Friday, 16 October 2015

Hoe sê mens dankie

Gaan jy en Laura nie meer Aardklop toe nie?” vra sy gesels-gesels toe ek haar in die dorp raakloop. “Nee, ons was so lanklaas daar,” antwoord ek doodgewoon.

So in die terugry huis toe onthou ek die Aardklop-toe-gaan-dae. Die opgewondenheid. Die heerlike vertonings, die baie mense, die vrolike sang, die tamatiesous en kitskos by die baie stalletjies, Potch se bome, die koshuiskamer wat ons gedeel het, die plekke waar ons tee gedrink en gekuier het. Dit was wonderlik.

“Nee, ons gaan nie meer Aardklop toe nie, ek gaan Pick en Pay toe en poskantoor toe en vandag gaan ek en Chrisjan Klipeiland Slaghuis toe,” praat ek met myself in die kar. Tye verander. Dinge verander. Lewensomstandighede verander. Ook in Laura se lewe. In elkeen van ons se lewe verander dinge. Net die onthou bly.

Gistermiddag kry ek ‘n e-pos van my liewe nig van Alberton. Ek het so min familie oor. Ek koester dié wat ek nog het. Sal ek vir haar van my rubrieke stuur waar ek vertel het van Chris se stryd teen kanker. Sy vra so mooi. Sy wil dit met hul predikantsvrou deel. Ek gee nie om om te deel nie. Dis mos ‘n voorreg. En as iemand my woorde wil lees, is dit ‘n soliede stuk genade: ‘n Sagte sonstraal uit die hemel wat my dag verlig. Ek stuur vir haar ‘n paar daarvan. So in die uitsoek na dié geskrifsels, val my oog op die woorde. Woorde wat vertel van seer en swaar. Woorde wat praat oor geloof en uithou en moed en hoop. Veral hoop.

En skielik besef ek weer van vooraf: ons God van hemel en aarde het ‘n wonderwerk in my en Chris se lewe laat gebeur. Laas jaar dié tyd was die opdraendes steil en die pad klipperig en vol diep dongas. Nou loop ons al amper gelykpad. Al dra hy steeds ‘n slingerverband om sy linkerarm. Al kry hy so warm daarmee dié tyd van die jaar. Hy doen sy oefeninge. Vinger-en armstrekke, skouer-en handbewegings, oop en toe, oop en toe, swaai soos ‘n pendulum. Ontspan. Ontspan. Elke week fisio toe. Eina. Moedhou. Vasbyt. Toe hy ‘n jongman was, het hy berge uitgeklim, om rugbyvelde gehardloop, uit helikopters gespring. Nou hou hy een gesonde hand bo-oor ‘n hand met twee “dooie” vingers, twee treë vorentoe en strek. Twee treë agtertoe. Ontspan. My liefste Chrisjan.

Nooit gee hy moed op nie. Nooit hoor ek hom kla nie. Dikwels lag ons saam oor simpel goed. Gereeld verlustig ons ons in die eenvoudige en mooi om ons: die eerste rose nà die winter, ‘n perfekte pienk kaktusblom, die honde se eiesoortige maniere, die duiwe se aanhoudende sang in die boomtoppe.

Dwarsdeur agtien chemosessies, dertig bestralings, nog tien voorkomende breinbestralings, ‘n operasie om sy slukderm te rek, ‘n skouer en elmboog-operasie om vasgeklemde senuwees los te maak. Dwarsdeur alles klou ons vas aan twee lewensbelangrike dinge: geloof en hoop. Ons bid. Ons glo. Ons wéét ons is nooit alleen nie. God dra ons. Dag nà dag nà dag. Hy abba ons, Hy troos ons, Hy help ons. Hy het ons lief. Ons kry dit reg. Een dag op ‘n slag.

Ons gaan nie meer Aardklop toe nie. Ons gaan ook nie Bosveld of Timbaktoe of Kaap toe nie.  Nie op die oomblik nie. Maar vandag gaan ons slaghuis toe en ons gaan maalvleis en skaaptjoppies en wors en wat nog koop en ons gaan huistoe kom met groot dankbaarheid in ons harte, want Chris kry weer makliker gesluk, sy kuif lê weer mooi, sy glimlag maak my hart so bly. Die herstelpad is ‘n lang pad. ‘n Saamlooppad. Hoe sê mens dankie? Ek weet nie.  Ons sê dit net. “Dankie Here!”


