Tuesday 9 April 2013

Die goeie grond

Om in die tuin te werk is en bly 'n fees. Om skoon te maak, te hark, te spit, die goeie grond tussen jou vingers te voel....dis genade.  "O om boer te wees wat werk met sy hande in die son.." het W.E. G. Louw eens op 'n tyd gedig. Ek sou ook sommer digterlik kon raak oor die reuk van grond, die diep, bevredigende gevoel wat "werk in die son" by 'n mens bring.

Gister was so 'n dag: die héérlike weer wat ons die afgelope dae geniet het, het natuurlik grootliks bygedra. Nie wind nie, nie te warm nie, nie koud nie...sommer net reg!! En al speel die jare en die lyf nie meer so honderd persent saam nie, die gees is so, so gewillig! Ek het dit ook aan my ou getroue tuinjong se optrede agtergekom. Hy het mondogras geplant op 'n plek waar niks wou groei nie. En daar waar die tuin "woes en leeg" was, het dit na 'n ruk sommer lieflik gelyk! Iewers tussen-in merk hy so terloops op: "Au, my bene, hy's seer!" Ek weet hy kla nie verniet nie. Tog maak hy dit klaar. So mooi.



In die agterplaas haal ons onkruid uit, ek skuif die pot waarin 'n "ponytail" nou al vir jare groei, onder die perskeboom in, plant 'n paar vetplante. En weet dit gaan een van die dae mooi vol wees. Dankbare en maklike plante om te onderhou en die bekoring wat hulle inhou, is onbeperk! Ek verkyk my aan die res van die tuin waar daar so baie van hierdie vetplante welig groei.

 
 


 
By die fontein verlustig ek my in die songeel magrietjies. Ek wil hierdie seisoen vashou met albei hande, dit teen my hart druk, die lug daagliks diep inasem. As die yskoue winter aan die deur kom klop, wil ek terughuppel na hierdie heerlike louwarm sonskyndae.  
 
Dae waarin koper sonstrale op die silwereik se blare kom lê, dae waarin kleure soos geel, oranje en rooi die hoofrol speel tussen die takke van die baie bome hier in ons erf.
 
Op 'n stomp onder die karob staan die blikeend is haar blarerok en wag. Swartoog Susantjies rank welig om die bliklyfie en maak my hart bly.
 
Die natuur se kunswerk....'n ou stomp vol strepe en patrone.
 
Teen skemer klim die son agter die bure se heiningmuur in en gooi sy sagte strale oor die tuin. Die voëls se "voerkoppie" hang donker afge-ets teen die lug. Die lewe is mooi. En my hart is vol dankbaarheid vir nog 'n heerlike herfsdag.
 
 
 
 

 
 

4 comments:

  1. Herfs is definitief ook my gunsteling seisoen Liz en ek dink die tuin stem saam. Al die bome en plante is vreugdevol en mens kan sien hoe hulle gereed maak vir 'n welverdiende rus na 'n besige somer. Dankie vir die mooi foto's, 'n ware fees om te sien hoe jou tuin groei en verander oor die jare!

    ReplyDelete
    Replies
    1. So bly jy het my woorde en foto's geniet, baie dankie Maree!

      Delete
    2. Dit is 'n ware oogfees Liza. Het die kuiertjie in jou tuin ongelooflik geniet. Hoop die kommentaar kom by jou uit nooi. Lief dit!

      Delete
    3. Baie dankie Raai, heerlik om jou hier raak te lees en so bly jy kon ook geniet!! Groete.

      Delete