Showing posts with label afhanklik. Show all posts
Showing posts with label afhanklik. Show all posts

Tuesday 11 March 2014

Internetloos


Ek wil-wil myself jammer kry. Dis vandag die derde lang dag sonder internet. Die eerste een was nie so erg nie. Oudergewoonte was ek baie vroeg wakker en het gesien net vier van die vyf modemliggies brand. Ag tog! Ek het ge-Bybel en gebid en gekoffie en moes vroeg saam met Jolanda  ry om Pretoria Streekkonferensie van die Vroue Landbou Unie te gaan bywoon. Heimlik het ek gehoop die vier brandende modemliggies sou weer vyf wees as ek terugkeer.

Helaas! Dit was toe nie die geval nie. Ek het my diensverskaffer gebel. “Dis Escom se loadshedding!” is aan my gesê. “Dit het oral groot probleme veroorsaak! Jy sal Telkom moet bel.”

Om Telkom te bel, sit nie in elke ou se broek nie. Dié van julle wat dit al gedoen het, sal weet waarvan ek praat. “To report an existing problem, press one! “ “To do this...press two! To do that...press three!” “Klangelêngelêng!” speel onaardse musiek in my ore. “Thankyou for your patience! Our service consultants are all busy at the moment. We will answer your call as soon as a consultant is available!” Oor en oor. Oor en oor. En ek hou aan. Ek luister wraggies daarna. Oor en oor. Niemand doen moeite om die foon op te lig aan die anderkant nie. Niemand. Na ‘n uur is ek moeg.

Later probeer ek weer. Geduld is die wagwoord. Na tien minute antwoord ‘n witman. Sela. Engelse aksent. Sy naam is Chris. Amper soen ek hom dwarsdeur die telefoon. Hy vra ek moet die modem afskakel. Ek doen dit. Skakel weer aan. Hy toets dit waarskynlik aan die anderkant, ek hoop en dink so. “There is a problem with the exchange!” Hy vra my selnommer. Hy sal dit rapporteer. Hulle sal vir my ‘n "fault"-nommer stuur.

“Hoe lank gaan dit vat?” vra ek die “million dollar question” op my mooiste Ingils.

“Difficult to say. Maybe tomorrow...” probeer hy my troos. Ek weet dis nie waar nie.

Dis nou al oremôre en niks het gebeur nie. O, ek het Vrydagaand ‘n sms gekry wat sê die ADSL is “restored”. Ek kyk. Nee, dit is nie. Ek stuur ‘n groot “NO” as antwoord terug aan wie ookal in ‘n droomwêreld  lewe.

Saterdagoggend het ek ‘n faultnommer per sms gekry. Die derde dag. Dit reën en reën. Niemand sal “exchanges” regmaak as dit so reën nie. Nog reën word voorspel. Intussen gaan my foon ook van die MTN netwerk af. “Yellow!” antwoord die MTN-stem. Ek wil amper sê “BLUE! Not yellow”, maar laat hulle begaan. Gelukkig word die foonprobleem redelik gou opgelos. Daar was fout met een of ander “setting”.

Ek bel my diensverskaffer om te hoor wat hy sê.

“Wat gaan aan?”

“Ons het gehoor MTN het ook gecollapse!”

Ek wil sommer ook koelêps.

My tweeling verjaar vandag. 33 jaar oud. Ek was 33 toe ek hulle gekry het. Wonderlike seëninge, altwee is gelukkig getroud. Ek stap deur die tuin, probeer om nie aan die klein-jakkalsies-wat-wingerde-opvreet te dink nie.  Dit voel asof my naelstring met die res van die wêreld afgeknip is, sommer netso, sonder enige waarskuwing. Dis goor.

Môre is Sondag. Ek het min hoop dat daar op ‘n Sondag iets gedoen gaan word om die toestand te verbeter. Wat my pla, is dat ek betaal daarvoor. Baie. En ek kry geen diens nie. Nul per mond. Ek voel soos ‘n pasiënt.  

Iewers in die nag se kleinste ure word ek wakker. Ek lees Solly se boek en ek praat met die Here.

Ek wonder oor VLU Noord se uitnodiging aan my as “Kunstenaar van die Jaar”. Ek beter begin dink wat ek gaan sê, wat ek gaan doen, wat ek gaan saamneem. Meimaand is nie meer so ver nie. Ek ruik die reën en die nattigheid in die tuin onder die donker bome toe ek Brakkies uit laat gaan om te piepie. Doodstil in die nag. Die fontein se water is die enigste geluid wat ons hoor. Dit bring vrede en kalmte. Ek gaan maak vir my koffie. Dis half vier op ‘n Sondagoggend. Daar is iets heerliks aan alleen wakker wees. Ek tel my seëninge een vir een.

En so het nog ‘n dag vebygegaan. Ek het myself besig gehou met ander dinge, met Chris gekuier en musiek geluister. Aand se kant bel ek Telkom. Om ‘n lang storie kort te maak, die knap konsultant aan die ander kant laat my toe, seker uit desperaatheid, ‘n tandestokkie in die modem druk. Sy verwys my na ‘n “high level fault”-konsultant. Lg. reken sy kan my nie help nie, my diensverskaffer moet. Ek bedank haar innig...vir niks... en sit die foon neer.

Wat was my verbasing groot, toe ek sien VYF liggies brand by die modem! Dit lyk soos “Sun City” hier onder die tafel! Jubelend skakel ek die rekenaar aan, net om weer teleurgestel te word. Google wil nie oopmaak nie, geen konneksie. Ek bel vir Anton op die heilige Sondag. “Meisiekind, daai tandestokkie het gemaak dat jy jou “password” verloor het!” Ag tog. Wat is ‘n pensioenaris nou sonder ‘n password?  Hy belowe om môre ‘n draai by my te kom maak en alles te herstel. Ek loer na die vyf troosliggies.

Vandag is môre. Die vyfde dag sonder internet. Dis Maandag en dit reën en reën. Plas-plas-plas, val die druppels hier buite op die plaveisel. ‘n Nuwe, nat dag lê voor.  Kom ons kyk wat gebeur vandag.

Hoera!! Die diensverskaffer-jongeling het Maandagoggend redelik vroeg alles kom opfix! Nuwe password ens. ingesleutel. Alles werk weer. Klopdisselboom. Of laat ek liewer sê: “connected”!

Is dit nie ‘n storie dat ons so afhanklik is van dié dinge nie? Dis maar hoe dit is in 2014. Hoe gaan dit wees oor ‘n geslag verder wonder ek...