Showing posts with label siekte. Show all posts
Showing posts with label siekte. Show all posts

Wednesday 13 August 2014

Dis die lewe.

11 Augustus 2014.
My Pa het altyd gesê die lewe is nie 'n piekniek nie. Dis asof ons marionette in ‘n poppespel geword het. Trek dié toutjie, dan maak ek so. Trek daai toutjie, dan maak ek sus. Meganies. Op elke stukkie nuwe ervaring reageer ons sonder om té veel te dink. Dink is skielik nie meer so lekker nie. Slaap is lekker. Wegraak. Onbewus wees. Onbewus van jou worsteling, jou stryd, myne.
Besig wees is ‘n antwoord. Maar wat van jou? Jy kan nie nou besig wees nie. Jy is net. En daar buite wag die wêreld vir niemand nie. Die son kom op. Die son gaan onder. Dis nuustyd, ontbyttyd, middagete, aandete. Kos proe na niks.
Ek hou jou hand in myne. Ek bid vir jou vir ‘n rustige nag. Ek bid dat God jou moet genees. As Hy wil. Jou klere word al groter. Jy word al kleiner. Die siekte hang oor jou soos ‘n onweerswolk. Dis in jou bene, jou arms, jou hele lyf. Die dokter sê dis net op jou long. Jou regterlong. Kanker. ‘n Skrikmaakwoord van altyd af.  ‘n Bangmaaksiekte.
Mense bel of stuur boodskappe. Baie vra vrae. Ons antwoord uit die dokter se mond. Ons sê die woorde op soos ‘n resitasie. Onkologie. Chemoterapie. Bestraling. Siklus. Bloed trek. Biopsie. Party mense stuur Bybelversies op whattsapp of facebook. Die min familie wat oor is, vou ons toe in hul omgee. Ou vriende van lankal word weer splinternuut. Kennisse stel belang, bemoedig. Vreemdes bid. Alles troos. Elke klein gebaar van omgee en liefde word vasgegryp en gedeel. Dankbaar.
As ‘n nuwe dag begin, vul Hy ons harte met nuwe hoop. In die tuin begin die eerste tekens van ‘n nuwe seisoen. Lente. Uitbundig lag ligpers gesiggies in die pot. Ek spuit die vaal gras nat, maak die voëls se waterbakke vol. ‘n Snik ruk deur my lyf, kloof my hart. My liefste Chris.
12 Augustus 2014. Vandag word Liesl geopereer. My Bokkiekind. Ses minute jonger as haar tweelingboetie. Ses minute kan soms so ‘n groot verskil maak. Tumor in die spinale koord. Vandag se bult is steil, maar die Here help ons tree vir tree. Ek weet dit net. 
Toe jy vanoggend opstaan, lyk jy beter. Nie gesond nie, net beter. Beter as gister. Ek maak vir jou roereier met stukkies skaapvleis in. Jy eet alles op. Ons hou hande vas as ons bid. Ons bidwoorde vlieg  partymaal sommer so sonder koers die dag in. Gedagtes met vlerke. Hoop hou nooit op nie.
Die whatsappgroep wat John en Liesl begin het om almal op hoogte te hou van haar vordering,  is bedrywig. Kort-kort pieng my foon. Toe sy uiteindelik uit die teater is, is ek dankbaar en verlig. Toe John ‘n foto stuur van haar, jubel my hart. Prys die Here, die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Vanmiddag maak ek kos. Een koppie rys, twee en ‘n halwe koppie water, ‘n knippie sout, ‘n bietjie botter. Vier stukkies steak in die pan, groente in ‘n ander kastrol. Ek maak die groente te gou gaar. Die rys prut nog. Totaal uit oefening met die kosmakery, maar ek sal leer. Hoeveel jaar is dit nie nou al dat jy my bederf het en ek nooit aan kosmaak gedink het nie? Amper twee dekades. Dis net ‘n kwessie van goeie tydsberekening, sê jy geduldig.
(Hy eet weer alles op, sê my kos proe lekker. My gentleman.)
Laatmiddag sit ons rustig en rooibostee drink onder die appelkoosboom. Die honde speel naby ons, knibbel  en lek aan mekaar. Ou Hagar gooi sy swart Labradorpoot oor Brakkies se worshondlyfie. Liefdevol, beskermend.