Showing posts with label natuur. Show all posts
Showing posts with label natuur. Show all posts

Saturday 22 June 2013

Soms mag mens niks doen

Salige Saterdag. Heeldag. Die huis is koud. Buite skyn 'n winterson. Ek sien vreemde swartblou voëls wat my woestynrosies sit en kou. Hulle lyk na spreeus. Daar moet iets lekker in 'n woestynroos se blaar wees, want dis nie die eerste keer dat ek voëls betrap wat so heerlik sit en peusel nie. Die kwêvoëls dink ook dis hul spesiale lekkerny.
 
Ek het vandag tyd. Wat 'n heerlikheid is dit nie! Ek kyk op na die ysblou lug. Die boomtakke, kaal soos koue vingers, maak hul eie prentjies.



Hoe mooi lyk die wit takke van die "Pride of India" nie teen die oop, skoon en blou lug nie. 'n Groot vrede kom lê in my binneste en vanoggend se bekende stilwees-woorde uit Jesaja 41: 10 kry sommer weer nuwe betekenis.
 
 
Elke seisoen het sy eie bekoring. Winter in Bronkhorstspruit kan knypkoud raak. Tog weet ons die aarde moet ook ruskans kry.
 
 
Die feit dat my rose dié tyd van die jaar nog in volle blom langs die paadjie hek toe staan, is een heerlike bonus. Ek put soveel genot daaruit!
 
 
In die agtertuin jubel die "Just Joeys" in hul oranjerooi rokkies en maak my hart winterwarm en bly.
 

Op die draadtafel by die voordeur waar die son soggens louwarm kom lêplek soek, blom die kaktus steeds...'n lieflikheid om te aanskou in die winterkoue. Hoe dikwels beloon die natuur ons nie. Spatsels kleur tussen die dorheid en die vaaltes. Nes ons lewens. Ons moet net tyd maak om dit te waardeer en weer 'n slag raak te sien.

 

Tuesday 9 April 2013

Die goeie grond

Om in die tuin te werk is en bly 'n fees. Om skoon te maak, te hark, te spit, die goeie grond tussen jou vingers te voel....dis genade.  "O om boer te wees wat werk met sy hande in die son.." het W.E. G. Louw eens op 'n tyd gedig. Ek sou ook sommer digterlik kon raak oor die reuk van grond, die diep, bevredigende gevoel wat "werk in die son" by 'n mens bring.

Gister was so 'n dag: die héérlike weer wat ons die afgelope dae geniet het, het natuurlik grootliks bygedra. Nie wind nie, nie te warm nie, nie koud nie...sommer net reg!! En al speel die jare en die lyf nie meer so honderd persent saam nie, die gees is so, so gewillig! Ek het dit ook aan my ou getroue tuinjong se optrede agtergekom. Hy het mondogras geplant op 'n plek waar niks wou groei nie. En daar waar die tuin "woes en leeg" was, het dit na 'n ruk sommer lieflik gelyk! Iewers tussen-in merk hy so terloops op: "Au, my bene, hy's seer!" Ek weet hy kla nie verniet nie. Tog maak hy dit klaar. So mooi.



In die agterplaas haal ons onkruid uit, ek skuif die pot waarin 'n "ponytail" nou al vir jare groei, onder die perskeboom in, plant 'n paar vetplante. En weet dit gaan een van die dae mooi vol wees. Dankbare en maklike plante om te onderhou en die bekoring wat hulle inhou, is onbeperk! Ek verkyk my aan die res van die tuin waar daar so baie van hierdie vetplante welig groei.

 
 


 
By die fontein verlustig ek my in die songeel magrietjies. Ek wil hierdie seisoen vashou met albei hande, dit teen my hart druk, die lug daagliks diep inasem. As die yskoue winter aan die deur kom klop, wil ek terughuppel na hierdie heerlike louwarm sonskyndae.  
 
Dae waarin koper sonstrale op die silwereik se blare kom lê, dae waarin kleure soos geel, oranje en rooi die hoofrol speel tussen die takke van die baie bome hier in ons erf.
 
Op 'n stomp onder die karob staan die blikeend is haar blarerok en wag. Swartoog Susantjies rank welig om die bliklyfie en maak my hart bly.
 
Die natuur se kunswerk....'n ou stomp vol strepe en patrone.
 
Teen skemer klim die son agter die bure se heiningmuur in en gooi sy sagte strale oor die tuin. Die voëls se "voerkoppie" hang donker afge-ets teen die lug. Die lewe is mooi. En my hart is vol dankbaarheid vir nog 'n heerlike herfsdag.
 
