Showing posts with label omgee. Show all posts
Showing posts with label omgee. Show all posts

Saturday, 9 January 2016

Ek dink mens noem dit omgee.

Aan die Weskus by Lambertsbaai sit 'n digter sy vis en eet. Hy ruik die see. Hy gesels met die gawe vrou aan wie die restaurant behoort. Haar naam is Elsa. Die spyskaart val oop voor sy oë. Hy lees die woorde van 'n gedig.

 
Sy foon is byderhand. Op facebook stuur hy 'n boodskap. "Pieng!" sê my foon.

"Daar is drie van jou verse in haar spyskaart, sy en haar suster lees jou blog en lief jou verse."
 
Môre vlieg my ver-kinders weer huistoe. My hart ry skoppelmaai. Die Kaap is nie agter die eerste graspol nie. Ek waardeer my vriend se woorde. Ek waardeer Elsa en haar suster. Ek skryf dié mooiste storie nou op my blog. Ek dink mens noem dit omgee.

Friday, 6 February 2015

“Hoe gaan dit met Chris?”

So baie maal moes ek dié vraag die afgelope ses maande beantwoord. So baie maal het ek probeer om ‘n positiewe antwoord te gee. Ek glo daaraan om nie toe te laat dat omstandighede of beproewings of wat ookal ‘n mens moet onderkry nie. Dat as mens positief dink en bid en glo, dit wel beter sal word. Lees ons dit dan nie telkens weer in ons Bybels ook raak nie: “Ek sal jou nooit verlaat nie. Ek help jou. Ek versterk jou. Ek gee jou krag.”

Dis nou ses maande sedert daardie dag waarop ons die skrikmaaknuus gehoor het: longkanker. Daar was dae waarop ons net asseblief en dankie kon sê. In die oggende: “Wees asseblief by ons” en saans: “Dankie dat U by ons was.” Net een dag. Elke dag. Een dag was genoeg. “My juk is sag en My las is lig.” Môre was weer ‘n nuwe dag. En so het ses maande verbygegaan. Ses maande is ‘n halwe jaar.

En hoe gaan dit nou met Chris? Chris lees weer, Chris kyk nuus, Chris loop in die tuin rond, hy sien die rooi blomme van die miniatuur “bottlebrush” raak, hy hoor die voëls fluit. (sy gehoor is aangetas, harde geluide maak sy ore seer) Sy hande voel soms “dood”, snags pyn sy bene en/of sy hakskene. Hy is so maer. So broos. Hy word gou moeg. Maar Chris eet. Sy kos bly binne. Die metaalsmaak in sy mond is nog nie heeltemal weg nie. Hy drink steeds saam met elke maaltyd glase water en kry die kos so sluk-sluk in. Maar hy bly maer. Malvapoeding en vla is bo-aan sy lys van lekkernye.  Salig sag gly dit keellangs. Strelend soet en heerlik. Ek sou dit vir hom wil gee vir ontbyt, middag-en aandete. Net omdat ek die lekkers in sy lewe meer wil maak.

Sy hare het net mooi begin groei, toe moes hy  tien opeenvolgende en voorkomende breinbestralings kry. Van vooraf kaalkop. Weer oor begin. Maar Chris hou moed, sy gees is sterk. Ek is so trots op hom. Hy kla nie. Saans lees ons Bybel, soek ankers en boeie om aan vas te klou….en kry dit. Telkens. Hoe ons daarsonder sou asemhaal, weet ek nie. As ek tranerig raak, praat ons daaroor. As hy stil raak, hou ons uit. Hoop verdwyn net nooit. Dis elke môre nuut. 


Ons harte is vol dankbaarheid oor ons naby-mense se omgee en liefde. Oor vreemdes en bekendes se belangstelling, oor bemoediging uit baie oorde. Ons het geleer hoe belangrik dit is om bly te word oor klein stukkies genade. Ons het geleer hoe kosbaar elke dag is. Ons het geleer om mekaar meer te waardeer. Oor ‘n maand sal ek hopelik met ‘n wye glimlag in my hart en op my mond, kan antwoord: “Dit gaan baie goed met Chris, baie dankie!” 


Ek het dikwels gedigte geskryf oor wat met ons aan't gebeure was en is. Skryf is baie maal terapie.
Draaipunt

dehidreer
urineer
diarree
hospitalisasie
rolstoel
opname
kateter
bloed trek
x-strale
broos, bleek, swak
geloof, hoop, sterk
saal 8
drup
doek
versorg
vrede
huistoe
wolke
krag -
God stuur ons  eerste somerreën
Elizabeth Kendall ©
25 Oktober 2014

Friday, 20 December 2013

Amper Kersfees

Vir dae is ek al besig om te dink. Te dink wat om te doen dié Kersfees. Ietsie anders. Iets wat nie geld kos nie. Ek en my tuinman ry vroegdag begraafplaas toe. Ek verkyk my aan die groot ou dennebome se mooi stamme. Ons tel 'n sak vol dennebolle op. Ek het 'n plan daarmee.
 
In die eetkamer wag die witgeverfde tak, halfklaar. Ek bind rooi strikkies en maak sterre van koerantpapier en karton. Ek hang dit aan my "boom". Ons gaan nie presente gee vanjaar nie. Ons het gelukkig baie liefde om uit te deel vir mekaar.
 
 




 
Ek was die wit skulpe wat buite op 'n stomp in die tuin gelê het, nog witter en pak dit op uit die buffet. Die liggies word opgehang en aangeskakel. My lantern kry 'n kers. Die vlammetjie jubel jolig daar binne.
 
 

 
In die enamelbak lê al die dennebolle knus en kuier. Hand-om-die-lyf met mekaar. Die wit melkbeker kry blompot-status. Opgetelde erdvarkpenne verander in Krismisblomme. 
 
2013 se Kersfees gaan heerlik wees.
 
 
 
 
 
Liefde trap mooi spore oraloor.

Sunday, 27 May 2012

Bede


My gebed kry vlerke
tot by jou

daar ver

my woorde
spoel oor jou angs

jou vrees

jou ego

my bidwoorde vou jou toe
lig jou op

jou oë blink
van trane

jy fluister

Sy Naam

© Elizabeth Kendall