Pa en Ma (1974)
3 Junie…’n dag wanneer winter gewoonlik wit
op die grasperk lê, ‘n dag wanneer mens weet dis nou maar eers die begin van
nog baie koue dae vorentoe. Dit knyp met ysvingers aan jou bene as jy die
hekkie vir die ousie gaan oopsluit. Teen die buitemuur staan die kannas
modderbruin en jy wonder of jy dit nie maar kort moet afsny nie. ‘n Dooie blaar
is so heeltemal dood.
Maar 3 Junie is vir my en my kinders ook ‘n
onthoudag. Ons onthou heerlike saamkuiers by ‘n gedekte tafel met eetgoed wat
jou mond laat water. Nog ‘n koppie tee. ‘n Koppie, nie ‘n beker nie. En ‘n mooi
koppie, Royal Albert se fyn porselein met lieflike blommetjies op. Tee proe mos
net baie lekkerder in so ‘n mooi koppie.
Ons onthou haar lag, haar omgee, haar
menswees. Ons onthou haar sorg, haar mooi rokke, haar wit hare, haar netheid.
Ons onthou haar liefde vir alles wat mooi was: haar musiek, haar boeke, haar
kinders en kleinkinders. Ons onthou haar liefde vir haar man. Ons sien hulle
blywees in ons gedagtes. Ons bêre dit in ons harte, vir altyd. Ons verjaar nog
‘n jaar saam met haar.
3 Junie is ‘n wonderlike warm dag aan die begin van nog ‘n geseënde winter,
want ons onthou my Ma.
Elizabeth Kendall ©