Ek het nie juis getel nie, maar ek dink dit was langer as twee ure wat ek tjoepstil staan en wag het in die voorste kamer. Die kamera gereed op die vensterbank, aangeskakel, fokus ingestel...al wat moes gebeur: die voëltjies uit Bronkies se winterhemel moes kom water drink.
'n Klein bondeltjie vere met 'n brilletjie op was die heel eerste present! "Klik"....hoera! Toe ek dié foto van naderby bekyk, was ek verwonderd oor die dingetjie se perfekte pootjies, die bekkie, die hele ou liefhêlyfie. Hoe wonderlik is God se Skepping. 'n Glasogie het vir my op 'n Sondagmôre kom kuier. My hele dag het onmiddellik mooi geword. Ek het net daar by die venster bly staan en gewag op meer wonderlikhede.
Toe 'n mossie ook dors raak en op die waterbak se rand kom sit, was dit beter as konsert kyk vir my...
Kyk tog net! Hoe meer siele, hoe meer vreugde! Drie geveerde geel bondeltjies, elkeen in sy eie geluksalige wêreld.
'n Lyster... die sopraan van die tuin is mos al vroegdag wawyd wakker. Dié dat hy ook nou lekker dors is en 'n slukkie water soek.
Kransduif kleur die oggend verder in. Die heelmooiste dag het pas begin.