Ek besef dit dikwels. Ek kom baie maal tot stilstand en dink daaroor na. Ek is jubelend bly en dankbaar daaroor. Ek het 'n goeie man gekry. Dis 'n seëning vanuit die hemel. Dis 'n skuilplek teen die koue. Dis soos heuning in my tee en konfyt op my brood. Dis 'n bonus.
Hy is sorgsaam. Hy sien dinge raak wat 'n mens nie sal dink 'n man sou raaksien nie: as my badskuim begin laag lê, koop hy 'n nuwe bottel en sit dit stilletjies in die badkamer neer. Al wat ek moet doen, is om die proppie oop te draai en dit te geniet. Gaan ek dorp toe en kom terug, wag die oop garagedeur vir my. Lees hy iets lekkers raak in die koerant wat hy dink ek van sal hou, deel hy dit met my. Smag ek na groente, gaan koop hy beet en wortels en brokoli en maak dit gaar met liefde in sy vingerpunte. Kom kuier die kinders, ry hulle nooit as te nimmer hier weg met leë hande nie: 'n stukkie vleis uit die vrieskas, 'n sakkie vol vrugte, 'n boek waarin hulle belang stel.
En kuier ons soms heerlik saam met vriende, sorg hy vir die pittige sêgoed, die grappies, die kwinkslae. Saamlag en saamhuil is mos deel van menswees. En dis alles maar genade van Bo.
Man + -nin
Ek het jou lief soos die lig
van ‘n nuwe dag, oop en skoon
of soos die vaalbruin en
koper blare
van die akkerboom dié tyd van
die jaar
rustig, wagtend vir die
dartelende dans
van soel somersonstrale deur
groen blare
ek het jou lief soos die
sagte vlerksleep van ‘n duif
wat êrens vanuit die blou
bokant ons
op die agterstoep se dak kom neerdaal
Jy het my lief soos die
klippe en kranse
teen die berghang, soos die
skadu’s
onder die hardekoolbome,
soos die roep van ‘n
vleiloerie,
die eerste reëndruppels op ‘n
sinkdak
Ons liefde huppel in die son,
dit kniel in die koelte –
ons liefde hou nooit op nie,
dit dans oor die bergtoppe,
dit buig teen die wind
ons asem dit in
en ons lag
Elizabeth Kendall ©