Sunday 12 January 2014

Die verrassings in die lewe

Dis Sondag. Dis vyf uur in die oggend. My Brakkies-worshond slaap langs die bed op sy kussing, maar hierdie nag was nie 'n rustige een nie. Hy het kort-kort ore geskud. Soms sommer net regop gesit en die toekoms ingestaar. Bedremmeld. Ek kon sien iets pla. Nie geweet wat nie.

Dit was warm.  Nà elke oreklap-sessie was ek vanselfsprekend wakker. Om dan maar weer in te sluimer. En weer wakker te word. Iewers in die diep, donker nag het hy "tip-tip-tip" oor die plankvloer paradeer, maar ek was toe ver weg in droomland en het hom nie gevolg nie.

Toe ek weer hoor, krap hy teen die bed se kant, al asof hy wil sê: "Mammie, daar het iets vreesliks gebeur!" Ek staan op, skakel die lig aan, helder wakker. "Brakkies, wat gaan met jou aan vannag?" Hy kyk my met sy mensogies aan. Sê nie 'n dooie woord nie. Ek strompel taamlik deur die vaak na die voorportaal.....daar lê dit! Ai tog.

"Ek het oorgekook!" het een van my Graad Eens op 'n dag gesê toe sy opgegooi het. Dìt was toe nou al die tyd die probleem. Ek sluit die deur oop en laat my liewe ou hondjie uitgaan. Die donker nag in. Toe maak ek maar skoon daar waar hy gemors het. Soos 'n goeie ma doen. Dit pla my nie in die minste nie. Hoe kan hy ook nou help? Hy is net 'n hondjie. Hy is my hondjie.



Nà die middernagtelike bedrywighede tree wonderlike rus en kalmte toe darem in en slaap ons heerlik tot.....vyf uur! Toe hy wéér ore skud. Dié keer net omdat dit lekker is om lang worshondoortjies te skud en nie omdat iets pla nie!

Nouja, sò het dié dag toe nou maar begin en nà my eie skriflesing-en-gebed opening het ek kans gesien daarvoor! Oudergewoonte kyk ek toe op RedBubble wat die jongste nuus daar is. Hoe heerlik.
Tori Yule, die gasvrou van Feminine Intent, stuur  'n boodskap dat ek hulle jongste erkende lid is. Tori woon ver oor die diep blou waters in Amerika, my hart klop warm blydskapkloppe hier in Bronkhorstspruit! Dankbaar. Star of the month is 'n altevolle lekker sterretjie om te wees! Dankie Tori, ek gaan jou waarskynlik nooit in my lewe ontmoet nie, maar jy het my dag lieflik ingekleur! 


A river in Africa, een van my paletmes-skilderye. Wat 'n lekker verrassing!

Sunday 5 January 2014

Vetplante en kaktusse


My liefde vir vetplante en kaktusse is besig om daagliks te groei. Om ’n vetplanttuin te maak is een lang heerlikheid. Vetplante verg so min aandag. Wanneer hulle blom, word jy ryklik beloon daarmee. 
Hier is ‘n “Bishop’s Cap” of Astrophytum Myriostigna in blom. Een hele dag se vreugde!

Elke kaktus het ’n bekoring van sy eie. Kaktusse is inheems aan die Amerikas en word meestal in Mexiko, dele van Kalifornië en in droë streke in Suid-Amerika, Argentinië, Chili en Peru aangetref. Die Amerikaners beweer die swaeltjies het die saad na Suid-Afrika gedra.



Die “Eve’s needle” kaktus se naam is net so lank soos hy: Austrocylindropuntia subulata. Hierdie ou grote was ‘n paar jaar gelede net so lank soos my duim. Ek het dit in die grond gedruk en siedaar! Nou staan dit teen die muur en die lang dorings skrik voornemende skelms sekerlik af. 



Vetplante en kaktusse wil volson hê vir die grootste deel van die dag. Hulle wil in goed gedreineerde grond geplant wees. Hulle  is nie dorstig nie, maar daar is wel van hulle wat water moet kry anders krul hulle blare op. Te veel water laat hulle verrot.



‘n Vetplant wat my baie na aan die hart lê, is die Kalachoe thyrsiflora of plakkie. Hierdie een het sommer baie name: meelplakkie, geelplakkie, “Desert Cabbage”, “White Lady” of dalk die bekendste naam van almal: “flapjacks” soos in plaatkoekies. Dit is baie dankbare plante hierdie. Ek het besluit om hierdie plante oral in my tuin waar niks anders wil groei nie, te plant.  Hulle benodig baie min water en moenie te veel kry nie, anders verloor hulle hul kenmerkende rooi randjie om die blare.



