Showing posts with label Pa. Show all posts
Showing posts with label Pa. Show all posts

Wednesday 13 June 2012

“Hallo Pa!”



Ek stap by die poskantoor verby die telefoonhokkie om te gaan pos uithaal en hoor die jongerige vroutjie daarbinne sê: "Hallo Pa!" Doodgewoon. Sy bel haar Pa en groet hom. Duisende mense doen dit duisende male daagliks. Hoe baie male het ek dit nie self ook gesê nie…..vir langer as vyftig jaar kon ek "Hallo Pa!" sê.  Altyd was "Hallo Pa!" 'n lekker ding om te sê.

"Hallo Pa!" toe ek in die Laerskool was en hy my teen skemeraand, as hy moeg gewerk was op die lande, met 'n lekker Pa-druk groet…toe ek 'n Hoërskoolkind was en smiddae saam met hom in sy blou Datsunbakkie gaan beeste koop het en hy my terselfdertyd leer bestuur het. Toe ek na die derde probeerslag die bakkie weer laat vrek met die wegtrek by die stopstraat, sê my altyd-geduldige Pa: "Jakob kan dit beter doen!" Met daardie woorde het hy my vir die res van my lewe genees van 'n gevrekkery en agterna het ek besef hoe 'n goeie leermeester hy was!

Toe ek op Heidelbergse Onderwyskollege was en vol blydskap naweke tuisgekom het, soggens kastig wou laat slaap en hy dan vroeg-vroeg vir my koffie in die bed bring met 'n altyd lewensblye: "Môre my ou doggie!" en ek nog deurmekaar was van die slaap….toe ek later op Barberton begin skoolhou het en soms met die trein huistoe gekom het, hom in die donker ure van die oggend as die winterwasem voor ons monde staan, op Bronkies se stasie gesoengroet het waar hy getrou in die koue vir my staan en wag het…..toe ek later in Natal gaan bly het en hom net vakansies kon sien of soms wanneer hy en my Ma kom kuier het. Dae voor die tyd was ons al opgewonde en het die kinders die slapies getel.


"Hallo Pa!" toe ons later ook hier in Bronkhorstspruit kom bly en hy soggens vroeg vir ons melk bring en ek sommer saam met hom ry tot by die skool om die Graad Eens te gaan leer. "Hallo Pa!" as ek en my kinders, wat toe nog almal skoolgegaan het, op die plot gaan kuier waar hy en my Ma so lekker gewoel en gewerk het en ons met mandjies vol groente en vrugte daar wegry na ons eie huis toe.
"Hallo Pa!" toe hy na my Ma se dood alleen en verlangend in sy woonstel sit en ek hom probeer troos.

"Hallo Pa!" 'n paar jaar gelede elke dag in die Ouetehuis se siekeboeg….en toe hy die dag voor sy dood nie meer kon praat nie, toe druk hy my hand. Dwarsdeur my hele lewe is my groet met liefde en warmte en blydskap terug begroet; "Hallo, my kind!" of "Hallo my doggie!" selfs toe ek al lankal 'n grootmens was…..altyd was ons bly om mekaar te sien!

Toe ek die sleutel in die posbus druk, breek die damwal en die wêreld word wasig. Elke keer as iemand iets goeds of moois van hom vertel wat hulle onthou of saam met hom beleef het, weet ek van vooraf hoe bevoorreg, hoe geseënd ek was. En eendag, eendag sal ek weer "Hallo Pa!" kan sê.
Ns. Vanoggend het ek weer gaan pos uithaal. Groot was my vreugde toe bg. vertelling in ons kerk se Vroueblad, Die Gereformeerde Vroueblad gepubliseer is en ek 'n boekprys wen. Die boek se naam: God het my gekies deur Ben de Klerk (geborg deur Cum boeke) My Pa is in 2005 oorlede. Vir altyd leef hy in my gedagtes.

Elizabeth Kendall ©

Tuesday 5 June 2012

Ons onthou....

Pa en Ma (1974)

3 Junie…’n dag wanneer winter gewoonlik wit op die grasperk lê, ‘n dag wanneer mens weet dis nou maar eers die begin van nog baie koue dae vorentoe. Dit knyp met ysvingers aan jou bene as jy die hekkie vir die ousie gaan oopsluit. Teen die buitemuur staan die kannas modderbruin en jy wonder of jy dit nie maar kort moet afsny nie. ‘n Dooie blaar is so heeltemal dood. 

Maar 3 Junie is vir my en my kinders ook ‘n onthoudag. Ons onthou heerlike saamkuiers by ‘n gedekte tafel met eetgoed wat jou mond laat water. Nog ‘n koppie tee. ‘n Koppie, nie ‘n beker nie. En ‘n mooi koppie, Royal Albert se fyn porselein met lieflike blommetjies op. Tee proe mos net baie lekkerder in so ‘n mooi koppie.  

Ons onthou haar lag, haar omgee, haar menswees. Ons onthou haar sorg, haar mooi rokke, haar wit hare, haar netheid. Ons onthou haar liefde vir alles wat mooi was: haar musiek, haar boeke, haar kinders en kleinkinders. Ons onthou haar liefde vir haar man. Ons sien hulle blywees in ons gedagtes. Ons bêre dit in ons harte, vir altyd. Ons verjaar nog ‘n jaar saam met haar. 

3 Junie is ‘n wonderlike warm dag aan die begin van nog ‘n geseënde winter, want ons onthou my Ma. 

Elizabeth Kendall ©

Tuesday 29 May 2012

Nag




ek kon die stilte hoor
net die sleutels op die swart bord
wat saggies keel skoonmaak

'n dofgeluid van 'n ver-kar -

en verder niks

dis vroegherfs om my arms...
het vergeet om te onthou
dat dit dalk koelerig
hier voor tussen die verf,
die nat skilderye
en die baie foto's van naby-mense
gaan wees

sal ek die ou trui van my Pa
uit die kas haal en my toekokon -
so papie-beskut
aan hom vasklou
en met geslote oë
net bewus wees van sy nabyheid

en verder niks

Elizabeth Kendall ©