Showing posts with label poetry. Show all posts
Showing posts with label poetry. Show all posts

Thursday 3 May 2012

Sedertdien

Water! Water is lewe. Een van die heel lekkerste dinge op my skilder-spyskaart is om met 'n paletmes te verf en veral WATER. Daar is so baie moontlikhede. Hier is een van my kunswerke: die see iewers in ons mooi land, iewers in my verbeelding!



Sedertdien

Breek oor my soos branders
woel my wortels los,
word my stormseë
groei op my soos mos

Gooi my luike oop
brand 'n wierookkers
berei vir ons 'n ete
met note en met vers

Leef 'n lewe saam my
sing jou liefdeslied
koester al ons drome
niks is ooit verniet

Sluit nou oop my deure
trap jou spore vas
niks is meer dieselfde
as wat dit vroeër was

Elizabeth Kendall  ©

Tuesday 1 May 2012

Blou

Ek verf 'n blou prent:
(dis nie 'n grou prent)
blou rivier, blou lug, blou bome
en oor alles gooi ek 'n wit sneeulaken
van ver-verlang

ek sou so graag binne-in my prent in wou loop
om vreemde wêrelde te gaan verken,
wêrelde wat mens net op foto's sien
as jy soveel sikkels silwer soos ek verdien

ek sou sneeuskoene met skaapwol binne
en dik, warm wolsokkies aan my voete wou trek,
'n blou balaklava oor my gesig wou sit
en 'n jas van sabelbont sag om my lyf wou vou

ek sou die lug, so breekbaar, dun en koud,
diep wou inasem en met warm handskoenhande
aan die sneeu wou vat en dalk miskien,
miskien sou ek 'n bloedrooi blokkieskombers
onder een van die bome gooi
en jou gulhartig nooi om saam met my
na die ysblou lug te staar, want dalk
net dààr word vreemde drome
sommer eensklaps waar

Elizabeth Kendall ©

Monday 30 April 2012

Kaalvoet Klonkie

Verflenterde kaalvoet klonkie
wat groente verkoop in die reën,
met jou lelike skurwe tone
en jou lendelam hoepelbeen,
jy kom met jou venterliedjie
deur die mistige Kaapse straat
en helder sing jy die woorde
op jou eie koddige maat:
Lekka, lekka ywe,
laat die ghantang naderskywe!
Tamaties en ywe vars van die Strand
en baie kiri slam by die huis se kant!

Jy kom uit die deel van die Kanaldorp
waar die dieners gewapend moet gaan
en die weerlig van `n skeermeslem
In `n donker hoek neer mag slaan.
Miskien kon jy :"Bismillah” sê
vanmôre, omdat in die kas
wat dae lank so leeg moet bly,
daar weer `n broodjie was?

Of dink jy al aan Nuwejaar
as die troepe deur Waalstraat stroom
van die Bo-Kaap na die Onder-Kaap
langs die stomp van die slaweboom?

Is dit wat jou so laat bokspring
en dans op jou hoepelbeen,
verflenterde kaalvoet klonkie,
as jy groente verkoop in die reën?

Ek hou van jou vrolike klanke
waarmee jy die winter tart.
Sing jy hierdie ligte deuntjie
bo `n somberte in jou hart?

En as jy op na die Boereplein
met jou boepens-mandjie gaan,
dan trek jou parmantige liedjie
deur die strate agter jou aan:

Lekka, lekka ywe,
laat die ghantang naderskywe!
Tamaties en ywe vars van die Strand
en baie kiri slam by die huis se kant!


I.D. du Plessis


'n Potlood-en penskets op koffiebevlekte papier.

Betekenis van woorde:
ghantang: vryer
kiri slam: groete
venterliedjie: verkoopliedjie
dieners: polisie

bismillah: dankie

Sunday 29 April 2012

Gestroop

Ek bewe binne maar U weet dit
my bewe dam op in my oë
tot daar waar twyfel groei tot glo
en ek my Vader in die Hemel bid:
weer vreugde in my hart te sit
Elizabeth Kendall ©

Saturday 28 April 2012

Digbundel: Huppel op die Hoogland


 Gepubliseer op 20 Augustus 2010. Die voorblad is een van my paletmes-kunswerke. Dankie aan almal vir jul ondersteuning op my skrywerspad. Alle eer aan my Skepper.

Wanneer 'n plaaskind wat baie geborge en veilig in 'n huis vol liefde grootgeword het, die lewe tref, verstaan jy nie altyd alles nie. Die lewe word 'n pelgrimstog deur driwwe en dale, oor hoogtes en ver verby horisonne.
Bittersoet lê hope herinneringe van 'n lewe geleef met oorgawe. Al die getye van menswees word in dié debuutbundel ontbloot
.

Depicted here – my first published work, a book on Afrikaans poetry published on 20 August 2010 – truly a labour of love and a dream come true for me!

On the cover is a photograph of one of my own paintings – again, what a wonderful moment to enjoy the fruit of my labour captured in two memorable and lasting mediums. This is truly more than any artist could ever hope to aspire to.

May I take this opportunity to thank all who inspire and encourage me in my work – I am sure that many of you do not even realise that you are a part of this, but I thank you for all the special moments!
This work took approximately two years to complete, with the printing and layout taking exactly nine months – perhaps there is a special symbolism in the nine months, as to me this is truly the birth of something wonderful.

The book is available for sale. (you can mail me for more info)