Die meeste vetplante is gehard en van hulle kan ryptoestande weerstaan. Hier by my is hulle in potte en sommer oraloor in die tuin geplant. 


Hier  bo is ‘n Sedum Rubrotinctum of "Pork and Beans". Hulle groei maklik en vinnig en is ook ‘n gawe grondbedekker. Hul blare word rooi as dit genoeg son kry. 



Die meeste vetplante is groen, maar daar is ook  ander skakerings van silwergrys, blou, room en rooi. Daar is van hulle wat in die somer groen loof het, en sodra dit begin winter raak, verkleur die blare na ’n rooi/roesbruin kleur en verkleur weer in die somer na groen. Dis regtig iets vir die oog. 




Alle kaktusse is vetplante, maar alle vetplante is nie kaktusse nie. Wat is die verskil? Daar is ‘n belangrike botaniese verskil tussen die twee groepe nl. die aanwesigheid of afwesigheid van ‘n areool d.i. fyn haartjies aan die basis van ‘n doring. Slegs kaktusse besit die areool. Kyk gerus by jou vetplante of jy die haartjies sien. (Inligting: Wat is 'n kaktus en wat is 'n vetplant?)
Haworthia fasciata, ook genoem die zebra plant, is ‘n lus vir die oog. Sy fyn, vrolike blommetjies hang half weerloos aan dun stingeltjies. Ek het onlangs 'n hele klomp van hulle uitgeplant op 'n kaal stuk grond. 



Hierdie “Old Lady” het my anderdag verras en ‘n babatjie gekry! Sy is toe nie so oud soos ons gedink het nie. Dis bedek met fyn, sagte, wit dorinkies. 



Probeer vir jou ’n vetplanttuintjie aan die gang kry. Dink net, niemand hoef daarna om te sien as jy met vakansie gaan nie, want hul kan lank sonder water oorleef en as jy terugkeer, wag daar dalk ‘n goudgeel of ligpienk verrassing vir jou! 







Daar is min dinge so lekker soos om groei en vordering te sien en veral as jy nie heeldag en aldag hoef te pamperlang nie. Hoe wonderlik is die natuur tog nie! 

Friday 27 December 2013

Ek het al dikwels voorheen in hierdie straat gestap

En toe doen ek dit vanoggend weer. Daar was 'n goeie rede. Ons straat lyk feestelik. Dis Desember en al die "Pride of India"-bome blom in verskillende kleure van wit tot donkerpienk en dieppers. Vir my is dit een van die heelmooiste bome op aarde. Hul blomme gee soveel kleur aan die dorp se andersins doodgewone strate. Dié bome word omtrent twintig meter hoog, is gehard en groei maklik. Die nie net hul blomme wat so lieflik is nie, hul stamme is ook glad en vriendelik.


 Kom stap saam met my!


 Voor ons huis hang pienk trosse blomme.



Ligroos spatsels kleur tussen die blare van die karee en die silwereik. 




'n Entjie laer in die straat af, ligpers. 


Ligroos en wit, wit, wit...
















Dit het my onwillekeurig laat dink aan die mooi lied uit "My Fair Lady": On the street where you live 

Interessante feite: Pride of India

 Lagerstroemia indica (Botaniese naam) Skubliesroos (Afrikaanse naam) Pride-of-India   
Wat 'n voorreg om te kan sien en om te geniet!

Friday 20 December 2013

Amper Kersfees

Vir dae is ek al besig om te dink. Te dink wat om te doen dié Kersfees. Ietsie anders. Iets wat nie geld kos nie. Ek en my tuinman ry vroegdag begraafplaas toe. Ek verkyk my aan die groot ou dennebome se mooi stamme. Ons tel 'n sak vol dennebolle op. Ek het 'n plan daarmee.
 
In die eetkamer wag die witgeverfde tak, halfklaar. Ek bind rooi strikkies en maak sterre van koerantpapier en karton. Ek hang dit aan my "boom". Ons gaan nie presente gee vanjaar nie. Ons het gelukkig baie liefde om uit te deel vir mekaar.
 
 




 
Ek was die wit skulpe wat buite op 'n stomp in die tuin gelê het, nog witter en pak dit op uit die buffet. Die liggies word opgehang en aangeskakel. My lantern kry 'n kers. Die vlammetjie jubel jolig daar binne.
 
 

 
In die enamelbak lê al die dennebolle knus en kuier. Hand-om-die-lyf met mekaar. Die wit melkbeker kry blompot-status. Opgetelde erdvarkpenne verander in Krismisblomme. 
 
2013 se Kersfees gaan heerlik wees.
 
 
 
 
 
Liefde trap mooi spore oraloor.