Showing posts with label pyn. Show all posts
Showing posts with label pyn. Show all posts

Saturday 12 May 2012

Vier keer bly!

Vier kinders is ‘n huisvol. En ‘n hartvol. Mens se hart het vier kamers. Daar’s oorgenoeg plek vir elkeen. Al is hulle lankal al gespeen. Hulle klou vas aan jou soos klitsgras. Of soos die soet reuk van die verbleikblom. Hulle menswees kan nooit uit jou hartsgedagtes uitgevee word nie. Nie eers deur ‘n wilde orkaan of ‘n stormsterk tornado nie. Hulle sit. Soos toffie aan ‘n wolkombers. Binne-in jou hart vir vreugde of vir smart.

Solank as jy lewe sal jy hulle liefhê, meer as woorde. Jou liefde is om hulle, langs hulle, onder hulle. Jou liefde vir jou kinders is jy. As jou kind seer het, pyn jy in die oortreffende trap. As jou kind bly is, verander jy in ‘n sorgelose siel en geheel die lewe is ‘n stuk saligheid.

Meer as dikwels deel jy jou kinders se doen en late met jou manmaat. Sy skouers is jou vesting, ‘n sterk bastion teen enige onverwagse aanslag.... sou stormwinde jou van koers af dwing of vrees jou oorval. Jy spyker jou woordelose kommer in flardes en flenters teen sy omgeehart se mure vas. Want déél maak einas makliker, sagter, beter. Deel maak ook vreugdes voller. Saambid is ‘n toemaartroos.

Soggens bid jy jou kinders op koers. Saans druk jy jou gedagtekombers agter hul rûe vas. Jy is bly as hulle oor jou drumpel trap. Jy jubel as Skype-beelde mense van vleis en bloed word. Iemand aan wie jy kan vat, kan vashou, kan bekyk en beluister. Jou selfoon swyg vir ‘n paar dae, sms’e is nie nodig nie. Jy troos jouself met sagte herinneringe as hulle weer koers kies na hul eie nes.

Jou lewe word ‘n kuierbymekaar met wisselende stiltes tussen-in. Soms lang afwesighede, afhangende in watter kontinent ‘n kind hom bevind. Jy sien jou eie kleuterfoto’s in kleinkinders se gesigte. Jy hoor jou ma se lag in jou kind se stem.

Jy loop haal jou Pa in die hemel en vertel hom iets moois wat ‘n kind gedoen het, iets wat jou trots en bly en gelukkig laat voel het. Jou gene vloei in die been van jou gebeente en die vlees van jou vlees.

Snags as wakker om jou skouers kom hang, skryf jy liefhêstories en verse oor nabywees. Jy skryf oor ma-wees en kindwees. Jou kinders kom klim in jou hande. Met sagte vingers tik jy soet sleutelbordwoorde. Jou liefde vou hulle toe. So lank as jy lewe. So lank as hulle spore op die aarde trap....want jou kinders is jou grootste present direk uit die hemel.

Elizabeth Kendall ©