Sunday, 4 October 2015

Oeroue granaatbome

Dis donkiejare se dinge dié. Granaatbome in ons tuin. Of nie regtig nie? Nooit is mens ooit te oud om te leer nie. Nietemin, in hierdie tuin is daar twee bome waarmee ek, amper sê ek saam oud geword het.  Iewers het ek die woord granaatroos gehoor en was vir jare doodtevrede daarmee. 'n Vriendin van lankal reken haar ma het dit 'n blomgranaat genoem. Mooi naam. Noudat die somer aangebreek het en alles uitbundig begin blom, het dié granaatroos/blomgranaat skielik my volle aandag! 



Die een dra pienkrooi en wit blomme en die ander een bloedrooi blomme. Te pragtig! Die blomme val egter altyd baie gou af. In al die baie jare het dié twee bome nog nooit granate (vrugte) gedra nie. Net altyd 'n baie mooi vertoning gemaak aan die begin van ons somer seisoen. (Okt. , Sept.) 

Punica granatum, the pomegranate, is a tree that is native to Iran and India, hence thriving in hot, dry conditions akin to those found in the Mediterranean. While pomegranate trees are drought tolerant, they do need good, deep irrigation periodically – similar to the requirements for citrus trees. Not only is the plant grown for its delicious fruit (actually a berry), but it is cultivated for the stunning bright red flowers on pomegranate trees. (Inligting: gardening Know How. )
Die vraag is nou: het my bome te min water gekry deur die jare, hoekom dra hulle nie vrugte nie? 
Finally, although the tree is drought resistant, it still needs a good deep watering if you want it to produce fruit. Too little water will cause the blossoms to drop from the tree.
My antwoord kry ek toe wel, hoe wonderlik dat kennis deesdae met die klik van 'n sleutel op die rekenaar na jou toe aangevlieg kom.
Some pomegranate trees are strictly ornamental and may be grown for their striking flowers.
En "striking" is die blomme inderdaad! 



Vanoggend vroeg tuin natgespuit tussen ses en sewe. Kyk hoe bly is die blare en blomme! 
Ornamenteel, oeroud en tog so mooi. Geen wonder dat daar al hope gedigte in Afrikaans geskryf is oor granate nie. 'n Verleidelike vrug en ewe verleidelike blom. 

Thursday, 17 September 2015

My dag in prentjies

Groen is nie net groen nie. Dis grasgroen, dis liggroen, die donkergroen, dis geelgroen, dis mooigroen, dis akkerboomgroen. Dis skildergroen.
Rooikophoutkapper en rooioog kransduif deel die vreugdes van 'n saad-ontbyt.

 Bontrugwewer kom loer of daar vir hom ook 'n happie oorgebly het. 
 Stukkies mooi in die tuin. 

 Jasmyn hang in lekkerruik ranke oor die plankheining.  






 Mayflower begin blom. 

 Suurlemoenboom se blare.

 Rhubarb.

 Jasmyn

Appelkoosboom. Laatmiddagson op die blare. 

Sunday, 13 September 2015

Die mooiste Sondag


Ek wou dit gister al maak. Het klaar al die bestanddele gaan koop, maar toe ek tuiskom, onthou ek dat ek die spek vergeet het. Ag! 

Hy sê toe, getrou aan sy sorgsaamheid en omgee, hy wil (en moet) dorp toe gaan. Elke keer as hy dit sê, is ek bly. Nie dat dit so opwindend is om dorp toe te gaan nie, enige-iemand kan dorp toe gaan, soveel maal as wat hy wil. 
In sy geval is dit 'n egter 'n hengse prestasie. Hy bestuur self. Hy ry alleen. Hy lê nie meer hulpeloos en afhanklik op sy rug op ons bed nie. Hy word sterker by die dag. Prys die Here van hemel en aarde! Sing 'n jubellied! 

