Showing posts with label Skottel en spens. Show all posts
Showing posts with label Skottel en spens. Show all posts

Monday, 6 May 2013

Maandag se mooi nuus!

Ek word altyd vroeg wakker. Noudat dit winter is en 'n bietjie later lig word, kry ek dit wonder bo wonder reg om 'n halfuur meer slaaptyd te geniet. Die oggendstiltes is salig. Nà my stiltetyd kyk ek gewoonlik wat lê en wag in die e-posbus.
 
Vanoggend kry ek 'n heerlike verrassing! Twee jaar gelede het 'n man met die naam Peet du Toit my genader om van my gedigte te gebruik in 'n boek wat hy toe beplan het om te publiseer. Ek het dit nie vergeet nie.
 
Vanoggend kry ek 'n brief waarin hy met blydskap aankondig dat die boek:
Skottel en Spens. Stories, verse en resepte uit die Afrikaanse koskultuur uit Singapoer aangekom het, waar dit gedruk is en dat dit tans afgelaai word in die Durban-hawe. Verdere goeie nuus is dat teen die einde van Mei met my verse Kos is op die tafel, My Taal en Bestemming  in die handel beskikbaar te wees.
Só gaan dit lyk:
 
 
Om meer hiervan te wete te kom, kyk gerus na die webblad:
www. duto.co.za
My gedigte:

Kos is op die tafel
Jy maak vir ons bobotie in ons groen kombuis
met kerrie en borrie, amandels en peper
en suurlemoensap wat nat druppels
aan jou vingerpunte hang

Goeie, gawe geure kuier en klou
hier waar ek sit en versies skryf
en ek sien my Ma op haar agterstoep staan
blou voorskoot aan langs die krismisrose

tafel gedek
al drie haar kinders op hul plek
roep sy ons Pa om te kom eet

dis lankal terug se weet

Toe ek aan tafel sit langs jou
het ek my gisters vredig opgevou
verwonderd oor die geel kombers
op die heerlike dis:

dis mos wat liefde is
***


My taal

Soos ryp appels in my hande

wil ek die woorde van my taal

vashou en blinkvryf

knarsend kou en

luister na die klanke

helder, oop en mooi

so heerlik
appelbloedbloedrooi

my taal waarin ek troos

my taal waarin ek bid

dié taal wat kruisbeen

in my binnekamers sit
 
***
 
Bestemming
 
Kom klim in en ry saam met my
tot waar die pad sy stertpunt kry
waar die werfhaan smôrens vroeg
'n nuwe dag oopkraai
waar stokrose teen die wind
'n staanplek langs die wit muur vind
en op die groot ou stoep
'n litroos in die drom
helderpienk en hoopvol blom
 
waar mens die reuk van grond kan proe
en in die warm kombuis
'n vetkoek eet met stroop
wat taaisoet toue tap
as Ma teen twaalfuur
haar voorskoot eenkant gooi
haar liewe hande om die kos
haar man, bruingebrand en sterk
honger van die dag se werk
die kinders: welgeluksalig-bly
wag vir Pa se seëngebed
 
kom klim in
 dan wys ek jou hoe lyk liefhê en vertrou
in eenvoud uitgespel
 
op die plaas doer duskant ver
slap links verby die môrester
 
***
My hart sing sy eie blyweeslied op hierdie Maandagmôre. Dankie vir talente, vir die vreugde om te deel, dankie vir menswees!