Showing posts with label chemo. Show all posts
Showing posts with label chemo. Show all posts

Saturday 20 September 2014

Terapeuties

Om te kan skryf oor dié dinge wat naby jou hart lê, is terapeuties, sê dié wat weet. Mense vind aanklank in jou woorde. Mense deel ook dan makliker hulle diep verhale met jou. Ek kan my so dikwels verwonder aan die skakel wat daar is tussen mens en mens. Die bewuswording van ons eendersheid, ons weerloosheid, ons menswees. Die besef dat alles op aarde net tydelik is, van verbygaande aard. En die wete dat ons die beste uit elke dag en elke geleentheid moet haal. Ons lewe net een maal. 

Vanoggend skryf ek toe maar 'n gedig vir jou my man. Vandag was 'n minder aangename dag nà laas week se chemo. Maar daar is hoop. Altyd. 

Eendag weer


hierdie dae drup een vir een
langsaam verby onder
blou bome en  bloedrooi lug
kyk hoe hang
die bloureën oor die muur vanjaar
my kaalkopman -
hoor jy die kwikstertjie,
sien jy sy wip as hy staan,
as hy gaan
wens jy ook dis al November
Elizabeth Kendall ©


Wednesday 6 August 2014

Nawinter.

3 Aug. 2014. Sondagmiddag. Dis stil. Net ek en my gedagtes. En jy speel die hoofrol. My liefste Chris. Hoe het hierdie ding gebeur? Tumor, bestraling, biopsie….nuwe,  ou woorde wat net na ons toe aangehardloop gekom het die afgelope dae, ongevraagd. Woorde wat mens eintlik nie wil hoor nie, maar dié keer het jy nie ‘n keuse nie.  Woorde wat ons nader na God bring, want nader na mekaar, dink ek kan ons nie. Ons het mekaar lief en ek bid vir jou die beste. Ons  glo vir jou die beste.

6 Aug. Gistermiddag het ons onder die kaal perskeboomtakke gesit. Dun vingers wat in die lug rond gryp bokant ons koppe.  Ons het gepraat oor “wat as” en “waarheen” . “Ons moet daaroor praat,” het jy ernstig gesê.  Ek het my trane weggevee en geluister, al wou ek nie.
Vanoggend lees ons saam Psalm 23: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil  vrees nie, want U is met my.” Ons hou hande vas. Ons bid. Ons weet ons is nie alleen nie. Dié wete is ‘n krag-inspuiting, ‘n anker, ‘n troos.
Nà elke winter kom die somer. Mag ons sààm nog baie somers beleef.