Friday 28 September 2012

My omgewing


Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die akkerboom het haar mooiste groen rok aangetrek. Smiddae na half vyf kom lê die sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi bakstene van die outydse vensterbank vas.  

 
Onder die karee lag oranjerooi boslelies oopmond. ‘n Geelvink bou sy nes bo aan een van die dunste takkies. Stukkies gras en blare val grond toe. ‘n Lyster wip oor die grasperk. Sy geel snawel blink in die son.

Oranje botterblomme en persblou gesiggies groei welig in die bedding naby die voëls se waterbak. Ek pluk ‘n takkie roosmaryn af en vryf dit tussen duim en voorvingers. Die geur daarvan klou aan my hande vas.
 
 
n Motor ry verby ons huis. Iemand druk bont advertensieblaaie in die gleuf by die voorhekkie. Die duiwe vlieg fladderend weg. Ons swart hond blaf hard. Iewers lui ‘n telefoon . 

Ek maak die deur oop en stap my werkkamer binne. ‘n Ligte windjie laat die gordyn by die oop venster beweeg. “Twiet twieteriet!” fluit ‘n mossie buite in die tuin.  Dis somer in Bronkhorstspruit.
 

2 comments:

  1. Dis tog te heerlik om somer se groen te beleef! En jou blog lyk nou net so vrolik!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Maree, 'n lekker kompliment wat ek waardeer!

      Delete