Friday 1 November 2013

In die somer

Gister was 'n lekker dag. Die kanse dat vandag ook een gaan wees, is goed. Ek dink die natuur en die seisoene speel 'n yslike rol wat my gemoedstemminge betref. In die somer lééf ek! Kom kuier saam met my in die tuin.
                                                               Só het gister begin:

 
Volmaakte blomme van die kaktus net hier langs die venster. Een hele dag lank blom dit uitbundig. En almal wat dit sien, word dadelik bly. Nie net vir een dag nie, sommer vir lank.
 

Wie op aarde sal nie vir 'n paar minute gaan stil staan en net bewonder as so-iets moois voor jou oë verskyn nie? Iets anders wat my ook heeltemal bly maak, is al die verskillende vetplante in my tuin. "Dankbare plante" noem baie mense dit. Altyd gelukkig. Altyd mooi.

 
Ek ken nie al die name nie, maar geniet en waardeer elke een!
In 'n ronde bak groei hierdie kaktus met sy klein, wit dorinkies nou al vir jare.
Nouja hier is die geleerde naam! Opuntia Microdasys.
Ek dink mens kan dit in Afrikaans seker maar "Haas-oortjies" noem.


                         Dit het al gebeur dat al hierdie ronde bolletjies pienk blomme dra.
 
 
Hierdie vetplant lyk baie soos iets wat onder in die see kan lewe. Cotyledon orbiculata (varkoor /honde-oor)  Ons het dit onlangs uitgedun en ek was verstom oor die baie nuwe blare. Die tuin sorg vir homself. As mens dit mooi oppas, hoef jy nie hope geld te spandeer aan nuwe plante nie.


                            Tussen bruin en wit klippies en knus teenmekaar lê hulle dag na dag.
Tevrede en bly.
 
 
Vygies vol geel blomme, 'n lus vir die oog!

 
Intussen het dié doring ook 'n baba gekry.


              Geliefde woestynrosies. Lank terug het ek vyf of ses gehad, nou het ek baie!

 
 Die fynste blommetjies aan die punte van dun, dun  stingels.
 Hawortia (miniatuur aalwyne)  (Dankie Maree vir die inligting, ek sal dit nou onthou!)
 

                                                                 'n Hele versameling!



 
 Die miniatuur "bottle brushies" het gesukkel waar dit geplant was. Gister het ek dit oorgeplant in hierdie pot vol heerlike, ryk potgrond. Hou duimvas! Die vetplantjies wat vroeër hier gegroei het, het verhuis na kaal kolle oral in die tuin....om daar hul plekke vol te staan!

 
               'n  Massiewe monster!! Sal seker nog eendag net so hoog soos die muur groei. Intussen het ek uitgevind dat garingbome net een keer blom. Garingbome is almal vetplante, groei redelik stadig, maar word jaar ná jaar groter. In dié tyd bou dit ’n goeie voorraad energie op en wanneer dit ’n sekere grootte bereik, gebruik dit die energie om die enkele bloeiwyse te vorm en soveel moontlik saad te kan versprei. Daar is darem troos ook. Die meeste van hierdie vetplantsoorte het ’n alternatiewe vegetatiewe voortplantingstelsel waarop dit altyd kan teruggeval. Dié bystand is in die vorm van klein rosette wat aan die plant se basis vorm. Dit kan afgesny en uitgeplant word. Ek en ou Jacob het al dikwels van hierdie kleiner plantjies aan die buitekant van die erf langs die muur verplant.  Eendag ver vorentoe, sal almal so groot soos dié ene wees!

 
 Vet vingertjies groei geil... een van my vele gunstelinge!
 
 
 Ek het hierdie rotsrosies mooi styf teenmekaar ingepak, die pot se onderkant wat gebreek is, so verdoesel.
 
 
 Nog 'n gunsteling! Uitgeplant in twee goedkoop potte.
 


 Naby die waterbak waar voëls dikwels kom kuier, sal hulle heerlik kan groei en die grond bedek.


 
 

 En hier sien jy die hele prentjie!
 
Jasmyn hang oor die muur. As jy instap, ruik jy die heerlike, soet reuk.
 
 Soos stroopsoet skoolkinders langs mekaar..... geplant op 'n kaal kol.
 


 
 Ek ken dié een as 'n "Flappie"....het dit 'n ander naam?
Was verras om blomme te sien!
 


 
 My groen tuin.
 

Nog stukkies tuin, rose wat blom...


 
 Skulpe op 'n stomp, elkeen vertel 'n storie.
 



 
 'n Granaatroos. Hierdie struik groei al donkiejare lank in my tuin, ek dink my Ma het dit nog hier geplant!
 
 
 Pienk salie in 'n pot langs die huis.
 
 
 Laventel.
 



 
Die aand word pienk. 'n Sagte dag eindig so mooi soos dit begin het. En ek sê dankie dat ek kon werk en lewe en vars lug en sonskyn kon geniet!
 
The fact that I can plant a seed and it becomes a flower,
share a bit of knowledge and it becomes another’s,
smile at someone and receive a smile in return,
are to me continual spiritual exercises.
Leo Buscaglia
 


6 comments:

  1. Wat 'n wonderlike gesig om te aanskou en ook om sommer die hele prentjie, al jou harde werk, te sien! En ek het nie geweet jy het ook 'Bunny Ears'-kaktusse nie, en wat sommer buite groei! Heelwaarskynlik kry julle nie so baie ryp soos ons nie. En as ek mag sê, jou "onder-see" plante is Cotyledon orbiculata, lyk my ek sal moet steggies kom haal daar by jou! En jou Haworthia met 'Die fynste blommetjies aan die punte van dun, dun stingels' is te pragtig, myne het nog nooit geblom nie, hoe kry jy dit reg?! Het jy geweet jou (massiewe) Garingboom gaan doodgaan net nadat dit geblom het? Sad, but true! Dankie vir hierdie mooi wys, het dit vreeslik geniet!

    ReplyDelete
    Replies
    1. O jaaa, ek het toe "Bunny ears" in my tuin. Ek dink hulle is redelik bekut daar teen die buitemuur en kry lekker warm middagson, somer en winter. Dankie vir die naam van my ondersee-plante. Ek gaan dit probeer onthou. Jy is so welkom om te kom haal, ek het baie! Dis ook verblydend om te weet dat die klein Haworthias se blommetjies vir jou spesiaal is. Jy kan van myne kom haal, miskien blom dit dan vir jou ook! Die garingboom het nog nooit geblom nie, dit groei nog net heeltyd. Wanneer gaan dit blom? Dankie dat jy jou kennis met my deel!! Dit maak tuinmaak net soveel lekkerder!

      Delete
  2. Hi Elizabeth... Wat 'n mooi blog!

    EK bly in Noordwes en wil graag weet of mens steggies van die Karee boom kan maak?
    Ek het klomp jonges in my tuin en het plek vir nog.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hallo Robbie, ek waardeer jou inloer en mooi kompliment oor my blog, dankie! Maar of mens steggies van 'n karee kan maak, weet ek nie, ek dink jy moet vir Ernst van Jaarsveld vra wat gereeld in die Beeld skryf en raad gee. Ek het net een groot kareeboom in my tuin, dit staan een hele hoek vol!

      Delete
  3. Goeie môre ek wil graag weet moet daar kompos in die bedding gewerk word saam met sand voordat ek my bedding woestynrosies plant? Verder hoegereeld water
    Dankie

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hallo Katrine, Ja met kompos inwerk is daar nooit fout nie. Een maal per week water is oorgenoeg. Lekker plant!

      Delete