Showing posts with label Bronkhorstspruit. Show all posts
Showing posts with label Bronkhorstspruit. Show all posts

Friday 28 September 2012

My omgewing


Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die akkerboom het haar mooiste groen rok aangetrek. Smiddae na half vyf kom lê die sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi bakstene van die outydse vensterbank vas.  

 
Onder die karee lag oranjerooi boslelies oopmond. ‘n Geelvink bou sy nes bo aan een van die dunste takkies. Stukkies gras en blare val grond toe. ‘n Lyster wip oor die grasperk. Sy geel snawel blink in die son.

Oranje botterblomme en persblou gesiggies groei welig in die bedding naby die voëls se waterbak. Ek pluk ‘n takkie roosmaryn af en vryf dit tussen duim en voorvingers. Die geur daarvan klou aan my hande vas.
 
 
n Motor ry verby ons huis. Iemand druk bont advertensieblaaie in die gleuf by die voorhekkie. Die duiwe vlieg fladderend weg. Ons swart hond blaf hard. Iewers lui ‘n telefoon . 

Ek maak die deur oop en stap my werkkamer binne. ‘n Ligte windjie laat die gordyn by die oop venster beweeg. “Twiet twieteriet!” fluit ‘n mossie buite in die tuin.  Dis somer in Bronkhorstspruit.
 

Wednesday 23 May 2012

Van garage na voorportaal


Die volgende handvlyt artikel wat ons by ons plaaslike VLU-tak kan ingee, is 'n versierde potplanthouer. Met my vulpen maak ek 'n regmerkie langs dié artikel in my Jaarprogram. En in my gedagtes woel die idees: waarmee sal ek dit versier, waar gaan ek 'n pot kry....ek WIL dit doen! In die garage val my oog op 'n boepenspot waarvan die verf al afgeskilfer het. Dit staan net daar.

Verwaarloos.  Verwese.  Verlate.   Alleen.

Ek gryp die pot met 'n lied in my hart, was dit mooi skoon in die wasbak op die agterstoep. Nou gaan die pret begin. Ek grawe in die kas in my werkkamer tussen allerlei bêre-goed: mosïeksteentjies, stukkies lint, skoenveters...julle weet mos. Die knopeblik! Aangesien ek nie juis enige naaldwerk doen, buiten om my man se hemde of broeke se af knope nou en dan aan te werk nie, kan ek nou heerlik uitsoek tussen 'n groot verskeidenheid knope.

Ek plak die steentjies en knope met koue lym op die rand van die pot vas. Toe maak ek teëlsement aan en smeer dit sommer met my kaal hande oral oor die pot, nes 'n mens 'n baba se boudjies vol room smeer. Nou moet dit eers staan en droog word. Intussen doen ek ander dinge. Mens moet mos geduld hê in die lewe... die volgende dag verf ek dit oker, die kleur van klei uit die aarde. Weer droog word...verf weer met roesbruin. Ryk en lekker.

Later verf ek swart by, speel te heerlik en maak patrone. Met 'n kalligrafiepen druk ek goue kolletjies al om die rand van die patroon. Nou lyk dit sommer spiekeries! Ek maak die mosaïeksteentjies mooi skoon met 'n klam lap. Die pot is droog. Ek bekyk dit van 'n afstand af: nêrens in die hele wêreld is daar nog so 'n pot nie. My pot kry 'n ereplek op die kiaathoutafel met die bal-en-kloupote wat ek lankal terug by Tannie Lydia gekoop het. Dit staan in die voorportaal en wag om elke volgende besoeker met 'n warm glimlag te verwelkom. 'n Potplanthouer wat status gekry het.

Elizabeth Kendall ©