Showing posts with label appelkose. Show all posts
Showing posts with label appelkose. Show all posts

Saturday 23 November 2013

Somervreugdes

Die natuur lê my so na aan die hart. En dis nie net altyd die grootste en hoogste bome of die indrukwekkendste kranse en klowe of watervalle wat vir my die mooiste is nie. Loop ek net een maal om my huis en kyk na die eenvoudigste vetplantjie, kry ek al klaar 'n heerlike warm gevoel van vreugde in my hart. Dit beteken nie ek sou nie graag die hoë kranse wou bewonder het nie of langs 'n yslike waterval wou staan en luister hoe dit in die dieptes neerstort nie.

 
Kyk hoe skyn die lig deur die appelkoosboom se blare. Wat is lekkerder as 'n varsgeplukte appelkoos so van die boom af? My mond water alreeds net om daarna te kyk!
 
 
Weerloos wit blom een madeliefie by die fontein.
 
 
 Ek ken ongelukkig nie hierdie mooi struik se naam nie, maar elke jaar dra dit die fynste pienk blommetjies. Genoeg om my hart te verbly!
 
 
Granaatroos. 'n Mens sien dit nie meer so baie nie.

 
 Grasgroen mos teen die kareeboom se stam. En die klimop groei jaarliks meer geil.
 

                                Bloupers blom die agapante oral in die tuin. Somervreugdes!



Die kareeboom is al so lank deel van my lewe. Sy takke die tuiste vir vele geveerdes.
 
 
Jasmyn ! Die naam ruik alreeds lekker.


Vet vingertjies.
 
 
'n Baie klein en fyn blommetjie van 'n vetplantjie in 'n pot teen die muur....en in die agtergrond, die klippetuin en appelkoosboom.
Ek is dankbaar om hier te woon.
 

Tuesday 2 April 2013

'n Ou storie met 'n nuwe baadjie


 
Soos ryp appelkose.
Vandag was ‘n anderster Saterdag. Ek het iets gedoen wat ek nie gewoonlik op ‘n Saterdag doen nie. Ek doen dit nie eers gewoonlik op ‘n Maandag of ‘n Dinsdag of ‘n Woensdag nie. Ek doen dit nie eintlik nie. Ek het konfyt gekook.

Goudgeel appelkose hang ons boom vol in ons agtertuin. Ek en Bellatjie pluk soggens vóór skool ‘n handvol en eet dit sommer so in die loop kar toe as ons skooltoe moet ry. Héérlik, héérlik.

In my agterkop het ek beplan om vanjaar konfyt te kook, ons boom dra sulke heerlike vet, gesonde appelkose. Dis elke keer ‘n uitnodiging: “Toe, probeer net, dit kan nie te moeilik wees nie!” fluister ‘n stemmetjie deur die groen blare as ek verbyloop en een in my mond gooi. Ek dink aan my Ma se konfytbottels wat in rye op ons spensrak gestaan het toe ek nog kind-in-die-huis was.

Mara kom kuier by my, ons drink tee en gesels. Die appelkoosboom roep ons buitentoe. Ek vat ‘n mandjie en begin pluk, dra ‘n stoel uit en pluk dié wat hoër hang ook af. Ek pluk en pluk. Mara hou die mandjie vas. Toe dit vol is, gaan gooi sy dit uit in ‘n skottel. Ek pluk nog ‘n mandjie vol. Wie sou nou kon dink daar is so baie! En raai, dit kos nìks.

Ons gaan kook konfyt by Mara se huis. Ons luister musiek. Ons gesels. Die appelkose lê goudgeel in die kastrol en prutgeselse praat. Ek gee dit ‘n roer met die houtlepel. Skielik ruik ek my Ma se kombuis, ek hoor haar lag. Ek sien haar langs my staan. Ek knyp my oë styf toe en asem die salige onthou-geur van kokende appelkose in… in… in. Ek word weer iemand wat ‘n Ma het. Ek word weer heerlik jonk.

Ek en Mara en haar kind drink koffie, ons eet tuisgebakte hawermoutkoekies, die plaas se stiltes vou om ons op die voorstoep. Die huishondjies sit en wag vir iemand om hulle te bederf met krummeltjies koek.
Ons skep die konfyt in bottels, draai die deksels styf vas. Mara se man kom tuis:
”Hmmm, lieflike tekstuur, pragtige kleur!” terg hy. Hy smeer ‘n broodjie met goudgeel botter, plak vars konfyt daarop vas. Ons monde water en ons eet saam. Njammies!

Op pad huistoe ry ek by die begraafplaas verby. Daar staan die denneboom wat ek geplant het ses jaar gelede, yslik groot al, ek sien dit so in die verbyry. Daar is my Pa en Ma se graf.

Op die spensrak tuis staan agt bottels konfyt: goudbruin appelkose van ons eie boom. En in my hart leef my Ma en my Pa saam met elke snytjie brood waarvoor ek môre en oormôre gaan dankie-bid.

Elizabeth Kendall ©