Showing posts with label feet. Show all posts
Showing posts with label feet. Show all posts

Monday 30 April 2012

Kaalvoet Klonkie

Verflenterde kaalvoet klonkie
wat groente verkoop in die reën,
met jou lelike skurwe tone
en jou lendelam hoepelbeen,
jy kom met jou venterliedjie
deur die mistige Kaapse straat
en helder sing jy die woorde
op jou eie koddige maat:
Lekka, lekka ywe,
laat die ghantang naderskywe!
Tamaties en ywe vars van die Strand
en baie kiri slam by die huis se kant!

Jy kom uit die deel van die Kanaldorp
waar die dieners gewapend moet gaan
en die weerlig van `n skeermeslem
In `n donker hoek neer mag slaan.
Miskien kon jy :"Bismillah” sê
vanmôre, omdat in die kas
wat dae lank so leeg moet bly,
daar weer `n broodjie was?

Of dink jy al aan Nuwejaar
as die troepe deur Waalstraat stroom
van die Bo-Kaap na die Onder-Kaap
langs die stomp van die slaweboom?

Is dit wat jou so laat bokspring
en dans op jou hoepelbeen,
verflenterde kaalvoet klonkie,
as jy groente verkoop in die reën?

Ek hou van jou vrolike klanke
waarmee jy die winter tart.
Sing jy hierdie ligte deuntjie
bo `n somberte in jou hart?

En as jy op na die Boereplein
met jou boepens-mandjie gaan,
dan trek jou parmantige liedjie
deur die strate agter jou aan:

Lekka, lekka ywe,
laat die ghantang naderskywe!
Tamaties en ywe vars van die Strand
en baie kiri slam by die huis se kant!


I.D. du Plessis


'n Potlood-en penskets op koffiebevlekte papier.

Betekenis van woorde:
ghantang: vryer
kiri slam: groete
venterliedjie: verkoopliedjie
dieners: polisie

bismillah: dankie