Nietemin, ek maak toe dié mondwater en super-maklike gereg wat ek op Maree se blog raakgelees het, nà kerk. Hy sit onder die groenerwordende perskeboom en geniet die somerson op sy hande en arms, op sy gesig wat al meer en meer na Chris begin lyk. Nà 'n jaar en 'n maand lyk hy weer soos hy. Hoe wonderlik. 
Geelwortels, seldery, uie, stukkies spek...... hmmmmmm! 

              Maalvleis bygevoeg, 'n glas rooiwyn....
 Grand finale! 

"It's you, it's you, it's you!"
 En ons luister musiek, Joe Dolan, Bob Seger.... 

"Some day lady, you'll accompany me..." 


 En ons kuier. Net ons twee en die voëls en die honde. 


DANKBAARHEID  is een klein woordjie met so baie betekenis. Veral nou, veral vandag. Die mooiste Sondag. 

Lewensvreugde

Pluk ‘n handvol drome
 met sterre in jou oë
 wys dat jy ook omgee
 en aan liefde glo

hoor hoe sing die geelvink
 die tiptol en t’rantaal
 dis agter uit die berge
 waar hul die fluit loop haal

pak jou sorge in ‘n streepsak
 lag en wees weer bly
 sukkels lê mos agter
 vandag is jy tog vry

blink jou oë van blywees
 of buig jou skouers krom
 dink nie eers nog eenmaal
 gee alle eer aan Hom

lewe is mos lekker
 kom leef nou saam met my
 bars ons uit ons nate
 juigend-jubelbly


Elizabeth Kendall ©

Saturday, 29 August 2015

Die jongste nuus

Dis eers toe ek binne is, dat ek die gevoel kry dat dit dié keer anders is. Ligter. Sommer baie ligter. Weg is daardie vorige besoeke se vasdrukgevoel van kan-nie-asem-kry nie. Maar ons weet nog niks. Geduld hang soos 'n swaar gordyn tussen ons en die blymaakkkonsert. Tog glo ek. Hy ook. En ons wag.
Hulle roep hom vir die "scan". Ek, immers aan sy sy, hoe dan nou anders?  Hy trek die donkerblou jurk aan, verdwyn saam met 'n jong dingetjie in 'n vertrek vol mediese apparate. Gaan lê op sy rug op die smal bedjie. Self ook maar smal en baie bietjie nà 'n hele jaar se chemos en bestralings.
Toe dié prosedure klaar is, gaan wag ons vir die dokter. Hy sal sê. Ons lees laasmaand se tydskrifte, rek bene buite in die lenteson, kyk hoe die vinke nesmaak in die koorsbome, knoop geselsies aan met bekendes. Ons wag. Niks bekommerd nie.
Nà 'n uur of wat mag ons die hemelpoorte binnegaan. Juig! Die mooie dokter groet met 'n stewige handdruk. Ons wissel 'n paar onnodige woorde, kan nie gou genoeg by die "million dollar question" uitkom nie: "Hoe lyk die verslae, dokter?"
Toe hy dit sê, voel ek hoe my oë van agter af warm word, vol word. As ek dit sou knip, sou die blyweestrane bo-oor die tafel spat. "Alles lyk goed. Alles lyk reg! Bloedtoetse reg. Geen snaaksighede nêrens nie, alles mooi!" Hoera, hoera! Prys die Here! Elke klein en groot gebed is verhoor. Jubel en juig.
Toe ons buite kom, plak ek 'n soen op my man se mond. Ons lag die lentedag mooier. Nou net vorentoe kyk.
By die winkelsentrum aangekom, parkeer ek bo en moet ons noodwendig van die roltrap gebruik maak om te kom waar ons wou wees. Vir twee dinge in hierdie lewe is ek, noem dit maar "skrikkerig": 'n hotnotsgot en 'n roltrap. Moenie eers vra hoekom nie. Mens mag mos maar vir so min goed bang wees. Ek is.
Ek mik en trap soos altyd in die verlede (soos nog voor Chris deur al sy driwwe en dale moes gaan) en daar gaan ek. Af met die roltrap. Toe kyk ek om. Nooit! Daar staan my man, heelbo. Verlore. Hy mik-mik. Sy hele lyf huiwer. Onlangse onkologie hang oor sy onseker bene en arms. Paniek pluk aan my hart. 'n Vreemde vrou wat boontoe roltrap ry, sien my angs. "Ek sal hom help," sê sy soos 'n engel-uit-die-hemel. Die roltrap rol my al verder en verder weg van my hartsmens daar bo. Ek bly omkyk. Kon ek maar in ‘n soutpilaar verander! Bid hardop: "Moet asb. net nie nou vorentoe tree nie, my lief!" In my gedagtes sien ek al hoe hy holderstebolder van bo af aftuimel en stukkend breek.
Net toe is die vrou by hom, langs hom, teen hom. Hy hou aan haar skouer vas en kom soos 'n Kersfeespresent na my toe aan. Sela. Nog 'n keer dankie, dankie, dankie.
Dit was gister. Vandag loop ons grondlangs, ons harte op die heelboonste roltrap van die lewe.

