Name kan so
interessant wees. Name van mense, plekke of dinge. Name van diere, bome,
plante. Allerlei name. Dit vertel iets, dit gee kleur, dit maak dat mens beter
verstaan.
Buite die
munisipale kantore staan motors van hier tot in Timbuktu. Mense met klagtes en
navrae en probleme, hulle sit in rye binne die gebou. Party kou kougom. Party
sit net en wag.
Om gehelp te
word, moet mens eers die boek teken. Hoe laat gaan jy in, hoe laat gaan jy uit.
Dan beduie die man in watter rigting jy moet loop om jou probleem aan te meld. Lang, oninteressante
gange. Niks moois teen die mure nie. Geen groen plante of sagte matte om die
kil kantore op te helder nie. Jy stap, dan draai jy regs, dan weer regs. Tot jy
by ‘n oop kantoordeur instap aan die einde van die gang. En daar sit sy.
Sy lyk moeg.
Groot oë en hoë wangbene, skraal gesig sit sy agter die rekenaar. Om haar lê
gister en eergister en laas maand en môre se werk in lêers en stapels papiere
oral op die lessenaar.
Toe dit jou
beurt is, verduidelik jy jou storie in Engels, die wêreldtaal. Sy praat stadig.
Stadig en geduldig. Sy doen dit elke dag. Sy help jou mooi. Sy gee raad. Ver
voor in jou eie wapad sien jy ‘n liggie flikker. Haar naam is Charity.