Nooit word ek moeg daarvoor om foto's te neem nie. Dis elke keer 'n groot genot om te kom loer wie dié dag se kuiergaste in die tuin is.
Vandag was ek verras om my eie foto te sien, 'n gevlekte lyster het jou wrintiewaar kom kuier.
Die woestynrosies floreer. Ek het hierdie idee op Pinterest gesien. Toe keer ek 'n gekraakte pot om en plant my echeverias daarin. Nà 'n paar maande lyk dit al amper soos 'n Pinterest-prentjie, nie waar nie?
Niks straal vrede en stil vreugdes so mooi uit soos 'n tortelduif by die waterbak nie....
'n Paar tonele in my tuin. Die geel madeliefies is omtrent uitbundig vanjaar.
'n Rooiborsduifie kom drink water by die fontein. Hy steur hom nie aan Hagar en Brakkies wat op die gras daar naby speel nie. Elkeen in sy eie wêreld. En ek het die voorreg om alles rustig te geniet.
Nog nooit het Hagar vir Brakenjan afgeknou nie. Nog nooit. Maar Brakkies is versigtig. Sy lyftaal wys baie keer dat hy die grootste respek vir sy ou Labrador-maat het. Hulle kan vir ure so speel.
Bo-op die huis se dak loop 'n kransduif en bekyk die wêreld. Ek wonder wat dink hy.
My goudgeel vygies wat my twee kleinkinders laas jaar help plant het blom aanhoudend. Hulle glimlag in die volson wat smiddae daar waar hulle staan, skyn.
Hierdie kalant is niemand se speelmaat nie. Ek verlustig my aan die mooi vertoning wat hy teen die grys sementmuur maak.
Geel madeliefies. Goudgeel geluk.
Dit is beslis lieflik buite, die koeler weer maak dit 'n plesier om die tuin te besigtig! Lyk of daai gevlekte lyster spesiaal net vir jou 'pose'. En ek moet net vir jou sê dat jou Echeverias mooier lyk as enige Pinterest prentjie!
ReplyDeleteDie water in jou tuin is so 'n wonderlike lafenis vir die voeltjies, g'n wonder hulle lief dit om daar in jou tuintonele rond te kuier! Hagar sê seker dankie vir die dag dat Brakkie ingetrek het, hulle is so perfek saam. Jou Kransduif foto is SO mooi, ek dink ek moet nog 'n slag probeer om een te skilder.
Dis tyd dat ek ook weer vygies plant, dis volgende op my lys! En ek hoop my doring-kalant word so mooi soos joune.
Wat 'n heerlikheid om hierdie lekker lang kommentaar hier te lees, baie dankie Maree!! Jou "Eve's Needle" sal beslis nog uit sy nate bars, wag maar net!! Dis mos met liefde gestuur.
DeleteDankie vir die kykie, Elizabeth, ek kan sien hoekom jy jou wêreld so geniet -- pragtig!
ReplyDeleteDankie vir die kuiertjie Vic, bly daaroor!!
Delete