29 Augustus 2015. 

Saturday, 1 August 2015

'n Jaar van genade

'n Hele jaar is verby. Driehonderd-vyf-en-sestig en 'n kwart dag. 'n Jaar sedert ons die skrik-nuus gekry het: Chris het longkanker. In ons kleingeloof het ons krag gekry. Elke dag. Elke uur. Elke minuut. Die Here het ons vasgehou, ons gelei, ons gedra. Dwarsdeur elke drif en diepte, elke slaggat en sloot. Hy het Sy liefde en sorg oor ons uitgegiet en ons versterk.
En hier is ons nou met harte wat oorloop van dankbaarheid. Laasweek het Chrisjan sy eerste ordentlike haarsny gehad. Toe die Pakistani die knipper bokant en agter sy ore instoot, val daar hope hare op die vloer. Niks snaaks nie, maar vir ons 'n wonderwerk. Verby is die kaalkopdae. My man het weer hare! Hare wat blink in die son, hare wat gekam kan word. Skuinspaadjie, soos hy wil.

O ja, hy is nog swakkerig. En o ja, ek is nog steeds die vetter ene van ons twee. Ek moes mos eet om sterk te bly. Al was daar dae wat ek nie honger was nie. Hy kon nie, nie altyd nie. Daar was dae wat hy niks kon inkry nie. Maar nou kan hy. Hy eet die gesonde groentesop, die saggekookte hoendervleis, die broodjie-met-gouda op, hy eet alles wat ek vir hom aandra. Wonderlik is dit as hy sê:"Dit was heerlik!" En die kos bly binne. 'n Voordeel het uit al die nadele tevoorskyn gekom: ek het weer leer (lekker) kosmaak. Regtig.

Daar was weke in wit hospitaalbeddens, drips en kateters en swart susters, dokters wat verduidelik en mense wat bemoedig, dertig en nog baie meer dae van heen-en-weer ry Pretoria toe en terug. Nou is dit alles verby. Juig aarde juig!

Soggens as die winterson dooierus op die plaveisel langs ons huis vat, stap Chris buite rond, hy gaan saam Pick & Pay toe, hy koop self ons vleis by Kwaliteit Slaghuis, hy trek sy eie geld by die kitsbank al gaan dit sukkel-sukkel. Sy hande is nog dood, sy hak pyn, soms skiet einapyne deur sy bene. "Dit moet nog van die chemogif wees!" Ek smeer room aan en vryf sy dun bene. En ons bid sommer so heeldag tussendeur. Geduldig wees is 'n goeie ding.

Buite ons slaapkamervenster hang 'n voerplankie vir die voëls. Elke dag kom kleur janfrederik ons dag in. Die ou groot kransduiwe laat die plankie kantel, dan val die meelwurms op die grond, waar jantjie dit oppik. Goudgeel vinke en bontrugwewers, vaalgrys muisvoëls, 'n bottergatjie, klein glasogies en mooi bloedrooi houtkappers is almal deel van ons geveerde vriende. As Chris daar in die lekker warm bed lê, het hy 'n skouspel om na te kyk. Gratis en goed.  'n Presentjie reguit uit die hemel.

