Showing posts with label klippetuin. Show all posts
Showing posts with label klippetuin. Show all posts

Saturday 28 September 2013

Niemand gaan klippe kou nie!


27 September 2013.  Wat ‘n heerlikheid op aarde is dit tog nie om, noudat dit weer warmer is, in die tuin te kan vroetel nie! Gister was so ‘n dag. Ek het gewag  vir my kinders wat van Engeland en die lughawe af sou kom. Vanselfsprekend kon ek  van pure opgewondenheid nie vir een oomblik stilsit nie. Ek moes net iets konstruktiefs vind om myself mee besig te hou.

Soos julle almal weet, ‘n tuin het voortdurend aandag nodig . Daar is maar altyd iets wat verander, geskuif, uitgehaal, omgespit, skoon geskoffel, natgemaak of sommer net geniet kan word.  Altyd.

Ek het onlangs die mondogras wat “swaar trek” (soos my Ousie sou sê) onder die appelkoosboom, laat uithaal. Om elke dag na dié dapper, onsuksesvolle groeipoging en agteruitgang te kyk, was net nie meer ‘n plesier nie. Ek en ou Jacob het dit toe op ‘n ander meer geskikte en sonniger plek geplant en was heel in ons skik daarmee.

My liewe klein worshond, Brakenjan, kon sy oë nie glo toe hy die yslike stuk aarde sien waar hy nou na hartelus kan grou en grawe nie....en niemand raas eers nie. Sy jagtersinstink het totaal oorgeneem en binne ‘n dag of twee het dit erger as ‘n omgeploegde land gelyk. Ek het besef ek sal ‘n plan moet maak, maar wat? Niks wil eintlik daar groei nie.
‘n Goue oomblik het aangebreek toe ek onthou hoe baie klippe in hierdie erf van ons lê. Klippe wat ek gekoop, gekry of wat vir my aangery is. Klippe wat  saam met my getrek het uit ander provinsies, iewers ingesmokkel omdat dit spesiale betekenis vir my het. Klippe wat my hart en tuin vol lê.  Baie van hierdie skatte lê egter tans weggesteek onder geilgroeiende vetplante of struike. ‘n Tuin staan mos nie stil nie.
 

Tussen stekerige dorings en vetplante grawe ons ‘n hele klomp van hierdie hoekige, gepunte klippe uit en pak dit onder die appelkoosboom. En net daar neem my verbeelding oor. Ek maak al die gladde, gestreepte Letsitele-klippe (by Chris se broer present gekry toe hulle Pretoria toe verhuis het)  bymekaar en pak hulle soos bruin broodjies langs die puntklippe.
 
Toe gaan haal ek my tweelingklippe. Lange jare gelede het Wilhelm en Liesl, skaars baksteenhoogte, elkeen vir hul Ma ‘n yslike klip aangedra waar ons iewers by die see vakansie gehou het omdat hulle toe al geweet het. Ek het hierdie twee taamlik groot, witterige klippe seker noual bykans agt-en-twintig jaar lank in my tuin(e). Waar ek gaan, gaan hulle ook. My lewenslange metgeselle, nes Rut se skoondogter.
 
Die uitpak van die verskillende kleure en vorms klippe is ‘n yslike lekkerte. Speel-speel word dit al mooier.  Jacob raak net so begeesterd soos sy “Oumies” en kom met ‘n kruiwavrag geelbruin en donkerder, plat klippe van buite af aan. Ek trek twee strepe vir hom en beduie hy moet dit tussen die strepe inpak, so goed en mooi as wat hy kan.
 
Hy doen sy bes, maar is kort-kort  buite sy “spergebied”....geduld help gelukkig en ek wys hom weer.  Toe hy dit snap, geniet hy dit amper meer as ek. En ek moet sê, ek is heel beïndruk met sy inisiatief en vindingrykheid. Ons loop ‘n draai deur die tuin en tel al die wit klippe op, pak dit in lyne en vorms. Ag dis lekker.
 
Iewers op ‘n dag het een van my kleipotte gebreek en ek het die gebreekte stukke sommer oral rondgestrooi, die patrone daarop was mooi vir my en buitendien het dit as goeie grondbedekkers gedien. Ons pak hulle soos  legkaartstukke langs mekaar. Kyk net!
 
Kort-kort was ek hande, hou die hekkie dop. Wanneer kom die kinders tog nou? Teen half twaalf is ek lyfseer van al die gebuk en gebuig. Ek loer na Jacob. Hy lyk ook nie meer so energiek soos toe ons begin het nie. Toe roep ek halt.
 
Maandag sal ons aangaan en ek gaan beslis nie klippe koop nie. As ons ons oë oopmaak en mooi kyk, gaan ons genoeg in hierdie tuin kry om al die vorms vol te pak. Boombas gaan ook nie werk nie, want “Meneertjie” gaan dit opkou. Brakkies is juis so lief vir die dennebolle wat oral rondlê. Gelukkig hoef ek nooit Pick & Pay se kougoed vir klein hondjies te koop nie...
 
Toe die kinders twaalfuur met wye glimlagte by die hekkie injubel, vergeet ek al my stywe spiere. En toe kuier ons eers! Daar moet nog heelwat klippe ingepak word voor ons kan sê ons is klaar, maar Rome is ook nou nie in een dag gebou nie. En sover lyk dit darem al na besigheid, of wat dink jy? Natuurlik is jy ook welkom om my nog meer idees te gee. Onthou net ons het honde wat wil kou.
(Word vervolg)