Wednesday 13 February 2013

Kom ons kyk kiekies

So lank as wat ek kan onthou, was 'n kamera en foto's neem een van die heel lekkerste dinge op aarde vir my om te doen. Ek onthou nog so goed ek was omtrent in St. 7 iewers rond toe ek van my spaargeld vir my my eerste eie kamera gekoop het. Dit was 'n Kodak Brownie. Vir my gelykstaande aan 'n wonderwerk! Nietemin, sedertdien het daar heelwat beter modelle gevolg en telkens het ek my verlustig in die genot wat 'n kiekie kan bring.
Vandag neem ons foto's en bêre dit op ons rekenaars. Die digitale kameras maak alles soveel makliker....tog mis ek die gevoel van 'n foto-album vol herinneringe wat ek kan vashou en koester in my hande. Nie dat daar 'n gebrek aan sulke items in my huis is nie....daar is rakke vol albums, jare se leef-ervaringe vasgeplak en gestoor vir die nageslag. En taamlik dikwels blaai ons deur dié albums en geniet alles weer van voor af.
Ons was onlangs in die Bosveld anderkant Nylstroom en kamera in die hand, het ek die skoonheid van hierdie stuk wêreld ingedrink en vasgekiek vir ewig. Kom geniet die mooi van God se Skepping saam met my.....
 

Ou Bloukoppie daar teen die muur
is dit 'n muggie waarna jy so gluur?
 
 
Die growwe stam van 'n doppruim, 'n blinkblaar wag-'n-bietjie, 'n soetdoring of 'n kurkbasklapper......almal ewe uniek, almal ewe mooi.
 

"Kwêêêê!" roep die grys loerie sy kenmerkende Bosveldroep....
 
 
...en bloukopkoggelmander luister
 

Nêrens is die lug so blou, so skoon soos hier in die bosse nie en sou 'n mens opkyk, raak jy bewus van jou eie kleinheid.

 
Tarentaal vertel 'n ou verhaal
van kruiwawiel se tjierietjier -
spikkelveer roep poelpetaan
oor rant en vlei die donkermaan
dan pik-pik hy
en skrop soel somers pienktoon oop
daar waar hy ouman ver
sy paadjie saam-saam loop
Elizabeth Kendall ©
 
 
 

Ons land
Waar soggens vroeg oranje-geel
die son oor gras en bosse streel
waar kierieklapper en karee
hul eenvoud skoon aan almal gee
het ek my hart toe wéér verloor
my liefhê-land, my siel bekoor…

deur leegtes en verbrande gras
oor heuwels teen 'n slakkepas
geluister hoe die wind deur oop vensters praat,
gesien hoe 'n kiewiet wip-wip na sy maat…
en altyddeur geweet:
my land is mooi, my land is goed
my land pomp deur my hart se bloed
Elizabeth Kendall ©

  
Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort...
- Prediker 11:6
 

 
 

Onbegryplik groot 
“Nou kan jy weer bly word, “ sê hy en kyk na my -
na lange jare saam is daar wêrelde van verstaan
ja ek kan weer sing en skaterlag
ribbokrats oor rante klim
goudgeel stukke sonlig sluk

en opkyk na die wolke blou daarbo 
 ’n twyfelaar wat glo
Elizabeth Kendall ©



Dis knoetse en knobbels en krake...
 
en sandpaadjies tussen graspolle....
 
Ruik jy die vars lug, hoor jy die roep van 'n houtkapper, voel jy die stilte om jou vou soos 'n sagkombers?
 

Hier is dit rustig. Hier kan jy net jy wees.
 

 




 Wie het die waters in die holte van Sy hand afgemeet, met die breedte van Sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? Jesaja 40.


 
 
 
Hoog oor die water skommel die vinkies
Vol van die vreug van die somerdag...
C. Louis Leipoldt.
 
 
 
'n  Bosveldvisvanger teen die hemelblou
 
 
en 'n kakelaar wat kan kekkelpraat van smôrens vroeg tot sawens laat...
 

.....moet van akkedissies nie vergeet
 

of pienkrooi naaldekokers wat mos alles weet !
 


 
Die hoep-hoep met sy vere bruin en swart
het my lank doodstil laat staan,
verwonderd en verbaas het ek gekyk
hoe hy met sy lang snawel
sappige wurms uit die grond uit grou,
hom niks gesteur aan my en jou.
 
 
 
 Teen skemeraand het ons saam met die bottergatjie op die blou stoele langs die swembad gaan sit -
ons het gesels, gelag
en ook miskien gebid...
 
 
 
Ons batterye is weer gelaai, ons harte is lig en die lewe is 'n lied.
 


 
 

 

Sunday 3 February 2013

Dis weer tyd

Ek dink daar is 'n stukkie Bosveld in baie van ons. 'n Plekkie waar jy en jy alleen kan gaan sit en droom....miskien sit en versies uitdink of dalk prentjies teken in die sand. Miskien net luister na die houtkapper se prrrrrrrrrrr iewers waar jy hom nie kan sien nie, iewers bokant jou kop tussen die groen blare. 'n Plekkie om te dink. 'n Plek waar jy weer mens kan wees en oopoog  met God kan praat of net tjoepstil sit en luister.

Soms vou die verlange na so 'n plek jou heeltemal toe. Mense wat Bosveldbloed in hul are het, wil altyd weer teruggaan. Ons wil weer vroeg opstaan en in die veld gaan stap, die gras ruik, na die bome kyk, hul skurwe stamme omhels, in hul skadu's staan en opkyk na die skoon, blou lug daar bo.

As jy nie onmiddellik aan jou sielverlangens kan uiting gee nie, dan wend jy jou maar na die kwas en die verfpotte en jy skilder. Verbeeldingprentjies van Bosveldpaadjies iewers, iewers ver. Dit troos want terwyl jy skilder, word jy heeltemal deel van dit wat voor jou gestalte kry. Jy klim as't ware uit jou dorpshuis uit binne-in jou Bosveld-boendoes. Die geur van verf voed jou hunkerende honger siel. Jou dors word geles. Jou vreemde verlangens krimp kleiner.


En as jy klaar is, staan jy so 'n entjie terug en jy kyk...jy kyk na die kleure voor jou, jy ruik die bos, jy hoor die sonbesies sing.

En dan wéét jy dis weer tyd om 'n tas te pak, dis tyd om te gaan batterye laai. Al is dit net vir 'n paar dae....die bos roep en jy moet mos luister!