Showing posts with label hart. Show all posts
Showing posts with label hart. Show all posts

Wednesday 6 June 2012

Ma-wees.

‘n Ma se hart is ‘n snaakse ding, dit wil altoos weet waar en hoe en wat. Dis nou oor haar kinders. Waar is hulle, hoe gaan hulle regkom, wat doen hulle. Is hulle gelukkig? Miskien is dit die belangrikste. Is hulle gelukkig? Want as hulle gelukkig is, is sy ook gelukkig. Gelukkig en bly. En lekker om te ken.
Laat weet kinders hulle kom kuier, dan bokspring ‘n ma se hart sommer in haar keel. Sy maak beskuitblikke vol, sy gooi ‘n skoon, bloedrooi tafeldoek oor die ronde tafel in die kombuis. Sy hou die voorhekkie dop.
Haar kinders is lankal nie meer kinders nie, maar altyd bly hulle hare. Sy vou steeds saans die sagkombers styf agter hul rug in al is hulle ver van haar hande af. Sy bid hulle steeds koersvas op die regte paaie, gee hulle soggens as die dag breek vir haar Here en haar God.  En tussendeur onthou sy baie dinge. Kleintydsêgoed…onthoudinge vir altyd en eendag.
Kinders hoef nie ‘n week lank by jou te kuier as hulle al grootmense geword het nie. Kort kuiertjies is wonderlik, balsem vir ‘n moederhart. Om hulle te sien, vas te hou, saam te lag en lekker te gesels oor ditjies en datjies is meer as genoeg vir enige ma se vrolike voortbestaan op Moederaarde.
En ry hulle weer en jy loop alleen terug huis toe, kom lê daar ‘n saligheid en ‘n blywees en ‘n diep dankie in jou binnekamers. Net omdat jy weet jy het die voorreg om ‘n ma genoem te mag word.
Elizabeth Kendall ©

Ma-wees
Nes 'n welkom reënbui op droë grond
is suikersoet die goeie nuus
uit ‘n kind se mond,
verkwik haar siel, haar binnemens
gee blyweesklank aan elke wens
want smôrens vroeg, voor hanekraai
het sy hul een vir een geabba,
 by haar God en Here af gaan laai…
Hom gesmeek, gevra, gebid
hul skrede op die regte pad te sit,
hul hand te vat en hul te lei
tot daar waar vrede vatplek kry
en as sy dan die antwoord duidelik hoor
sing al die eng’le saam ‘n jubelkoor
want in haar klein gebed
was slegs een enkel woord heelbo:
dis die woordjie “Glo”
Elizabeth Kendall ©