Showing posts with label Gr.Een. Show all posts
Showing posts with label Gr.Een. Show all posts

Tuesday, 22 May 2012

Toe sy in Gr. Een was

Toe sy uit die motor klim, gryp haar ogies my vas: “Ek kom by jou bly!” praat die mondjie met die skewe glimlaggie. Ek vou haar klein handjie soos ‘n babavoëltjie in my hand toe. Sag. Sag.
Terwyl sy in die skool is, pak ek haar klere mooi netjies in die kas. Voor in die bruin kamer met die outydse bedjie en die lekker baie boekrakke, die houtvloer en die tjoklitgordyne.
Klein kleertjies: t-hempies en broekies, reënboogpantietjies, ‘n paar mooi rokkies: rooi met pofmoutjies, pienk, groen. Skielik is daar ‘n blomtuin in die kas. En in ons huis trippel klein voetjies oor die plankvloere.

Marietjie, die pop wat ek by my Pa gekry het toe ek vier jaar oud was, sit op die bed. Sy wag geduldig vir Bellakind om terug te kom van Graad Een af. Hulle twee kuier elke middag in hul eie wonderwêreld van drome en stories en verbeel-jou-maars. Dan word Marietjie die kind en Isabella die Juffrou. Hulle praat soms Engels as hulle so voel.


Ons doen ook huiswerk. Dinge het verander. Graad Een is nie meer net kleispeel, toebroodjies-uitruil en vir Juffrou ‘n blom vat nie. Daar is werk om te doen. Klein vingertjies oefen daagliks die letters van die alfabet, oor en oor op Juffrou se voorbeeld. “Ek kan, ek kan!” sê Isabella slim as Ouma wil wys.
Daar’s borgvorms en vertonings en ‘n skoolhoof se verjaarsdag, daar’s maatjies by die skool en ‘n nuwe pienk kosblik in die tas. Soggens stap sy Graad Een-Parrabeen vol selfvertroue alleen tussen die roosbome deur na haar klaskamer toe. “Ouma, jy moet waai!” groet sy vrolik. Ons gooi klapsoene deur die lug.

Teen laatmiddag is dit lekker buite. Die warm son het agter die muur gaan lêplek soek. Hagar, die swart Labrador, weet. Sy stert swaai jubelend as ons uitkom. Sy oë blink. “Hagaitjie, Hagaitjie!” roep Bellakind haar hondemaat. Ons gooi vir hom ‘n rubberbal, maak beurte. Hy gaan haal dit, maar is nie te lus om dit dadelik terug te gee nie.
”Hagar!” raas Bella. “Gee die bal !” Hy laat val dit uit sy bek, krap dit met sy poot onder sy bors in en lag vir haar. “Hagaitjie, gee!” flikvlooi sy mooi en wikkel met die klein handjie onder die swart hond se warm lyf in. Gryp die bal. Skaterlag! “Ouma, kyyyyyk!” en daar trek die bal weer met Hagar agterna. Heerlike, heerlike somersmiddae vol pret.


Ons hou konsert. Ouma sit op die houtbank onder die boom. Die fontein se water sing ‘n sagte liedjie van liefhê. Isabella word ‘n prinses, ‘n sangeres, ‘n ikoon. Sy sing en sing. Rittel die lyfie, draai die ogies: “O, ek wil huistoe gaan, na mamma toe. Die rivier is vol my trane rol. ‘n Bokkie wat vanaand by my wil lê, sy kan maar lê, ek is ‘n loslappie!”
Ouma klap hande. Hagar swaai sy stert. Die voëls in die bome fluit saam. Later kom Oupa ook. Nou is ons ‘n skare. Ons klap hande soos duisend mense. En ons lag. Ons drink tee uit blou boepensbekers.

Toe dit slaaptyd is, bid Bellakind: “Dankie liewe Here, vir kos en klere. Dankie vir ‘n Mamma en ‘n Pappa en vir Reuben. Beskerm vir Mamma en vir Pappa en vir Reuben. Beskerm vir my en vir Ouma en Oupa. Dankie dat ek nou lekker gaan slaap. Seën ons. Amen.”
Ek trek die duvet oor die smal skouertjies. In my hart brand ‘n kers. Die lig daarvan is sag en warm.