 'n vrou ingeskryf word. Onnodig om te noem, ek het natuurlik die foto gekies. Toe Rebecca Maandag met haar vrolike pienk kopdoek kom help vensters was, neem ek 'n hele paar en laat haar besluit op watter een lyk sy die beste. Sy geniet dit baie! Die voorskrifte is dat dit 'n swart montering moet hê. Ek sou meer van bruin hou in hierdie geval, maar nouja.... ons wil ook nou nie gedikwalifiseer word nie, né.


Onder Tak-artikels in die Ope Afdeling is die deur wawyd oopgegooi en kan 'n mens enige artikel wat jy wil maak of onlangs gemaak het, inskryf. Met groot blydskap merk ek op dat die olieverfskildery wat ek 'n rukkie terug met my geliefde paletmes voltooi het, droog is. Dis ook nie te groot om saam te dra nie en is op geblokte doek gedoen. Kom loer na Contentment op "Paintings I love" as jy dit mooi groot wil sien.
Ek voel lekker opgewonde oor dié inskrywing. Dis mos maar waar die passie lê.

 
Daar is natuurlik ook Naaldwerk  (inkopiesak), Breiwerk (Peutertrui), Gebak (Quiche), Lekkers (Nougat) en Blomme (pienk) om in te skryf......maar ek ken myself, my beperkinge, my voorkeure en my liefdes en daarom kies ek onder Handvlyt 'n versierde bord. Ek koop sommer by Checkers 'n spierwit bord en by Wuco Verf 'n paar potjies geskikte verf. Totaal: R50, bord ingesluit. En toe verf ek herfsblare, hoe dan nou anders?
Die mooiheid van hierdie seisoen moet mos net iewers vasgeverf word. Ek skakel die oond aan op 180 grade Celcius. Die bord bak 'n halfuur lank. Nou sal die verf nie afkom nie. Dit was 'n interessante uitdaging, want dit was 'n eerste probeerslag.
 
 
My heel laaste en vierde inskrywing is 'n geskrewe stuk oor die VLU. Dìt geniet ek net so baie!
 
VLU

Vroue Landbou Unie.  So bekend.  So bemind deur baie.  Vir lank reeds deel van my woordeskat en my lewe.  Amper so geliefd en bekend soos oggendkoffie en beskuit.  Nooit verloor dit die besondere smaak nie.

My mooi  Ma se entoesiasme oor die VLU is steeds vasgeplak in die vergeelde blaaie van haar plakboeke wat nà haar dood hier op my rakke kom lêplek kry het.  Ek blaai dikwels daardeur om die nostalgie te koester en te bewaar.

Nà my lang loopbaan in die onderwys het ek op ‘n dag as afgetredene saam met ‘n vriendin ons plaaslike VLU-tak besoek.  Eerste indrukke is blywend en dit was nie lank nie, toe is ek ook deel van Van Riebeeck-tak  se vriendelike  en vlytige  vrouens.  Ons dra nie kappies en lang rokke nie.  Ons gesels nie net oor koekies bak en klere maak nie.  Ons is nie (almal) grys van haar en vol skete nie. Ons beweeg (nog) nie met moeite oor Moederaarde nie.  

Ons is bly oor elke nuwe dag. Ons is vol lewe en energie. Ons woon kursusse, konferensies en kongresse by.   Ons brei en hekel  vrolike, bont blokke.  ‘n Reënboogkombers vir later.   Ons bak en brou pannekoek en jaffels.  Die geur van kaneel  klou aan ons vas.  Ons kuier en klets, ons lag en gesels.  Ons deel ‘n duisend talente.  Ons leer bymekaar en van mekaar.

Iemand kan fyn filodeeg maak, ‘n ander een kan dit opeet.  Iemand anders kan ‘n trui in ‘n japtrap brei. Party hou van skryf.  ‘n Hele paar neem mooi  foto’s,  iemand anders lees voor, nog iemand luister.

Ons leer mekààr ook ken.  Elkeen is uniek.  Elkeen is geseënd. Ons deel ons vreugdes, ons hartseer, ons lewens.  Ons bemagtig vroue wêreldwyd en ook mekaar in die jaar 2013.
Ek sien baie uit na Dinsdag (16 April) se vergadering en wonder ook wat al die ander lede gaan saambring. Die heel lekkerste van alles is, is dat 'n mens niks moet doen nie, maar dit doen omdat jy graag wil.