Showing posts with label oil. Show all posts
Showing posts with label oil. Show all posts

Tuesday 1 May 2012

Blou

Ek verf 'n blou prent:
(dis nie 'n grou prent)
blou rivier, blou lug, blou bome
en oor alles gooi ek 'n wit sneeulaken
van ver-verlang

ek sou so graag binne-in my prent in wou loop
om vreemde wêrelde te gaan verken,
wêrelde wat mens net op foto's sien
as jy soveel sikkels silwer soos ek verdien

ek sou sneeuskoene met skaapwol binne
en dik, warm wolsokkies aan my voete wou trek,
'n blou balaklava oor my gesig wou sit
en 'n jas van sabelbont sag om my lyf wou vou

ek sou die lug, so breekbaar, dun en koud,
diep wou inasem en met warm handskoenhande
aan die sneeu wou vat en dalk miskien,
miskien sou ek 'n bloedrooi blokkieskombers
onder een van die bome gooi
en jou gulhartig nooi om saam met my
na die ysblou lug te staar, want dalk
net dààr word vreemde drome
sommer eensklaps waar

Elizabeth Kendall ©

Monday 30 April 2012

Ons land

Waar soggens vroeg oranje-geel
die son oor gras en bosse streel

waar kierieklapper en karee
hul eenvoud skoon aan almal gee

het ek my hart toe wéér verloor
my liefhê-land, my siel bekoor…

deur leegtes en verbrande gras
oor heuwels teen 'n slakkepas

geluister hoe die wind deur oop vensters praat,
gesien hoe 'n kiewiet wip-wip na sy maat…

en altyddeur geweet:

my land is mooi, my land is goed
my land pomp deur my hart se bloed
Elizabeth Kendall ©

Sunday 29 April 2012

Gestroop

Ek bewe binne maar U weet dit
my bewe dam op in my oë
tot daar waar twyfel groei tot glo
en ek my Vader in die Hemel bid:
weer vreugde in my hart te sit
Elizabeth Kendall ©

Saturday 28 April 2012

Iewers


Ek droom van ‘n vissershuis

met ‘n rietdak

langs die bloudam

en ‘n goudgeel duin

waar die sand

deur my tone

bruinsuiker

die son

oor my kaal skouers

ramba en riel

en ek

skulpe optel

dit teen my oor hou

en toe-oog

dink

aan jou

Elizabeth Kendall ©