 
 
 

 
 

Wednesday 13 February 2013

Kom ons kyk kiekies

So lank as wat ek kan onthou, was 'n kamera en foto's neem een van die heel lekkerste dinge op aarde vir my om te doen. Ek onthou nog so goed ek was omtrent in St. 7 iewers rond toe ek van my spaargeld vir my my eerste eie kamera gekoop het. Dit was 'n Kodak Brownie. Vir my gelykstaande aan 'n wonderwerk! Nietemin, sedertdien het daar heelwat beter modelle gevolg en telkens het ek my verlustig in die genot wat 'n kiekie kan bring.
Vandag neem ons foto's en bêre dit op ons rekenaars. Die digitale kameras maak alles soveel makliker....tog mis ek die gevoel van 'n foto-album vol herinneringe wat ek kan vashou en koester in my hande. Nie dat daar 'n gebrek aan sulke items in my huis is nie....daar is rakke vol albums, jare se leef-ervaringe vasgeplak en gestoor vir die nageslag. En taamlik dikwels blaai ons deur dié albums en geniet alles weer van voor af.
Ons was onlangs in die Bosveld anderkant Nylstroom en kamera in die hand, het ek die skoonheid van hierdie stuk wêreld ingedrink en vasgekiek vir ewig. Kom geniet die mooi van God se Skepping saam met my.....
 

Ou Bloukoppie daar teen die muur
is dit 'n muggie waarna jy so gluur?
 
 
Die growwe stam van 'n doppruim, 'n blinkblaar wag-'n-bietjie, 'n soetdoring of 'n kurkbasklapper......almal ewe uniek, almal ewe mooi.
 

"Kwêêêê!" roep die grys loerie sy kenmerkende Bosveldroep....
 
 
...en bloukopkoggelmander luister
 

Nêrens is die lug so blou, so skoon soos hier in die bosse nie en sou 'n mens opkyk, raak jy bewus van jou eie kleinheid.

 
Tarentaal vertel 'n ou verhaal
van kruiwawiel se tjierietjier -
spikkelveer roep poelpetaan
oor rant en vlei die donkermaan
dan pik-pik hy
en skrop soel somers pienktoon oop
daar waar hy ouman ver
sy paadjie saam-saam loop
Elizabeth Kendall ©
 
 
 

Ons land
Waar soggens vroeg oranje-geel
die son oor gras en bosse streel
waar kierieklapper en karee
hul eenvoud skoon aan almal gee
het ek my hart toe wéér verloor
my liefhê-land, my siel bekoor…

deur leegtes en verbrande gras
oor heuwels teen 'n slakkepas
geluister hoe die wind deur oop vensters praat,
gesien hoe 'n kiewiet wip-wip na sy maat…
en altyddeur geweet:
my land is mooi, my land is goed
my land pomp deur my hart se bloed
Elizabeth Kendall ©

  
Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort...
- Prediker 11:6
 

 
 

Onbegryplik groot 
“Nou kan jy weer bly word, “ sê hy en kyk na my -
na lange jare saam is daar wêrelde van verstaan
ja ek kan weer sing en skaterlag
ribbokrats oor rante klim
goudgeel stukke sonlig sluk

en opkyk na die wolke blou daarbo 
 ’n twyfelaar wat glo
Elizabeth Kendall ©



Dis knoetse en knobbels en krake...
 
en sandpaadjies tussen graspolle....
 
Ruik jy die vars lug, hoor jy die roep van 'n houtkapper, voel jy die stilte om jou vou soos 'n sagkombers?
 

Hier is dit rustig. Hier kan jy net jy wees.
 

 




 Wie het die waters in die holte van Sy hand afgemeet, met die breedte van Sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? Jesaja 40.


 
 
 
Hoog oor die water skommel die vinkies
Vol van die vreug van die somerdag...
C. Louis Leipoldt.
 
 
 
'n  Bosveldvisvanger teen die hemelblou
 
 
en 'n kakelaar wat kan kekkelpraat van smôrens vroeg tot sawens laat...
 

.....moet van akkedissies nie vergeet
 

of pienkrooi naaldekokers wat mos alles weet !
 


 
Die hoep-hoep met sy vere bruin en swart
het my lank doodstil laat staan,
verwonderd en verbaas het ek gekyk
hoe hy met sy lang snawel
sappige wurms uit die grond uit grou,
hom niks gesteur aan my en jou.
 
 
 
 Teen skemeraand het ons saam met die bottergatjie op die blou stoele langs die swembad gaan sit -
ons het gesels, gelag
en ook miskien gebid...
 
 
 
Ons batterye is weer gelaai, ons harte is lig en die lewe is 'n lied.