Môre verjaar my liefman. Die kinders kom kuier. 'n Naweek vol blydskap en dankbaarheid. 'n Lewe om te vier! Dankie Here. Dankie, dankie.


Saturday, 6 June 2015

'n Voorreg

Ons was onlangs by Dikhololo vir vyf heerlike dae lank. Ja, dit klink doodgewoon. So baie mense gaan so dikwels Dikhololo toe of Sabie toe of Dullstroom toe of dalk selfs Weskus toe. Vir ons was dit baie spesiaal en 'n baie groot voorreg, want ons harte was vol blydskap. 

Ek het dit reggekry om al die pad soontoe en terug te bestuur. Ons het die heerlikste brood op Brits gekoop. Die reuk daarvan was die hele kar vol. Die elf kilometer grondpad net voor mens Dikhololo se hek binnery, was 'n belewenis. 

Die dae was vol vrede en vreugdes. Rustig. Tevrede. Dankbaar. 

Met groot waardering en bewondering het ons die heerlike klimaat en talle diere en voëls, klippe en bome, gras en bosse geniet en beleef. Dit was weer lekker om te lewe! Chris is op sy herstelpad nà tien maande van worstel en sukkel. Hy het selfs op Dikhololo se grondpaaie weer kar bestuur. Hy het klein entjies gaan stap. Hy kon eet. Van braaivleis en swaar kosse het ons liefs maar weggebly. versigtig eet was beter. Klein treëtjies en baie geduld bly maar nog die wagwoord. Ons weet. 

'n Kameeldoringboom se delikate takke en die lieflike bosse in die agtergrond. 

 'n Rooibekneushoringvoël sit vir 'n paar sekondes stil.

Gebande muishond in die oggendson.

 Rooibokke kom drink water by een van die damme.

 'n Natalse fisant, so mooi! 

'n  Mikstertbyvanger bo in die boom. 

 'n Dassie kyk vir my. Daar is so baie dassies op Dikhololo, pa's, ma's en kleingoed. Interessant was dit om te luister na hul luidrugtige roep oral tussen die klipkoppies. 

 'n Vroulike dassievoël wip-wip naby ons hut. Dis 'n kleinerige voëltjie met die mooiste kleure.

Bontkiewiete is volop by die waterplasse. Hul Engelse naam "Blacksmith Plover" is baie beskywend en sê dat hul roep soos dié van 'n hamer op 'n aambeeld klink. 

 Die natuur bly wonderlik! Hier suip 'n jong zebra aan sy ma. 

'n Pylvlekkatlagter kom kuier. Daar is nie ‘n manier dat jy nié sal weet wanneer ‘n swerm pylvlekkatlagters op pad is nie. Dit is van die Babelse verwarring van hulle gebabbel waar die voëls hulle Engelse naam ‘babbler’ kry. 

Saturday, 9 May 2015

Vasbyt!

Die Engelse het 'n spreekwoord wat lui: "Hang in there!" - Sometimes life requires us to do nothing more than to just hang in there after we face the severest of storms and difficulties. Everything happens for a reason, although we may not understand it at the time, if you hang in there, all the pieces will eventually fall where they belong. 



Ons kan so baie uit die natuur leer. Ons moet net met oop oë loop en kyk. Dié tyd van die jaar is ons perskeboom 'n lus vir die oog. Maak mens die agterdeur oop, word jy verwelkom met goud, geel, brons en koper blare, hier en daar 'n groene tussen-in wat nog wegkruipertjie speel. Skielik is ek ontsettend dankbaar dat ek kan sien. 



Moet nooit moed opgee nie. 


"Hang in there!"



 In die voortuin lê die silwereik se dooie blare soetsalig en slaap op die kaktus doringkussing. Tevrede. Geduldig. 



 Seisoene kom en gaan: geel en groen appelkoosboomblare.


Mag ons nooit ophou om met verwondering en bewondering na die natuur om ons te kyk nie. Om tyd te maak om stil te raak en te weet: ons is nooit alleen nie. God sorg vir ons. Elke dag.